Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan страница 4
Teen die muur waar die straatjie doodloop, gaan sy hygend staan en soek naarstiglik na ’n uitkomkans. Links van haar is daar ’n deur wat op ’n skrefie oopstaan. As sy daar kan inglip, sal sy dalk kan wegkom.
Net voordat sy in die rigting van die oop deur wil hardloop, gewaar sy deur die digte sluier reën ’n tweede figuur by die ingang na die straat. Haar hart hamer wild in haar keel. Nou is hulle twee, en sy sal geen kans teen hulle hê nie. Dan draai sy vinnig om en hardloop na die oop deur.
Agter haar storm haar eerste agtervolger nader en volg ’n paar sekondes na haar. Sy hoor hom binnekom, waar sy diep agterin die pakhuis skuil. Dan sien sy hom om die houtkiste gestap kom, en met sy oë op skrefies getrek om hom tuur.
Dis nie baie lig in die benoude vertrek nie. Daar is net twee klein venstertjies hoog bokant die opgestapelde kiste. Solank sy geen geluid maak nie, sal die vent haar skuilplek nie ontdek nie. Dus bly sy doodstil sit, en met ’n kloppende hart sien sy hoe hy al hoe nader kom. Die ander man het in die deuropening verskyn, maar sy kan nie nou aandag aan hom gee nie. Sy moet op die eerste konsentreer, want dié het intussen tot hier by haar gevorder.
’n Rot skarrel oor die vloer in Véronique se rigting. Sy druk haar hand in haar mond om nie te gil nie, maar bly met groot oë na die diertjie staar. Hy sit haar met blink kraalogies en bekyk. Dan skuifel hy ’n paar treetjies nader tot by die soom van haar mantel.
Véronique se hart bons in haar keel. Sy kyk versigtig weg van die rot na die donker gestalte wat nou net deur een kis van haar geskei word.
Hy draai skielik om en sien haar raak. ’n Aaklige grynslag breek oor sy ruwe gesig.
“Aha!” roep hy triomfantelik uit. “Jy het ’n slegte plek gekies om weg te kruip!”
Véronique spring op en probeer eenkant toe padgee toe hy nader kom.
“Los my!” gil sy. Hulle is twee! dink sy paniekerig en kyk vlugtig in die rigting van die ander man wat nog in die deur van die pakhuis staan.
Die man spring vorentoe en gryp haar aan die arm voordat sy kan losruk.
“Wat soek jy hier in dié omgewing?” sis hy.
“Laat my gaan!” gil sy paniekerig. “Los my uit!” Sy ruk en pluk, maar sy hand bly in ’n staalgreep om haar arm.
“Nie so gou nie, meisie … ek het iets om aan jou te sê.”
Véronique hou op met spartel en kyk met groot oë na hom.
“Wat … wat wil jy vir my sê …?” vra sy hees.
Hy aarsel.
“Ek weet waar jou pa is.”
Véronique ruk orent.
“Jy weet … waar my pa is?” vra sy ongelowig.
“Ja, maar …”
“Waar is hy? Jy móét my sê!”
Hy skud sy kop.
“Moenie so hard praat nie! Dis beter dat jy nie weet waar hy is nie … Ter wille van jou eie veiligheid moet jy nie weet nie … Laat dit met rus, senorita – vergeet daarvan om na jou pa te soek. Ek sal nie graag jou begrafnis wil bywoon nie …”
2
Véronique staar na die matroos. Hy draai skielik om en stap van haar af weg. By die deur van die pakkamer gaan hy staan toe hy die ander man gewaar. Dan draai hy half verwilderd om na haar en soek naarstig na ’n uitkomkans.
Die tweede man kom binne en die matroos retireer.
Véronique kyk onbegrypend van die een na die ander, en dan herken sy Don Diego. Sy regterhand rus liggies op die hef van sy swaard.
“Molesteer jy die senorita?” vra hy sag dog dreigend.
Die ander man draai om na Véronique. Daar is naakte vrees op sy gesig te lees.
“Senorita, asseblief …!”
Sy kyk na Don Diego.
“Laat hom maar gaan, monsieur. Hy het net ’n boodskap gebring.”
Don Diego kyk agterdogtig na die matroos.
“Watse boodskap kan hý bring? Hy is ’n skoorsoeker, ’n leeglêer en ’n dief.”
Véronique kyk weer na die matroos wat nou tussen die kiste vasgekeer is. Hy kan nêrens heen beweeg nie. Sy vingers klou krampagtig aan die houtkis langs hom.
“Hy gaan my doodmaak, senorita,” prewel hy hees. “Ek wou u net help.” Die angs is duidelik in sy stem hoorbaar.
Don Diego gaan voor hom staan.
“Wat het jy vir die senorita gesê?” vra hy bars.
Die man wring sy hande.
“Dit was net ’n onskuldige boodskap, senor! Spaar my lewe! Ek mag ’n ellendige drommel wees, maar hierdie keer het ek niks verkeerds gedoen nie.”
Met ’n skerp fluitgeluid trek Don Diego sy swaard uit die skede. Die matroos krimp ineen.
Véronique word bleek en staan effens tru.
“Moenie hom doodmaak nie, monsieur, ek smeek jou …”
“Ek weet hoe om met hom te werk, senorita,” antwoord Don Diego Fernandez sonder om na haar te kyk. “Ek sal ’n antwoord uit hom dwing!” Hy druk die punt van sy swaard teen die matroos se gorrel.
Angssweet slaan op die man se voorkop uit. Sy oë bly vreesbevange op Don Diego gerig.
“Ek het niks verkeerds gedoen nie!” skreeu hy paniekerig. “U móét my glo, senor!”
Véronique druk haarself teen die kiste agter haar.
“Laat hom gaan, senor!” sê sy hard, maar haar stem bewe tog liggies.
Don Diego draai om na haar en laat sy swaard sak.
“U verbaas my, senorita. Ek het nie van u verwag om vir die lewe van ’n skurk te pleit nie.” Sy stem is sag, maar daar is geen vriendelikheid in nie.
“Hy … het my geen leed aangedoen nie, monsieur. Hy praat die waarheid. U het tog alles gesien.”
Die matroos vee die sweet van sy voorkop af. Sy blik rus dankbaar op die meisie. Toe Don Diego van hom af wegbeweeg, spring hy om en hardloop so vinnig as wat hy kan by die pakhuis uit.
Don Diego laat hom begaan. Hy kyk nie eens in die rigting van die vlugtende man nie, maar bly met half toe oë na Véronique kyk.
“Wat het hy vir u gesê, senorita?” vra hy sag.
Sy kyk weg.
“Dis my saak, monsieur. Dit het niks met u te doen nie.” Sy verbaas haarself vir