Die dag ná die rowers opgedaag het. Johan Pienaar
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die dag ná die rowers opgedaag het - Johan Pienaar страница 7
Sommige predikante het ’n skynbaar sadistiese behae daarin om te preek oor die aarde as jammerdal, die dal van doodskaduwee van Psalm 23, en dan sleep hulle die hele gemeente saam die donker dal in. Dan het ek maar probeer klou aan die groenigheid en die waters waarvan Dawid net ’n paar verse verder praat.
Hy en jy mag (met goeie reg) protesteer teen ’n somber godsdiens.
Ek woon ’n paar jaar gelede ’n erediens in Ciprus by. Ondanks al die kerse en kandelare wat gebrand het, was dit donker, baie donker. Voor het ’n priester sy liturgieë en formuliere voorgehou en in die banke agter sy rug het ’n paar ou tannies gesit. Terwyl hy daar voor besig was, het ek gewonder of hy enigsins verstaan hoe ons hart smag na ’n warm, positiewe diens oor die lewe.
Terug by die huis wys ek in ’n erediens skilderye wat deur die eeue oor Jesus gemaak is en ek hou die gesigte van die mense voor my dop. Die eerste was ’n baie realistiese afbeelding van Jesus aan die kruis en ek sien hoe mense wegkyk. Daarna volg die oorweldigende Christ the Redeemer-standbeeld (in Rio de Janeiro) met sy koue oë. Almal kyk uitdrukkingloos na die skerm. Die volgende een is ’n Kinderbybelprentjie van die goeie Herder en dit is duidelik hoe ieder en elk ver paaie terugloop. Hierna flits ’n skildery van ’n laggende Jesus – Jesus wat uitbundig en met oorgawe lag.
Skielik sit almal regop en begin ook glimlag.
Kan dit wees dat ons tog met ’n veronderstelling loop dat godsdiens swaar en donker moet wees? Kan dit wees dat die prentjie wat ons van God het een is van ’n ou man met ’n diep frons en opgehewe vinger wat net wag om ons te straf vir al ons foute? Is jy bang om Hom met jou hier en nou te vertrou omdat Hy die God is wat klein kindertjies laat knyp wanneer hulle rondskuif in die erediens?
Weer eens is dit nie hoe die Bybel oor Hom praat nie.
In die eerste bladsye van die geskiedenis staan God, roep triomfantelik en alles word mooi: Laat daar lig wees … blomme wees … voëls wees … lewe wees! Jesus kom by ’n bruilof en maak die beste wyn, en dít in oorvloed. Hy druk kinders teen Hom vas en seën hulle. Hy knyp sy oë toe en sit terwyl ’n vrou ’n hele fles olie oor Hom uitgooi. Hy nooi mense om hul laste by Hom af te pak en vry weg te stap. Hy vermeerder die brood en vissies dermate dat mense hulle trommeldik eet.
Is dit nie wat Hy aan die kruis van Golgota kom wys het nie? Kon Hy harder en duideliker wys hoe lief Hy jou werklik het? Kan jy steeds wonder of daar iemand is wat Hy nie wil omhels nie? Hoor die hoofletters van Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
God wil nie ten eerste weet hoe groot jou sonde en ellende is nie. Sy groot vraag aan jou is of jy weet hoe lief Hy jou vandag het – daar waar jy is.
God = Lewe
Die afstand is oorbrug. Jesus het op ’n feesdag tussen mense gaan staan met die uitnodiging: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh 7:37-38). Híér en nóú!
Om sinvol te kan leef moet jy die bevrydende prentjie in jou lewe ophang van ’n Jesus wat sy hart oopmaak en sê: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10). Die tydvorm van die belofte? Teenwoordige tyd. Ek het gekom sodat jy lewe kan hê – híér en nóú!
Luister na sy hartklop en bid:
Ons Vader wat in die hemel is,
ek wil nie langer bang wees om te misluk
of uit te brand nie.
Ek besluit om voluit te leef,
om my nou oop te maak –
minder bevrees,
meer toeganklik,
om my hart los te maak
totdat dit ’n vlerk word,
’n fakkel, ’n belofte.
Ek kies om vandag te waag;
om vandag te leef
sodat dít wat na my toe kom as saad
verder gaan as ’n bloeisel
en dít wat vandag na my toe kom as ’n bloeisel
verder gaan as vrug.
Dit alles omdat U my liefhet!
Hier en nou
’n Skrifdeel: “God het immers weer ’n dag bepaal, naamlik ‘vandag’ …” – Hebreërs 4:7
’n Gedagte: Om vandag te leef is so opwindend, ek het nie tyd om enigiets anders te doen nie. – Emily Dickinson
’n Stilhouplek: Dink ’n bietjie na oor jou siening van God en die lewe. Hoe lyk die prentjies waarmee jy grootgeword het?
’n Besluit:
VANDAG 5
Smul aan God se genade
Kom ons kyk na nog ’n prentjie – een wat aansluit by die vorige gesprek.
In die Santa Maria delle Grazie-klooster in Milaan hang die bekende Die Laaste Avondmaal waarin 13 nagmaalgangers op stoele agter ’n gedekte tafel sit. In die middel sit ’n plegtige maar effens teruggetrokke Christus met ses dissipels aan elke kant. Alles baie netjies en baie afgerond.
Dit het Leonardo da Vinci twee jaar geneem om dit te skilder, maar die skildery oefen al die afgelope 500 jaar ’n groot invloed uit op hoe mense oor die nagmaal van Jesus en sy dissipels, asook oor nagmaal in die algemeen, dink.
Kom ons teken ’n prentjie van ’n radikaal ander nagmaal.
Die tafel is nie die normale lengte waaraan so agt ooms (na gelang van hul omtrek) saam met die dominee kan aansit nie, maar strek letterlik lewenslank tot net anderkant waar die ewigheid begin. Verder is die tafeldoek nie die gewone gestyfde een met ’n fyn net bo-oor nie, maar een in al die kleure van die reënboog. Loer jy wat in die beker en borde is, sien jy wyn en brood, maar ook ’n magdom ander bederfkos – tot oorlopens toe! Daarmee saam is daar by elke sitplek ’n kaartjie met ’n naam op en onderaan jou naam staan in uitbundige vetdruk geskryf: Kom smul aan God se genade.
Die belangrikste is dat Jesus steeds by die ereplek staan, maar met ’n groot glimlag en oop arms wat jou nader wink.
Op soek na sin moet jy weer en weer by die tafel gaan aansit!
Wat beteken die prentjie?
Almal wat aan ’n kerk behoort, begin om in sekere stadium sakramente te gebruik. Jy leer in die proses ook wat ’n sakrament is. In die Katolieke Kerk sou jy leer dat ’n sakrament ’n uitwendige teken van die verlossing is wat Jesus Christus aan sy Kerk gegee het. Vir die Evangelies-Lutherse Kerk is sakramente tekens waardeur God die mens binnekom. Die Gereformeerdes vra in die Heidelbergse Kategismus: “Wat is sakramente?” en antwoord: “Dit is heilige, sigbare tekens en seëls wat God ingestel het