Sy was ’n somerdeel. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sy was ’n somerdeel - Louisa du Toit страница 3
Hy vind meteens niks om te antwoord nie – hy, wat nooit op sy mond geval is nie. “Verskoon my dan eers …” Hy beplan om te loop, maar hoor dan bo die gaslamp se ruising dié van die reën. Vervlaks, hy het skoon van die reën vergeet. Nie eers ’n reënjas of sambreel gebring nie. Hy’t ’n onlogiese, onuitgesproke verwagting gehad dat Isaacsdam sonder elemente is, so gemaak en so gelaat staan. ’n Soort innerlike ontkenning, dus, van die plek se werklike bestaan.
Koes-koes in die skuiling van geboue bereik hy die hotel, volgens die meisie se skrapse aanwysings. Dis eintlik net om die hoek. Hoe naby dit is, besef hy met dankbaarheid toe hy tien minute later, in reën wat steeds met mening uitsif, onverrigtersake terugkeer na Isaacsdam Kontantwinkel, waarbuite sy onkapabele motor staan. Hy voel hierdie keer soos ’n ou bekende toe hy die houtdeur oopstoot. Hy dag hy het hom verbeel dat dit so gesellig is hierbinne, so stil en koesterend. En tog is dit.
Maar die meisie is hierdie keer iewers oor die foon aan die praat. Jonathan wag, steeds de vieste in vir die eenvoudige plek wat een armsalige driesterhotelletjie het wat bowendien vol is.
Die gedagte wat hy honderd maal gekoester en honderd maal verwerp het, kom sterker in hom op: die niggie van sy pa wat glo hier woon. Sal hy op die ou end verplig wees om daar aan te klop vir herberg? Tot tyd en wyl daar dan plek is in die hotel, in elk geval. Is dit nie maar met die oog hierop dat hy sy sending aangevoor het, teenoor Senior Nothnagel genoem het dat hy bereid is om te kom nie?
Hy sou dit egter nie graag wou doen nie. Hy is nie eers familiebewus nie, wat nog te sê familievas. En hierdie familie sal hy nie op straat herken nie. Hy tob opnuut in ’n poging om hulle van te onthou. Wat het sy ma gesê? Hattingh? Van Zyl? Sowaar, hy’t geen benul nie. Hy sal die meisie vra, dalk weet sy. Sy tante-of-wat-ook-al se van was ook Bergman. Haar man is die aangetroude een. Dis al wat hy weet.
Die meisie het hom seker nie weer hoor inkom me, want sy praat lank. Hy hoor slegs haar stem, en skielik begin hy luister, geprikkel deur wat sy besig is om te sê: “Nee, regtig, moet dit nie van my verwag nie. Ek moet my pa nou help. Ek moet ou klandisie behou en nuwes wen, anders vou die plek. Ek wil uitbrei. Damesklere …”
Sy wag en luister, voordat sy verder praat. “Ek … eerlik, ek kan nie.” Die volgende oomblik voel Jonathan sy ruggraat verstyf. Hy ken presies drie terme in Frans, dalk vier: Bonjour, bon voyage, au revoir en monsieur. Hy weet nogtans hoe Frans klink, en sy het Frans gepraat. Hy kan die woorde nie in sy gedagtes sien nie, omdat hy dit nie verstaan het nie. Maar hy is opeens gewillig om die helfte van sy salaris te gee as hy kan weet wat sy gesê het, en met wie sy gepraat het.
Toe sy terugkom en half verbaas na sy herverskyning kyk, blik hy in die plafon en sy vingers trommel op die toonbank. “Ek het nie geweet ons praat Frans hierso nie,” mompel hy sonder om direk na haar te kyk. Hy vermoed dat hy iewers ’n groot oordeelsfout begaan het, en dit verwar hom dat hy nog nie die vinger ten volle daarop kan lê nie.
“Miskien,” sê sy kalm, “is dit net in die regtige Lilliput dat die inwoners geen Hollands, Latyns, Frans, Spaans of Italiaans kon verstaan nie.”
Sy loer na die breiwerk terwyl hy sonder taal staan. “Hotel vol?” sêvra sy net na ’n rukkie, en maak spytgeluidjies.
Hy voel lus om die stuk breiwerk te gryp en op die vloer te gooi sodat sy haar volle aandag aan hom en sy behoeftes kan gee.
“Maar miskien,” voeg sy betekenisvol daaraan toe, “kan daar met bombastiese vreemdelinge in Isaacsdam dieselfde gebeur as wat daar met Gulliver in Lilliput gebeur het: Hy kan aan sy pragtige dik hare op die grond vasgemaak word.”
Toe praat die meisie nie verder met Jonathan Bergman nie, en die geklater van die skuins reën teen die ruite, die lae gesuis van die gaslamp, word die enigste geluid tussen hulle.
2
Jonathan Bergman kom te staan voor ’n besondere erkenning: hy het hom misgis. Dis nie ’n bekentenis wat hy graag of dikwels maak nie, selfs nie teenoor homself nie.
Nie meer nie. Sy latere lewe is gevestig en hy het genoeg selfvertroue opgebou om hom deur te loods. Sy ganse huidige lewe staan in die teken van “nie meer nie”. En byna onbewus verbeel hy hom dat ’n langer lys van “nie meer nie’s” hom baie goed te staan kom.
Dis een ding om diep in homself te erken dat hy hom deeglik misgis het met die meisie hier by Isaacsdam Kontantwinkel. Dis egter ’n ander storie om dit aan haar te erken, en hy is nie van plan om dit te doen nie.
Maar dat sy sy belangstelling prikkel, is nie altemit nie. Selfs toe die reën bedaar en die son onverwags deurbreek sodat sy die gaslamp in ’n damp van warm paraffien uitdoof, behou sy daardie ietwat onwerklike kwaliteit. Hy is reeds, behalwe sy drafstappie hotel toe, altesame ’n halfuur hier in die winkel en hy begin in die pad voel. Die waarheid is egter dat hy nie verblyf het nie. Noudat die weer bedaar het, begin klandisie hulle opwagting maak en met gemengde gevoelens luister hy na die alledaagse winkelpraatjies. Hy sou kon sê dis bourgeois, behalwe dat hy nou vermoed sy kan die woord meer korrek as hy uitspreek.
Maar koeitjies en kalfies, inderdaad; want hy word wys dat tant Susan Rooivlakte se grootmaakkoei verlede nag gekalf het, “… in die wind, my kind”. Hy hoor ook hoe oom Tommie ve’Reene toestemming kry om riete vir sy mandjievlegwerk te sny.
Wat vir Jonathan nogal opreg interesseer, is die nuwe kennis dat die meisie se naam Katrien is.
“Katrien …” begin hy toe hulle weer kortstondig alleen is. Hy moet immers so verlangs begin uitvind of sy hom kan beduie waar sy familie bly. Maar voorlopig gun sy hom nie die kans nie.
“Katrien vir ou klandisie,” lig sy hom katvriendelik in. “Juffrou Tosen vir alle nuwe klandisie en vreemde besoekers aan Lilliput.”
“O, ja, goed, jammer. Maar vir my kan jy gerus Jonathan noem,” wreek hy sy ongemak.
“Indien ons baie met mekaar te doen kry, sal ek dit oorweeg, intussen is u meneer Gul … Bergman.”
“Dis nou regtig nie meer snaaks nie. Nou, juffrou Tosen, ek het ’n probleem.”
“Die hotel is vol,” vryf sy in. “En o ja, die vonkproppe. Dalk het die wind hulle al drooggewaai. Het jy weer probeer aanskakel? Of wil jy hê ek moet daarna gaan kyk?”
“Ek het gevra of ek die motorhawe kan bel,” verwyt hy. Te laat dink hy daaraan dat hy mos van die hotel af kon probeer bel het, maar hy het ’n redelike bohaai daar gemaak toe dit blyk hulle is vol. Hy dink nie die bestuurder sou hom nog ’n guns wou bewys nie.
“Ek onthou dat jy gevra het. Maar om eerlik te wees, ek sou skaam kry om hulle vir so iets te ontbied. Toevallig is die eienaar daar ’n vriend van my, enne … aangesien jy nou so half onder my beskerming is …” Sy kyk na hom met … ja, waaragtig, met erbarming in haar oë. Oë wat, so sien hy nou in die beter lig, grys gespikkel is. Ook nie ongedeerde oë nie. Daar is ’n soort vergroeide droefheid in. Maar beskutte oë, wat nie verraai wat sy regtig voel nie.
“Jy moet seker dink dat ek onbeholpe is,” verweer hy. “Dis nie dit nie. Ek beskou dit net so: Die dinge wat ek kan doen, kan enigiemand anders nie sommer doen nie. Ek was op universiteit daarvoor.”
“Inderdaad?” Sy veins verbasing, maar hy laat hom nie van stryk bring nie.
“Ja, net so,” sê hy nadruklik.