Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan страница 21
“Dit gaan maar moeilik om myself in toom te hou, maar ek sal probeer, ma’mselle.”
Véronique wuif vir hom toe sy wegstap. Sy penarie hinder haar, maar meer kan sy nie vir hom doen nie.
Sy loop en wonder wat Claude nóg omtrent Etienne Lorraine weet wat hy dalk nie aan haar wou uitlap nie.
Toe sy haar kamerdeur oopmaak, sien sy die brief op die vloer onmiddellik raak en sy raap dit op. In die koevert klingel geld. Iemand moes dit in haar afwesigheid onder die deur ingestoot het.
Sy breek die seël en haal die brief uit. Dis van Lyzette, en daar is ’n paar riksdaalders ingesluit.
Sy lees:
Beste Véronique – Ek moet jou dringend spreek. Dis baie belangrik. Ek stuur vir jou geld sodat jy ’n koets kan huur om hierheen te kom. – Lyzette
7
Véronique kan nie dadelik reëlings tref vir haar reis na L’Espérance nie, want sy moet die volgende dag haar bagasie in ontvangs neem wat madame Schoonveld met ’n perdekar Kasteel toe stuur.
Van Don Diego het sy ook nog geen woord gehoor nie. Haar kommer oor hom groei by die dag. Sy moes liewer niks van die oorkrabbetjies gesê het nie, dan sou hy nog hier gewees het en sou hy al goed aangesterk het.
Net die gedagte aan Don Diego laat haar hart vinniger klop. Sy weet dat hy nie vermoed hoe sy voel nie, en dit stel haar gerus. Solank hy dit nie weet nie, sal hy nog hier bly. Sy kry die gevoel dat hy moontlik sal terugkeer na Spanje as hy weet dat sy hom bemin. Hy wil nie gebonde wees nie; hy wil vry wees soos die wind en die see. Hy wil die oseane verower en verre horisonne ontdek.
Laat die Woensdagmiddag word sy geroep. Iemand wil haar spreek, en wag op haar in ’n syvertrek van die ontvangkamer van die Kasteel.
Sy het nie tyd om haar te verklee nie, maar weet ook dat sy goed lyk in die ligrooskleurige fluweeltabberd wat sy die oggend aangetrek het. Dis nie so ’n onplesierige dag nie, al is dit bewolk en dreig dit om te reën.
Tien minute later gaan sy die vertrek waarheen sy ontbied is, onseker binne en steek verbaas vas toe sy Don Diego by die venster sien staan. Hy draai vinnig om toe sy binnekom en haar hart slaan ’n slag oor.
Hy glimlag.
“A, senorita! Ek het nie verwag om u tuis te vind nie!”
Sy bloos ongemaklik.
“Goeiedag, monsieur. U besoek is onverwags.”
Hy lag.
“Ek het so pas teruggekeer.”
“Het u iets uitgevind?” vra sy vinnig.
Sy gesig versomber.
“Niks wat die moeite werd is nie. Die mense kan net praat oor die opstokery onder die Franse. Hulle stel nie meer belang in iemand wat meer as ’n jaar gelede verdwyn het nie.”
Véronique se moed sak in haar skoene.
“Ons is in ’n doodloopstraat, monsieur. Ek het gister ’n brief van Lyzette Lorraine gekry waarin sy my vra om dringend na L’Espérance te kom.”
Hy kyk vinnig na haar, sy oë op skrefies getrek.
“U gaan nié, senorita!”
Sy kyk verbaas na hom.
“Maar ek moet tog weet waarom sy my so dringend wil sien!”
Hy kom na haar en neem haar arm in ’n staalgreep.
“Jy gaan nié soontoe nie!”
“Hoekom nie?” vra sy bewerig. Sy is skielik bang vir hierdie forse man wat haar met sy onpeilbare uitdrukking van stryk bring.
“As daar iets fout is, het dit niks met jóú te doen nie. Die kommandeur laat senor Lorraine elke dag dophou. Hulle wil weet of hý agter die opstokery is. As jy jou nou daarin gaan begewe, mag die kommandeur dalk geen simpatie meer met jou hê nie.”
Sy probeer uit sy greep loskom, maar hy laat haar nie gaan nie.
“Jy maak my seer!” sê sy skerp. “Los my! Ek kán gaan as ek wil!”
Hy laat haar skielik los, sy oë donker en onheilspellend.
“Gáán dan as jy so dom is en nie na raad wil luister nie!”
Sy kyk op na hom.
“Ek wil my vader vind, monsieur! En as mademoiselle Lyzette vir my inligting kan gee, dan móét ek gaan, maak nie saak wát gebeur nie!”
“Jy weet nie of dit oor jou vader is dat sy jou wil spreek nie!”
“Ek moet nogtans gaan uitvind!”
Hulle staan na mekaar en staar, die een koppiger as die ander.
“Wanneer wil jy vertrek?” vra hy skielik.
“Môreoggend. Ek het reeds ’n koets gereël.”
Hy draai weg van haar af en gaan weer by die venster staan.
“Ek kan jou nie keer as jy dit wil doen nie, maar dink net weer daaroor na. Jy kan in baie groot moeilikheid kom.”
Sy aarsel.
“Ek het klaar besluit, monsieur.”
Toe hy na haar omdraai, is daar weer daardie vreemde uitdrukking in sy donker oë.
“Jy is die enigste mens wat my nog ooit teëgegaan het, senorita.”
“Ek doen wat ék dink reg is, monsieur.”
Hy lag, maar dis ’n duiwelse laggie met geen vriendelikheid daarin nie.
“Totdat jy jou in ’n situasie vasloop waaruit jy nie self sal kan kom nie.”
“Dit sal nie gebeur as ek dit kan verhelp nie, monsieur.”
Hy bal sy vuiste dat die kneukels wit deurslaan.
“Dan is daar niks verder te sê nie, senorita.” Hy maak ’n buiging en stap by haar verby, die vertrek uit.
Sy kyk hom agterna en wil nog iets sê, maar bly dan stil. Sy kan hom nie keer om te gaan nie. Sy sal hom later ook nie kan keer om terug te gaan Spanje toe nie. Sy sal hom nooit kan behou nie.
Net na nege die Donderdagoggend vertrek sy per gehuurde koets van die Kasteel af. Sy het haar hierdie keer goed voorberei vir die lang reis Drakenstein toe, en gesorg dat sy genoeg warm klere saamneem. Deurdringende reën het in die loop van die nag begin val, en dis koud en onplesierig. Misslierte trek oor die baai en versluier die skepe wat voor anker lê.
Die reën sif aanhoudend op die koets neer en die perde speel met hul