Dans van die sterre. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Dans van die sterre - Schalkie van Wyk страница 3
“Kinders van geskeide ouers word meer bederf. Hilda se ouers is ôk gelukkig, maar hulle boer nie saam oorsee en laat hul kinders aan die genade van ’n baasspelerige huishoudster oor nie. En wat nou van my vakansie saam met die Van Rooyens?” vra Danette dikmond.
“Mamma het beloof om jou vlugkaartjie te laat aflewer.”
“Sowaar?” Danette glimlag stralend en gee Jana ’n onverwagte drukkie. “Ousus, kon jy my nie lankal vertel het nie? Ek was so vies vir Mamma dat ek haar net ’n skewe soen op die wang gegee het. Ek het haar nie eens gesê ek gaan my morsdood verlang nie . . . jy weet mos, al die dinge wat kinders veronderstel is om aan hul ouers te sê sodat hulle meer sakgeld kan kry.”
Was ek ook so sinies en oppervlakkig toe ek sewentien was? Jana besef dat die jare in die Kaap haar van haar jonger suster vervreem het. “Waar is Waldus, Danette? Weet hy nie Mamma-hulle het vanaand oorsee vertrek nie?” stuur sy hul gesprek in ’n ander rigting.
“Miskien, miskien ôk nie. Die ou mense is altyd op pad êrens heen, of ons nou tot siens sê of nie. Ek weet net Waldus woon selde klasse by op varsity – Hilda se broer, Danie, het my vertel. Onthou jy die verloofde van jou ou vriendin Erika Taljaard, wat toe nie werklik aan haar verloof was nie, Jana? Deesdae is Waldus . . .” Danette swyg en trek ’n gesig toe die gelui van ’n foon uit die woning agter hulle opklink. “My pêlle bel my op my selfoon. Gaan antwoord jy, Jana. Mamma het gesê jy sal mevrou Brewis se pligte oorneem. Ek sal in my suite wees as die oproep dalk vir my is.”
Snipperige klein pes, dink Jana onthuts en stap vinnig na die naaste foon in die ruim voorportaal. Sy en haar bedorwe kleinsus sal binnekort ’n ernstige gesprek moet hê, want sy is beslis nie van plan om vir die volgende ses maande die rol van onbetaalde huishoudster te speel nie. Sy bring die koordlose gehoorstuk na haar oor en sê hoflik: “Goeienaand. Die Richter-woning hier.”
“Jana!” groet ’n welluidende manstem laggend in haar oor. “My liewe Janatjie, jy klink nog net so koel en afsydig soos – hoe lank is dit al? – meer as drie jaar gelede. Gaan jy nooit vergeet wat kwaai mevrou Brewis jou geleer het en ’n bietjie meer na jou lieflike ma aard nie, my sneeukoningin?”
Jana deins innerlik terug toe sy Barry Dreyer se stem herken. Sy is sommer lus om die gehoorstuk in sy oor neer te gooi. “Ly jy aan geheueverlies, Barry? Ek het jou duidelik laat verstaan jy was nooit een van my vriende nie. Niks het verander nie. Ek wil jou nie ken nie,” antwoord sy met kille finaliteit.
“Selfs nie as ek my oor Waldus bekommer nie? Ek verkies om met jou te praat voordat ek jou pa oor Waldus se doen en late inlig. As jy dink ek moet liewer met jou ouers praat . . .” Barry swyg afwagtend.
Die dreigende ondertoon in Barry se stem laat Jana vinnig antwoord: “Hulle is nie tans tuis nie. Ek het vanmiddag eers hier aangekom en is doodeenvoudig te moeg om my vanaand oor Waldus se streke te bekommer. As jy kans sien om my môre weer te bel, sal ek dit waardeer.”
“Dan nooi jy my nie uit vir ’n besoekie nie, ysige Jana?” vra Barry gemoedelik, duidelik nie geraak deur Jana se formele stemtoon nie.
“Nee, Barry. Gee my jou selnommer as jy nie weer wil bel nie.”
“Ek gooi nie so maklik tou op nie, pragtige Jana. Onthou jy Noontide, ou Alexis se restaurant? Dis nog net so gewild soos altyd. Ontmoet my môre daar vir middagete – of net iets te drinke. Maak dit halfeen, voor die groot stormloop. Het ons ’n afspraak, Jana?” vra Barry met ’n selfversekerdheid wat soos skuurpapier oor haar senupunte rasper.
“Solank jy nie glo dis die begin van ’n vriendskap nie. Tot môremiddag. Tot siens,” groet sy kortaf en wag nie op sy groet nie, maar sit die gehoorstuk terug op die voetstuk.
“Goeiste, Jana, jy klink soos ’n suurknol van ’n oujongnooi – en jy lyk ôk soos een! Ek hoop nie jy het met ’n man gepraat nie,” kom dit van Danette wat aan die deurkosyn hang en Jana afkeurend aankyk.
“Dit was Barry Dreyer,” lig Jana haar teësinnig in.
“Awesome! Hy’s tien jaar ouer as ek, maar ek en Hilda dink hy’s onweerstaanbaar handsome. Kom hy kuier? Ek weet Waldus bring die meeste van sy tyd saam met Barry deur, maar Waldus weier om my aan hom voor te stel. Jy sal my aan Barry voorstel, nè, my ousus? Jy wil hom mos nie hê nie. Waldus sê jy haat Barry, maar hy’s nie seker waarom nie.”
“Vergeet van ’n bedrieglike man soos Barry Dreyer, Danette. Ek en Erika Taljaard was jare lank boesemvriendinne. Dis omdat ek weet wat hy aan haar gedoen het dat ek Barry nie kan verdra nie.”
Danette rimpel haar neus misnoeg. “Wat hy aan háár gedoen het? Al wat ek onthou, is hoe almal hulle siek gelag het oor Erika se leuens. Kan jy jou voorstel dat ’n cool ou soos Barry ooit aan ’n vaal ou meisietjie soos Erika Taljaard verloof sou raak? Sy het selfs ’n diamantring van haar oorlede ouma gedra en aan almal vertel dis haar en Barry se verloofring. Simpel meisiemens! Toe Barry alles ontken, het Erika druipstert gaan wegkruip by familie êrens in die Vrystaat. Ek was destyds doodbang my pêlle kom agter jy en Erika is sulke groot maats. So ’n vernedering sou my sosiale lewe uitgewis het.”
“Ek weet: jy sou die skande nooit oorleef het nie,” spot Jana en vervolg ernstig: “Erika het nie oor haar verlowing aan Barry gejok nie, Danette. Erika se ouma Kloppers was ’n ryk vrou en omdat Erika na haar vernoem is, het haar ouers verwag dat Erika heelwat ná haar ouma se dood sou erf. Ongelukkig het Barry ook daarvan te hore gekom en skielik knaend by Erika begin kuier.”
“Aag, dis ’n klomp tjol! Barry is skatryk. Waldus sê hy is ’n suksesvolle makelaar en maak fortuine op die aandelemark. Hy sou nooit in Erika belang gestel het nie. Sy’s seker nie te lelik nie, maar haar ouers is nie fabelagtig ryk nie – nie soos ons Richters nie.”
“As jy dan nie belang stel in die waarheid nie . . . Solank jy besef Barry speel nie met dogtertjies soos jy nie, my kleinsus. Maar wat nou van aandete? Wie maak saans kos sedert mevrou Brewis en die res van die huispersoneel weg is?”
Danette haal haar skouers belangeloos op. “Die yskaste is mos vol, en dis maklik om wegneemetes te bestel. Ek het jou gesê ek’s op ’n dieet. Ek gaan nou TV kyk en slaap.”
“Wag eers, Danette! Wie maak die huis skoon? Wie maak jou bed op? Wie versorg die tuin?”
“Die tuindiens en die hope bediendes wat altyd . . .” Haar sin rafel uit en sy staar Jana met toenemende onbegrip aan. “Ek weet nie. Ek het nie werklik notisie geneem nie, maar die huis is skielik stil . . . amper verlate sedert mevrou Brewis verlede Vrydag weg is. Wanneer kom sy terug? En waar is al die ander werkers? Het Mamma niks gesê nie?”
“Ek en jy en Waldus is die nuwe werkers, Danette. Totdat Pappa weer ’n fortuin op die aandelemark maak, is daar nie geld om mense te huur nie,” lig Jana haar teësinnig in.
“As dit ’n grap is, Ousus, lag ek nie.” Danette betrag haar wantrouig, vrees huiwerend in haar oë.
“Ek maak nie siek grappe nie, Danette. Moenie jou vriende hiervan vertel nie. Ek’s ouer as jy en weet Pappa het soms ’n gebrek aan kontant. Dit is niks om jou oor te bekommer nie, want ons besit huise in Frankryk en Italië en ’n woonstel in Londen. Ek weet Pappa het aandele in myne en allerlei maatskappye. Ons hoef nie bang te wees nie, Danette. Alles sal regkom,” paai Jana terwyl die onrus steeds in haar binneste groei.
“Dis waarom jy werk,” kom dit met onverwagte insig van Danette. “Het dit al vantevore gebeur toe ek nog te klein was om te kan onthou? Het