Die dag ná die rowers opgedaag het. Johan Pienaar
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die dag ná die rowers opgedaag het - Johan Pienaar страница 5
Ja, en terwyl jy hiermee besig is, kan dit goed wees om te vra of jy nie soms die pedaal is wat ander rondom jou ál vinniger laat beweeg nie. Jou verwagtings van jou lewensmaat, kinders of werknemers kan dit dalk vir hulle onmoontlik maak om sin te soek.
Moenie wag totdat iets soos die lang sit in ’n wagkamer of tydsame drup van binneaarse voeding in ’n waakeenheid jou pas bepaal nie.
Dink vandag na oor die openingswoorde van ’n gedig, “Slow Dance”, deur ’n terminaal siek jong meisie in ’n New Yorkse hospitaal:
Have you ever watched kids on a merry-go-round,
or listened to rain slapping the ground?
Ever followed a butterfly’s erratic flight,
or gazed at the sun fading into the night?
You better slow down, don’t dance so fast,
time is short, the music won’t last.
Hier en nou
’n Skrifdeel: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges.” – Efesiërs 5:15
’n Gedagte: Ons verloor nie ons lewe wanneer ons sterf nie; ons verloor ons lewe minuut ná minuut, dag ná dag, in ’n duisend onnadenkende oomblikke. – Stephen Bennett
’n Stilhouplek: Maak vandag tyd om weg van die geraas te gaan sit en luister na wat die stemme binne jou nou vir jou vra. Skryf ’n paar woorde neer wat beskryf waar jy nóú in jou lewe is.
’n Besluit:
VANDAG 3
Hoe tel jy op?
Jy het besluit om na jou siel te gaan soek. Jy gaan dit nóú doen en nie langer uitstel nie. Jy gaan dit ook doen dáár waar jy nou leef.
Hoor net eers weer die vraag van Michael Josephson: How will the value of your days be measured? Die eerste vraag is natuurlik of daar ’n maatstaf is waarmee jy jou lewe kan meet? Dink aan Frank Sinatra se lied “My Way” met die bekende frase: “And now, the end is near …” Hoe gaan jy aan die einde van alles kan bepaal of dit die moeite werd was? Is daar ’n verskil tussen lank leef en diep leef? Om ’n antwoord hierop te kry moet ons bietjie oor tyd praat.
Die spreekwoord oor die waarheid in die mond van die suigeling is nie hier van toepassing nie! Ek vra ons vierjarige kleinseun hoe oud ek is, waarop hy my een kyk gee en vinnig sê: “O-o-o, 30!” (Dit is tot waar hy kan tel.) Hy dink ’n bietjie en frons: “En 1 000!” (Dit is die einde van die wêreld.) Hy dink weer, en toe: “Dit is hoe Oupa optel!”
Dit is een manier om jou lewe op te tel. Kom ons probeer ’n ander manier. As jy vandag jou 50ste verjaardag vier en dié berekening op dieselfde oomblik lees as toe jy 50 jaar gelede gebore is, is die volgende statistiek interessant:
Jare | 50 |
Maande | 600 |
Weke | 2 600 |
Dae | 18 251 |
Ure | 438 022 |
Minute | 26 281 302 |
Sekondes | 1 576 875 148 |
Dit is hoe ’n lewe op 50 “optel”!
Nou roep die Hemel-boekhouer jou nader om die “waarde van jou dae” (value of your days) te meet. Jy moet vir Hom verduidelik wat jy met jou pakkie tyd gemaak het. Hopelik sal jy kan sê: “Dit was 50 goeie jare. Ek het voluit geleef en dit baie geniet.” Dalk is jy een van die merkwaardige mense wat vir elke jaar ’n spesifieke opskrif kan gee.
Hy vra verder: “Kom ons praat in fyner besonderhede oor 600 maande, 2 600 weke, 18 251 dae – vertel so ’n bietjie daarvan. Wat het jy gesien, gehoor, beleef en gevier? Wie het jy ontmoet, ontvang, gehelp?” Dit is al moeiliker, maar moontlik bêre jy al jou dagboeke van kinderdae af en kan jy selfs só rekenskap gee. En dan: “Die 438 022 uur, die 26 281 302 minute en die 1 576 875 148 sekondes?”
“Met alle respek, groot Boekhouer,” antwoord jy paniekbevange, “dit is absurd. Niemand leef in soveel besonderhede nie!”
Jy kan ontspan. Hierdie somme is net om jou baie doelgerig oor tyd aan die dink te sit en nuwe waarde daaraan toe te ken.
Jy leef 946 512 000 keer
Het jy ook grootgeword met die liedjie “Kinders moenie in die water mors nie, die ou mense wil dit drink”? Ek wens hulle het ons ook van babatyd af geleer om nie met tyd te mors nie, ook nie met sekondes nie.
God leef en werk só. Wanneer Hy lig skep, laat Hy dit teen presies 299 792,458 km per sekonde beweeg. Dit is so vinnig, wanneer jy ’n flits op aarde aanskakel, kan dit binne 1,2 sekondes op die maan skyn. Vir die Vader van tyd is ’n sekonde ’n lang, láng tyd! Jy kan nie die waarde van jou lewe leer ken as jy nie die waarde van ’n sekonde begin ontdek nie.
Waak daarteen om in die algemeen te leef. As jy moet terugkyk en sug dat jy nie weet waar die dag, week of jaar heen is nie, het dit tyd geword om sekonde vir sekonde te leef. In Lewis Carroll se boek, Alice in Wonderland, vra Alice: “Hoe lank is vir altyd?” Dan antwoord die Wit Haas betekenisvol: “Soms net ’n sekonde lank.” As jy ná vandag nog 30 jaar leef, moet jy 946 512 000 keer leef!
Dalk laat hierdie berekenings jou kop steeds draai.
Sekonde vir sekonde leef? 946 512 000 keer? Hoe doen ’n mens dit?
Die Bybel gee wonderlike riglyne.
Alles op die regte tyd
Een van die bekendste preke oor tyd is seker die een in Prediker 3:1-8: “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te plant, ’n tyd om plante uit te trek, ’n tyd om ’n lewe te neem, ’n tyd om ’n lewe te red, ’n tyd om af te breek, ’n tyd om te bou, ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans, ’n tyd om klippe weg te gooi, ’n tyd om hulle bymekaar te maak, ’n tyd om te omhels, ’n tyd om weg te bly van omhelsing af, ’n tyd om aan te skaf, ’n tyd om te laat wegraak, ’n tyd om te spaar, ’n tyd om weg te gooi, ’n tyd om te skeur, ’n tyd om toe te werk, ’n tyd om stil te bly, ’n tyd om te praat, ’n tyd om lief te hê, ’n tyd om te haat, ’n tyd vir oorlog, ’n tyd vir vrede.”
In God se koninkryk het elke ding ’n bepaalde tyd; vir alles is daar ’n spesifieke en spesiale blokkie. Begin en skep ook vir elke ding die regte plek – plek vir jou werk en ’n eie heilige ruimte vir jou gesin. En vir jouself genoeg ruimte om jou batterye te herlaai. Geniet die tyd wanneer jy op Facebook rondblaai, maar sit jou iPad neer wanneer jou kind voor jou kom staan. Gebruik al die moderne tegnologie om jou dagboeke met dié van jou beroep