As liefde ontwaak. Elsa Hamersma
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу As liefde ontwaak - Elsa Hamersma страница 2
Danielle kan nie anders as om te lag nie. “Jy’s reg, ou drama queen, maar die huis bly die groot probleem. Dit behoort mos gesamentlik aan my en Magdeleen, maar ek kan jou nou al sê dat sy my nie my deel sal uitbetaal as ek verhuis nie. Sy sal dit nie eens oorweeg nie – al het sy, haar man en sy kinders alles oorgeneem.”
Danielle se kamer en badkamer is al waar sy nog gemaklik voel. Dit maak haar hartseer, want dis die huis waarin sy grootgeword het en waarvan sy mede-eienaar is.
“Jy kan haar hof toe vat.”
“Ja. En ’n lang, morsige, duur hofsaak teen my suster maak? Wanneer ek trek, gaan ek klaar meer moeilikheid hê as wat ek kan hanteer. Dink jy eerlik ek wil dinge nog erger maak? Wat staan op my voorkop geskryf?”
“Sucker,” antwoord Jesse met ’n breë glimlag.
“Ek weet,” sug Danielle.
Jesse teug fronsend aan die groot koppie koffie voor haar. “En as jy nou trek, waar gaan jy duisende rande per maand vir huur kry? Het jy sulke geld?”
“Natuurlik nie.”
“Wanneer jou boek eers verskyn het, gaan jy geld kry. Veral as jy dit oorsee kan verkoop. Dalk kan jy intussen ’n lening iewers aangaan? Of ’n voorskot by die bank gaan vra?”
Danielle glimlag floutjies. “Dankie vir die mosie van vertroue, maar nee, ek gaan nie geld leen nie. Ek haat skuld. Daarom moet ek op ’n ander manier regkom.”
“Wat van jou aandele? Kan jy hulle nie verkoop nie?”
“Nooit! Dis my pensioen. Ek het myself belowe dat ek nooit daaraan sal raak nie, want as ek nie trou nie, moet ek vir myself kan sorg wanneer ek oud is.”
“Get real, girl!” lag Jesse en vee haar wilde bruin krulle uit haar gesig uit. “Die regte man sal jou nog van jou voete af vee. Maar daar moet ’n manier wees waarop jy van vloerlap na outeur van formaat kan vorder. Jy behoort nie op aandag te spring vir daai demanding suster van jou nie.”
Danielle byt op haar lip en trek die bruin koevert uit haar handsak uit. Sy vroetel in die koevert en kom dan met ’n velletjie papier te voorskyn. “Hier is my plan B. Lees en sê my wat jy dink.”
Jesse se wenkbroue spring binne sekondes hemelhoog. “Goeie donder … weer en bliksem! Jy kan nie ernstig wees nie.”
“Ek is.”
“Wat gaan jy hiermee doen? Ek weet nie hoeveel mense nog sulke advertensies in die koerant lees nie en as jy dit op die internet sit, soek jy moeilikheid. Dit is hopeloos te gevaarlik om …”
“Ek het vyftig kopieë laat druk. Ek gaan elke advertensie persoonlik in mense se posbusse sit. Of onder hulle voordeure instoot. En ja, ek weet dit gaan nie maklik wees nie. Daar is soveel sekuriteitsmaatreëls in veral meer gegoede buurte dat mens nie na aan ’n huis se voordeur kan kom nie.” Sy kyk Jesse reguit in die oë. “En ek gaan my advertensie net los by huise wat vir my mooi is en waar ek graag wil bly.” Sy trek haar skouers op. “Arm mense kan dit in elk geval nie bekostig nie.”
Jesse se mond val letterlik oop. “Maar … sê nou een of ander perv kry jou advertensie in die hande? En, besides, dit lyk nie vir my na ’n veel beter deal as wat jy tans het nie.”
“Dit is. Ek adverteer my dienste in ruil vir verblyf en ’n salaris, máár dit is op my voorwaardes en in my ure. Ek het jou al baie gesê ek skryf op my lekkerste van sesuur in die môre tot en met middagete. Dan roep ek halt. Dis soos ek die vertalings ook nog altyd gedoen het. Middae het ek nog altyd gebruik om ander goed te doen en saans en snags dink ek oor die storie, of nié – dit hang af.”
“Nou wat’s die probleem? Is jy nie in elk geval nou soggens vry om te skryf nie? Die tweeling is mos in die kleuterskool?”
“Dit het van dag een af my joppie geword om die tweeling soggens by die kleuterskool af te laai, wat beteken ek moet aantrek en ordentlik lyk teen halfagt, want dan moet ons ry. Nadat ek hulle afgelaai het, is dit weer ’n halfuur terug huis toe. Dis ’n onderbreking van sewe tot halfnege. Teen twaalfuur moet ek weer ry om hulle halfeen op te laai. My skryfdag is dus min of meer van nege tot twaalf. Dis drie ure, Jes, en dis nie genoeg nie. Ek het al probeer om smiddae bietjie te werk, maar omdat dit net ek en Katrina by die huis is, dink Ben en Bert dat ek eintlik vir hulle daar is. Magdeleen en Dawid skroom ook nie om my te vra om hulle rond te ry na ander maatjies toe nie.” Sy sluk swaar. “Ek is soos hulle ma in die huis en daarom gaan hulle die swaarste kry as plan B ’n werklikheid word. Ek is regtig jammer vir hulle.”
“Ag, nonsens,” proes Jesse. “Ek bedoel, as dit nou Magdeleen se eie kinders was, kon ek dalk nog verstaan dat jy so verantwoordelik voel, maar hulle is mos nie jou bloed nie.”
“Hulle is eintlik baie dierbare seuntjies,” verweer Danielle vinnig. “En dis nie hulle skuld dat hulle ma met ’n Italianer weggeloop het en hulle pa met Magdeleen gestaan en trou het nie. Hy moes wragtie blind verlief gewees het, want anders sou hy besef het dat sy ook nie ’n ma vir sy kinders gaan wees nie.”
“Mans is blind wanneer hulle verlief raak, of so sê hulle,” sug Jesse. “Ongelukkig sien die mans waarmee ek deurmekaar raak altyd my foute raak. Maar magtig, as Dawid nie agtergekom het hy trou met ’n bloeming ysberg nie, moes hy regtig blind gewees het. Sorry, maar jy kan nie stry nie.”
Danielle lag verleë, want sy kan dit nie ontken nie. Magdeleen is die redakteur van ’n modetydskrif. Toe sy en Dawid oorsee gaan wittebroodvakansie hou het, het Danielle na die kinders gekyk. Sy het gereken daarmee het sy haar kant gebring. Die ontnugtering was egter dat sy permanent die rol van oppasser moet speel – en dít sonder vergoeding of haar goedkeuring.
“Sê net vir jouself die tweeling is nie jou verantwoordelikheid nie. Magdeleen manipuleer jou, en jy weet dit.”
Danielle knik gelate. “Ek wroeg nou al weke lank. Sy sal ’n ander plan moet maak as ek net eers uitgetrek het: ’n au pair kry of so iets.” Sy dink ’n oomblik. “En dan sal hulle natuurlik nog ’n motor moet koop, want ek doen al die op- en aflaaiery met my motortjie.”
“Sucker,” is al wat Jesse weer sê, en haar kurktrekkerkrulle dans om haar kop. “Wanneer gaan jy hierdie pamflette versprei?”
“Môreoggend. Ek gaan die tweeling net eers by hulle skooltjie aflaai en dan gaan ek na die suidelike voorstede van Kaapstad toe ry. Dis waar ek wil bly.”
“Dis nogal ver van Stellenbosch af.”
Danielle trek haar skouers op. “Dit help nie ek trek net om die draai nie. Daar moet afstand tussen my plek en dié van my suster wees. Anders gaan dit mos maklik wees om gou te bel wanneer hulle ’n babysitter soek.”
“Jy’s reg. Jy wil al die moeite nie verniet doen nie. Dis net dat die suidelike voorstede van Kaapstad ook vir my nogal ver is. Ons sal nie sommer vinnig ’n koffietjie kan drink nie.”
“Dit is so, vriendin. Maar as ek hierdie skuif nie ordentlik doen nie, gaan die hele ding misluk.”
“Hmm. Dis desperaatheid wat ek hoor. Jy speel nie meer nie. Dis doodsake dié.”