Dan kom die eensaamheid. Louisa du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Dan kom die eensaamheid - Louisa du Toit страница 5

Dan kom die eensaamheid - Louisa du Toit

Скачать книгу

het. Maar nou ja, sy sal hulle alles vergewe as hulle maar net môre in haar afwesigheid met die groente help. Groente, groente, groente. Die alfa en omega van hulle bestaan.

      Asof hy die seun van die huis is en presies die roetine ken, loop Manus voor met die skottel groente en sit dit op die spenstafel neer. Hy neem selfs ’n opgevoude halfvuil tafeldoek wat eenkant lê, en gooi dit bo-oor. “Vir die los vlieg,” grap hy, want die vlieë, indien hier was, sou al gaan slaap het. Hy vrywe sy hande. “Reg, wat is volgende, wat sê die huisvrou?” vra hy in Nellie se algemene rigting.

      Hy kry nogal ’n skrams glimlagtrekkie as beloning.

      Hantie stop ’n handvol eetgereedskap in sy hande. “Messe regs en vurke links, hoor?” onderrig sy kastig kwaai.

      Sy bly naby hom staan en word bewus van die bekende reuk, van sigaret en manseep en gesonde lewe. Sy voorarms in die opgerolde hempsmoue is bruin en glad. Hy is nie die harige tipe soos haar pa en Boet nie. En hy is so netjies. Hy aard na sy ma. Die mense wat nie van Frieda Bruwer hou nie, sê sy kan so netjies en opgetof bly omdat sy alles laat doen en nie self werk nie.

      Sag klink die messegoed en borde. Sy gee aan, Manus dek. Dis of alles meteens so sag geword het, genadig. Voordat iemand dalk die oorhoofse lig in die hoë plafon kan aanskakel, sorg Hantie ongemerk dat sy die staanlamp tussen die kombuis en woondeel aansit. Die stil, gedempte gloed verberg hopelik die blos wat pal op haar wange gloei.

      Manus knik vir haar wanneer hy reken dat alles nou op hulle plek is. Dis papierservette maar darem nie die goedkoop soort nie, daarvoor het Hantie gesorg. Sy ys oomblikke lank dat haar ma met die kombuisskêr sal kom en almal in helftes knip, maar gelukkig gebeur dit nie. Dis asof almal haar en Manus vir hierdie klompie hierdie talmende oomblikke uitlos. Die televisie is nou sagter gestel, en klanklose beelde spring op die skerm rond. Haar pa is sy pyp aan ’t uitkrap en Boet lees in ’n landboutydskrif. Uit die hoek van haar oog merk sy dat hy die penmaatrubriek agterin lees. Boet soek ’n maat, dink sy, en ’n sonderlinge mededoë vul haar. Hy is, soos haar ma tereg sê, nie so aantreklik dat die meisies soos gerwe op die koringland voor hom val nie. Daarby is sy persoonlikheid aan die donker kant, wat op teenstrydige wyse in lawwigheid uiting vind.

      Noudat sy self liefhet, word haar hart taamlik maklik tot bewoënheid beweeg. Boet hou hom maar so vol grappe. Eintlik maak hy moeilik kontak. Op skool was hy dikwels alleen, sonder hegte vriende. Van nature is hy eintlik bot, sy liggaam lomp. Hy het nooit in enigiets uitgeblink nie. Op die plaas het hy hard gewerk omdat dit om den brode was. Hier op die dorp het hy ’n werk by ’n motorhawe, maar hy kan nie ver vooruit beplan of groot waag nie. Ploeter, ja, met die idee dat hy vorder.

      “Klaar,” sê Manus. “Ek hoop iemand het aan kos gedink, anders sal ek vis en tjips gaan koop.”

      “So sleg gaan dit darem nie,” werp Nellie styf in. “Hantie het lekker kos gemaak.”

      “Jy moet buitendien asseblief nie ons vroumense bederf nie,” vermaan Boet. “Op die ou end ly ek en Pa daaronder.”

      “Julle weet net nie hoe om ’n vroumens te behandel nie,” waag Hantie. Sy weet dat haar pa luister. Hy is ook ’n stil soort man, maar anders stil as Oelof Bruwer. Dis ’n soort botheid, asof hy hom agter ’n skerm teruggetrek het om genoeg ruimte aan sy vrou se bedrywigheid te gee. Volgens die ou foto’s in haar ouers se besit, was haar pa in sy jong dae inderdaad mooi en vrolik daarby, altyd omring van ’n groep, hetsy manlik of vroulik. Op vele van hierdie afdrukke leun daar ’n meisie teen sy skouer, en hy grinnik altyd breed en wit vir die kamera. Bruingebrand, kuif oor die voorkop.

      Dit moet wees dat sy huwelik met Nellie hom gedemp het. Sy is nie een wat hou van, soos sy dit noem, “ligsinnigheid en lawwigheid” nie. Maar dit sal hom goed doen om te sien hoe galant Manus is. Dawie Hasper is alte ongeërg teenoor sy vrou en dogter, en as gevolg daarvan het Boet ook nooit konsiderasie teenoor ’n vrou geleer nie.

      “Ek gaan so ietwat in die sop wees by my ma, want sy wag ook vir ons vir aandete,” gee Manus prys.

      “Dan sal ons maar net niks moet wys nie en twee keer eet,” lag Hantie. Sy moet teen die teleurstelling veg. Sy het haar bes met die ete gedoen, so lank vooruit beplan. Natuurlik moes sy vir Manus vooraf gewaarsku het dat hy hier sal eet. Hy kon dit mos nie raai nie. Verrassings werk nie altyd nie; dis een onaangename kaart wat die lewe in sy mou hou.

      “Akkoord,” lag hy saam, veral toe sy die kos uit die yskas haal. “Ek het vir my ma gesê ek kom jou net haal.”

      “Haal?” wonder Dawie hardop. Hy is dikwels soos iemand wat ’n bus verpas.

      “Johanna gaan ’n bietjie oor om Frieda te help klaarmaak vir ’n plesierigheid,” lig Nellie hom skuinsweg in.

      Die “Johanna” en “plesierigheid” gee duidelik te kenne dat Nellie nie baie in haar skik met die reëling voel nie.

      Hoe vreemd is dit eintlik dat my ma in ons huis die een is vir wie daar altyd om toestemming gevra moet word, dink Hantie. In ander huise word die pa gevra. Of albei. Noudat Manus hier is as ’n persoon van buite, besef sy skielik helder hoe hulle van ander verskil. Haar ouers se huwelik is nie baie harmonies nie, en dit gee ’n stroewe noot aan hulle ganse bestaan.

      “O,” sê Dawie skynbaar ongestoord.

      Warm teleurstelling sak in Hantie af. “Teleurstelling” is die woord wat vanaand oorheers. Moet alle opwinding so gesmoor word? Sy sou so graag wou hê dat haar pa belangstellend opkyk, duiweltjies in die oë kry, dat hy hulle met mekaar terg, hulle verliefdheid uitlig. Waar sy bang was dat haar ma haar sou belet om te gaan, is sy nou bang dat Dawie haar sal laat gaan sonder een woord van meelewing.

      Hy was nooit ’n streng, onbillike vader nie; het haar nooit dinge ontsê nie. Wat sy nodig gehad het, het sy van hom gekry, hetsy klere of boeke of wat ook al, in soverre hy dit kon bekostig. Van sy kant was daar nooit argumente, verwyte of weiering nie. Maar ook nooit doodgewone warm, lewende belangstelling nie. Laat my ma wees soos sy wil, maar sy gee meer vir my om as hy, het Hantie al meermale gedink. Of so lyk dit, altans. Sy bemoei haar ten minste met haar dogter se sake, al is dit soms lastig.

      “Nou ja, laat ons dan aansit, dat julle kan wegkom. Ek sal die skottelgoedjies was, hier is niks vetterigs nie. Ek wil tog nie ’n ander vrou se huislike sake deurmekaar krap nie.” Nellie se stem is niksseggend.

      Die ete verloop in redelike stilte, sonder dat Boet grappe vertel of Manus joviale opmerkings maak. Daar het ’n gordyn neergesak tussen nou en netnou.

      So gou sy kan, glip Hantie weg om ’n tassie te pak. Vat mens jou eie handdoek saam, of nie? Wat is etiket? Sy wil nie op tone trap, of onkundig lyk nie.

      Maar onderlangs borrel sy van opgewondenheid. Saam met Manus onder een dak, sy kan dit skaars glo. Sy het nou ook ’n sterk idee dat die “beter leer ken” van Frieda Bruwer sommer ’n storie is om haar daar te kry. Manus het seker sy ma gevra om ’n plan te help beraam.

      Wanneer sy met die tassie in haar hand kombuis toe terugkeer, brand sy van haas. Boet se tong het weer losgegaan en die grap wat hy vir Manus aan ’t vertel is, is te lank na haar sin. Maar Manus luister beleef enduit en lag gepas.

      Dan staan hy op. “Sal ons maar gaan?” vra hy saggies. Die intiemheid daarvan ontgaan Hanie nie. Dis nou “ons”, nie meer “ek en jy” nie.

      “Nag Pa, nag Ma, nag Boet,” groet sy half verleë. Dit voel onvanpas om hulle te soen of selfs ’n drukkie te gee. Sy gaan immers nie die wye wêreld in nie, net na die bure toe vir ’n dag of twee.

      Eers

Скачать книгу