Dan kom die eensaamheid. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Dan kom die eensaamheid - Louisa du Toit страница 4
Sy wonder wat haar ma se antwoord op Manus se versoek gaan wees. Wat sal sy sê oor ’n skielike kuiery by die Bruwers op Donkervlei?
“Naand, tant Nellie,” kry Manus nou eers in. “Ja, my ma wil hê Hantie moet haar bietjie kom help om my maniere te leer.” Hy gryp die flits en lig haar reg in die oë. Sy keer en kla laggend, totdat sy sy arm beetgegryp kry. Dis ’n intense sensasie, haar klein hand om sy sterk voorarm.
“Toe nou, julle.” Nellie se woorde bring hulle tot stilte. Daar is iets soos benoudheid in haar stem, asof sy vrees om met soveel ligtelikheid om te gaan, nie sal weet hoe om dit te hanteer nie. Haar eie lewe was nooit speels nie, haar huwelik sekerlik die minste van alles. Hantie het haar pa en ma nog nooit liefdevol aan mekaar sien vat nie.
Die jongmense bedaar. Dan, asof Manus besluit het om dwarsdeur te druk, vervolg hy: “Eintlik verjaar my pa mos Maandag en my ma wil bietjie klaarmaak en die bure vir môreaand al uitnooi. Sy het gevra of Hantie nie asseblief daar kan kom oorslaap en bietjie handgee nie. Hantie het by tannie so baie van kos geleer,” voeg hy ietwat vleiend by.
Nellie is onkant gevang. ’n Oproep om hulp weier ’n mens nie maklik nie. Dit gaan om werk, goeie arbeid, en dis outonoom, die hoogste wet. Maar sy besef ook dat dit hier nie soseer om die hondjie is nie as om die halsbandjie. Sy vermoed dit lankal, al was die kuiery kastig by Boet. Hantie het nog nooit juis uitgeslaap nie, behalwe die jare van koshuislewe wat verby is. Sy is huisvas en stil.
“Wat van jou werk môre?” gooi sy wal.
“Dis my los Saterdag, Ma weet mos.” Een keer per maand gebeur dit. Chris Klopper, haar werkgewer, is ’n ouerige maar goeie man, een met ’n hart. Hy het self volwasse kinders en leef met hulle mee.
Die oomblik raak lank uitgerek, spanningsvol, met ’n onderstroming van kloppende drif terwyl die twee jongmense stuwend op ’n antwoord wag. Sy voel die spanning, sy, Nellie Hasper. ’n Vrou met wye ervaring is sy nie, maar sy weet wat sy weet.
“Jong, Manus, ek weet nou nie,” sê sy uiteindelik twyfelend. “Môre is soos ’n gewone werksdag by ons.” Anders as by julle, is haar onuitgesproke oordeel.
“Ek sal vir Boet omkoop om vir Ma te help groente sny en kerf.” Boet hou veral daarvan om aartappelskyfies te maak, met die eenvoudige toestel wat dit netjies doen, hoewel dit iets van ’n kragvertoning verg. Groente voorberei is nogal iets waarmee haar pa ook soms help, met sy knipmes fyn en netjies op die kerfbord. Hy hou van tyd verwyl, want niks groters word van hom verwag terwyl hy hiermee besig is nie.
Nellie laat toe dat Manus die skottel met groente vir haar dra. Hy is jonk en sterk en sy vaste greep maak Nellie se hulp opsigtelik onnodig. Dis asof hierdie feit die deurslag gee; asof hierdie vrou wat nog nooit die fisieke vermoëns van haar man of seun in haar eie huis wou erken nie, nou voor hierdie sterker krag van buite swig.
“Nou laat ek nog ’n bietjie dink,” sug sy en kyk na Hantie, asof sy late hulp uit daardie oord verwag. Dat Hantie iets moet sê soos: Of dalk gaan ek liewer ’n ander naweek, as Ma my nie so nodig hier het nie.
Die flitslig het Nellie reeds ter wille van besparing afgeskakel, maar daar is genoeg skemerlig oor om haar dogter se gesig te kan lees. Sy besef finaal dat sy aan die verloorkant is. Die mooi meisiegesig straal van blydskap. Dis asof haar oë en hare, haar hele wese, in hierdie oomblik blinker word, sagter. En Nellie draai weg van hulle, vroetel nog by die tafel, hoewel dit onnodig is. Die groentelowwe het sy reeds in ’n aparte houer vir die komposhoop gegooi.
’n Oomblik lank, egter, wou Hantie haar verbeel dat sy iets ontsettends op haar ma se gesig lees. Iets soos intense pyn, deurleefde leed … of vreesagtige verwagting.
Intuïtief weet Hantie: Sy maak iets deur waarvan ek nie weet nie. Ek het nou net iets daarvan sien deurskemer. Wat kan dit wees? Laat dit tog niks wees in verband met my en Manus Bruwer nie, bid sy woordeloos. Waarom Nellie se uitgerekte handeling van die was van haar hande, byna ritueel, asof sy hulle spreekwoordelik in onskuld wil was?
Sy kan tog niks teen Manus hê nie, of hoe? Almal was nog altyd bly wanneer hy kom kuier. Hy is aan die stil kant, maar nie bot nie. Hy dra ’n vriendelikheid in hom om, hy verlig enige geselskap met sy teenwoordigheid. Hy gedra hom nooit soos ’n haan onder die meisies nie, al was hy reeds op skool baie gewild. Met sy sagte bruin oë en lang, stil aantreklikheid – die effense flambojantheid van sy ma, die broeiende en tog boeiende voorkoms van sy pa, is hy in enige geselskap gesog. Hy het nie uitgeblink in sport, akademie of enigiets anders nie, en die onnies het hom bestempel as begaaf maar lui … goedig, want almal het van hom gehou.
Die meisies, veral. Met sy lang ledemate en gewillige glimlag kon hy betower, en nou nog. Ek hoop tog my ma besef watter uitsonderlike voorreg dit is dat Manus juis in my, en net in my, belangstel, dink Hantie vir die soveelste keer. Dis nie sommer so vanselfsprekend nie. Die dorp wemel buitendien nie van hubare mans nie.
“Hoekom gaan jy dan nie môre vroeg nie,” wil Nellie sonder opwinding weet, asof sy die oomblik wil uitstel waarop sy haar dogter tydelik moet afstaan.
“Kan ek haar sommer vanaand saamvat, tannie? Ek is nie die vroegste onder die opstaners nie, dit moet ek erken.”
“Ek het nie bedoel só vroeg nie, ek het gepraat van brekfis se kant.”
“By ons is daar nooit juis brekfis nie, en op ’n Saterdag glad nie,” weer Manus haar sedig af.
“Wat sê jy?” Nellie wend haar na Hantie. Haar blik probeer die uitstel afdwing.
“Asseblief vanaand, Ma. Dis tog minder moeite, nie ’n dubbele ryery nie.”
“Jy praat of Donkervlei ver van die dorp af is. Mens sien dan die bloekombome se toppe.”
“Naby of ver, Ma, dis moeite.” Hantie voel moedeloos. Móét haar ma so moeilik wees? En om te dink Manus wou vanaand oor ’n moontlike huwelik praat, of dan ten minste ’n verlowing. Dit kon net ’n veel groter redenasie afgee.
“Ek sal Ma eers klaar met die aandete help, en opwas.” Sy is immers gretig dat Manus die aantreklike kos moet sien wat sy berei het. Noem dit maar ’n soort privaat verlowingsete, al weet niemand anders dit nie.
“Ek sal jou help,” bied Manus aan. Hy staan digby haar in die koel aandlug, met die skottel groente nog in sy hande. Hy is ’n kop langer as sy, en sy voel sy warm asem teen haar hare. Die naaste straatlamp het aangeflits en die dowwe lig tower een skaduwee op van hulle twee saam.
As my ma nou nog nie weet of aanvaar nie, is dit tot haar eie nadeel, want sy gaan haar enigste dogter vervreem, besluit Hantie met ’n soort droewe trots. Haar hart voel so groot, so ruim, so tot barstens toe vol. Sy gaan by haar ou se mense kuier. Haar privaat verloofde. Sy is byna twintig. Sy is volwasse. Sy het lief en sy wil bemin word.
“Doen dan maar soos julle moet doen,” sê Nellie. Dit klink neutraal genoeg, asof sy haar wil distansieer van enigiets wat kan skeefloop. Soos wat tog? Die Bruwers sal haar sekerlik nie in die hondehok opsluit nie.
“Dankie, Ma,” sê Hantie sag. Sy ondervind ’n egte drang om haar ma op die wang te soen, maar dis nie gebruiklik in hulle huis om oor en weer lieftallighede uit te deel nie. Daarom betuig sy haar dank maar met die daad en begin dadelik tafel dek toe sy binne kom. Voor die televisie sit Dawie en Boet Hasper soos honger hondjies op wag. Hulle