Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan страница 6
Sy word die huis binnegenooi deur die hoofbediende, wat haar na ’n vertrek neem waar daar ’n heerlike vuur in ’n kaggel brand. Hier vind sy ook monsieur Lorraine, wat haar hartlik verwelkom.
“Dis goed om u weer te sien, mademoiselle!” roep hy uit en soen haar op albei wange soos ’n vader dit sou gedoen het.
Sy glimlag skugter.
“Dis nie juis die ideale dag om hierdie pragtige landgoed te besoek nie, monsieur.”
Hy trek ’n gesig.
“Die weer is verskriklik. Ek kom na sonnige Afrika en kry dít!” Hy beduie na ’n venster waardeur hulle die reën oor die wingerde kan sien neersif. “Dis genoeg om enige mens weer gou na sy vaderland terug te jaag.”
Sy lag opgewek.
“Die mooi dae sal sekerlik weer kom, monsieur.”
“Ja, hulle sal seker.” Hy kyk by haar verby en glimlag. “Hier is my broer nou net.”
Véronique draai stadig om en dan groet sy met ’n glimlag toe die man nader kom.
Sy blik gly oor haar voordat hy weer na haar gesig kyk en ’n stywe buiging maak.
“Aangenaam, mademoiselle Tredoux.”
Sy knik en glimlag effens.
“Aangenaam, monsieur.”
Hy stap by haar verby en gaan in een van die diep leunstoele sit. Hy beduie aan hulle om ook te gaan sit.
“My broer, Henri, het my van u vertel, mademoiselle. Hy meen dat ek u dalk kan help. Waarmee?”
Sy haal diep asem.
“My vader, die graaf van Sévigné, het verdwyn, monsieur, en nou is ek sonder heenkome gelaat. Wat ek eintlik soek, is ’n werk totdat ek hom opgespoor het.”
Hy beskou haar aandagtig.
“U het nog nooit tevore gewerk nie, mademoiselle?”
Sy skud haar kop.
“Non … ek het nog nooit nodig gehad om dit te doen nie.”
“Natuurlik, die adel werk mos nie.”
Véronique kyk vinnig na hom. Sy kan nie besluit of hy dit in ’n grap gesê het en of hy dit sarkasties bedoel het nie.
“Dit was nie my keuse nie, monsieur,” sê sy dan versigtig.
Hy maak ’n afwerende gebaar met sy hande.
“As u die keuse sou gehad het, sou u óók nie gewerk het nie.”
Véronique verstyf.
“Miskien ken u my beter as ek self, monsieur,” sê sy sag met ingehoue verontwaardiging.
Hy kyk net vinnig na haar en dan terug na die flikkerende vuur in die kaggel.
“Wat kan u doen om u salaris te regverdig?”
Sy dink vinnig.
“Ek het geleer teken en klavier speel, monsieur. Ek kan ook Spaans praat en vioollesse gee.”
Hy snork verontwaardig.
“Dis alles nutteloos. Dis tydverdryf vir ’n ydel rykmansdogter. Ek kan vir u ’n pos aanbied as my dogter se kamermeisie.”
Véronique aarsel. ’n Kamermeisie? Dis omtrent die geringste onder die werknemers. Sou hy dit dalk moedswillig doen?
Henri Lorraine kyk ontsteld na sy broer.
“Maar, Etienne, daar is tog seker iets anders wat sy vir jou kan doen? Madame is so alleen hier op die landgoed, kan sy nie haar gesellin wees nie?”
Véronique kyk hoopvol na Etienne Lorraine.
Hy skud sy kop.
“Ek ken mademoiselle Tredoux glad nie, Henri. Buitendien besluit ek hier self wie ek waar wil aanstel. Sy kan die pos aanvaar, of sy kan dit daar laat.”
Véronique se wange gloei van verleentheid. Die man misbruik haar, dink sy ongelukkig. Hy weet in watse penarie sy haar bevind en nou maak hy van sy mag misbruik. Sy byt op haar tande. Daar is vir haar geen ander uitweg nie.
“Ek aanvaar dit, monsieur,” sê sy styf.
Hy kyk ondersoekend na haar.
“Ek wil geen streke hê nie. Ek verwag absolute gehoorsaamheid van my werkers.”
Sy antwoord nie, maar kyk net met ’n ongelukkige trek op haar gesig na Henri Lorraine. Hy lyk self ontsteld oor sy broer se voorstel.
“Dink weer daaroor na, Etienne. Die ander Franse sal jou kruisig as hulle weet wat jy met mademoiselle Tredoux doen.”
Etienne Lorraine maak ’n ongeduldige gebaar met sy hande.
“Dit kan my maar min skeel, Henri. Buitendien vergeet jy dat hier geen stande is nie. Ons is almal net Franse wat hierheen gekom het om van Lodewyk XIV se tirannie te ontsnap.”
Henri skud sy kop onbegrypend en Véronique sê niks. Op die oomblik is sy verleë oor monsieur Lorraine en sy kan nie anders as om die pos te aanvaar nie.
Etienne staan op en lui ’n klein silwerklokkie. ’n Bediende verskyn in die deur.
“Ek sal nou met madame Lorraine en mademoiselle Lyzette praat, Emile.”
Die bediende maak ’n diep buiging.
“Oui, monsieur.” Hy verdwyn so geruisloos as wat hy gekom het en kort daarna verskyn madame Lorraine met haar dogter kort op haar hakke.
Lyzette Lorraine is ongeveer Véronique se ouderdom, met ligbruin hare en groenbruin oë. Sy is effens plomp, met ’n ronde gesiggie en ’n pruilmond. Sy kyk vol openlike vyandigheid na die beeldskone Véronique.
Haar moeder is ’n groot vrou van om en by vyf-en-veertig. Haar hare is al grys en die swierige kapsel pas nie heeltemal by haar effens boerse houding nie.
“Wat is dit nou, Etienne?” wil sy ongeduldig weet.
Hy verstyf effens.
“Ek wil julle net voorstel aan Lyzette se nuwe kamermeisie. Mademoiselle Tredoux is glo die dogter van ’n graaf.”
Madame Lorraine glimlag spottend.
“Hulle is dit maar almal, Etienne.” Sy bekyk Véronique op en af. “Hierdie een lyk nou wel ’n bietjie anders, maar dit