Wewenaar van Groene Weide. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wewenaar van Groene Weide - Ena Murray страница
ENA MURRAY
Wewenaar van Groene Weide
Jasmyn
1
Die dag begin vir Manda Maree soos elke ander dag van haar goed geroetineerde lewe.
Om halfsewe die oggend lui die wekker – heeltemal onnodig eintlik, want jare lank al word sy vanself om vyf en twintig minute oor ses wakker. Maar dit is net so deel van haar lewe om saans die wekkertjie te stel as wat dit deel van die roetine is om vyf minute soggens te lê en wag tot dit afgaan, haar hand uit te steek, dit dood te druk, en in dieselfde beweging die beddegoed van haar af te gooi. Hierna is dit bad, aantrek, ’n ligte ontbyt en haar handsak nagaan. Klokslag kwart oor sewe trek sy haar motor uit en om agtuur stap sy die kantore van die groot maatskappy binne waar sy stelselmatig deur die jare gevorder het tot een van hul bekende en gewaardeerde joernaliste.
Dis eers toe sy die hoofdeur van haar afdeling, ’n vrouetydskrif, oopdruk, en sy teen die gesigte van die tiksters en ander joernaliste vaskyk, dat iets haar waarsku dat vandag anders as ander dae gaan wees … reeds is.
Waar sy andersins direk deurstap na haar kantoor, aarsel sy nou, en dis een van die senior tiksters wat wegbreek van die kring wat gevorm is en reguit na haar toe aankom.
“Môre, juffrou Maree.”
“Môre, Mattie. Wat makeer? Julle lyk ontsteld.”
“Ek is bevrees ek het slegte nuus. Juffrou Hettie het verongeluk …”
“Verongeluk?” Ontsteltenis sprei oor die kalm gelaatstrekke. “Is sy … dood? Maar hoe … waar …?”
“Nee. Nee, gelukkig nie. Maar sy is in die hospitaal. Dit het vanoggend op pad werk toe gebeur. Sy is glo vroeër van haar woonstel af weg, en toe het ’n vragmotor in haar vasgery by ’n verkeerslig. Sy het ’n been gebreek en harsingskudding opgedoen. Meneer Kock het so pas gebel en gesê u moet hom dadelik kom spreek sodra u inkom.”
“Dankie, Mattie.” Sy kyk na die res van die kantoorpersoneel. Skielik is sy in beheer. Sy probeer kalm optree. “Goed, dames. Ons ken ons werk. Laat ons daarmee voortgaan en nie vir juffrou Hettie teleurstel nie. Sodra ek meer weet, sal ek julle dadelik sê. Maar nou maak ek op julle staat om voort te gaan asof die hoofredakteur in haar kantoor sit soos altyd.”
Almal beweeg gewillig na hul lessenare toe. Juffrou Hettie is gewild en gelief onder haar personeel. In jare is sy lankal ’n verstokte oujongnooi, maar daar eindig die ooreenkoms. Hettie Henkel is die dierbaarheid self, ’n moedertjie vir almal in hierdie groot gebou.
Meer ontsteld as wat sy wys en selfs aan haarself wil erken, stap Manda oomblikke later die besturende direkteur se kantoor binne. Ook hy doen sy bes om kalm te bly. Hettie Henkel is een van sy steunpilare en hy kan hom kwalik die tydskrif sonder haar aan die stuur van sake voorstel. Maar omstandighede het skielik verander.
Sy blik gaan krities oor die meisie wat in die aangebode stoel voor sy lessenaar gaan sit. Hy weet Manda Maree werk al ’n hele paar jaar vir die maatskappy. Volgens haar hoofredakteur – iemand vir wie se mensekennis hy groot ontsag en respek het – is sy ’n gebore joernalis en in staat om nog ver in die wêreld van drukkersink te kom. Maar sal sy so sonder voorbereiding in die ervare en bekwame skoene van Hettie Henkel kan instap?
Dan besef hy dat hy nie eintlik ’n keuse het nie. Hy troos hom daaraan dat juffrou Hettie, soos almal haar maar ken en noem, hom al dikwels verseker het dat Manda Maree haar regterhand is en dat sy besig is om haar onopsigtelik op te lei om eendag die leisels by haar oor te neem. Dat dit so gou sou wees, al is dit hopelik net tydelik, het niemand verwag nie.
Toe die deur weer agter haar toegaan, voel hy ietwat meer gerus. Soos altyd was juffrou Hettie se taksering van ’n persoon korrek. Manda is duidelik ontsteld oor wat gebeur het, maar sy het bedaard op sy vrae geantwoord en hom oortuig dat sy die roetine op die punte van haar vingers ken. Net een keer het sy effens twyfelmoedig voorgekom.
“Dis net haar rubriek waaroor ek nie so seker voel nie, meneer,” het sy eerlik erken. “Niemand het nog ooit daardie rubriek gedoen behalwe sy self nie.”
Hy het skrams geglimlag. Hy het natuurlik dadelik geweet na watter rubriek Manda verwys. Juffrou Hettie is oor daardie rubriek so begaan soos ’n ma oor haar enigste kleintjie. Sy verduur baie goedige geterg daaroor, want die hoofredakteur van ’n gewilde tydskrif het seer sekerlik nie tyd om na al haar lesers se klagtes en probleme te luister en boonop raad te gee nie, maar deur die jare het Hettie Henkel aan daardie rubriek bly vasklou.
“Dit hou my in persoonlike kontak met my lesers. Dis vir my lekker om hulle te help, of te probeer help.”
En almal het geweet dis opregte woorde. Juffrou Hettie gaan altyd uit haar pad om ander mense te help, en deur haar rubriek het sy vir haar ’n groot vriendekring opgebou. Manda en meneer Kock is bewus van die feit dat die lesers onmiddellik kapsie sal aanteken as die rubriek in iemand anders se hande geplaas word. Die lesers vertrou juffrou Hettie. Niemand anders sal vir daardie rubriek deug nie.
“Ja, dis ietwat van ’n probleem. Ek is bevrees jy sal dit ook op jou moet neem. Maar ons hou dit maar onder juffrou Hettie se naam. Hopelik sal dit net drie of vier rubrieke wees voordat sy dit weer self sal kan doen.”
Manda het net geknik. Sy weet dat daar niemand anders is wat die rubriek sal kan behartig nie. Juffrou Hettie self sou haar aangewys het as sy daartoe in staat was.
Maar nadat Manda die eerste brief deurgelees het, skiet die twyfel al hoër in haar op. Toe ’n stuk of tien probleembriewe voor haar opgestapel lê, is sy verward en voel sy vir die eerste keer in baie jare onseker van haarself. Vir die eerste keer dring dit ook ten volle tot haar deur hoe probleemloos, byna eentonig, haar eie lewe is.
Vir die eerste keer sedert sy grootmens is, word sy byna gedwing om ’n voorraadopname van haar eie lewe te maak. Onwillekeurig begin sy haar eie lewe vergelyk met diegene s’n wat hulle in nood en kommer tot die wyse en ervare juffrou Hettie gewend het. Met nuwe insig besef sy hoe klein die sirkeltjie is waarin sy leef, hoe gesentreerd haar menswees is met net haarself as die middelpunt.
Dit word ’n dag van openbaringe, openbaringe wat haar ontstel en ontstig. Haar geroetineerde lewe begin vir haar al minder na iets lyk om op trots te wees. Eerder begin sy skuldig voel daaroor, so asof dit haar eie skuld is dat haar elkedagse bestaan in sulke rustige kanale vloei en sy so ’n probleemlose lewe het. Dis asof dit meteens nie so hoort nie, asof dit nie reg is dat die een mens so alles het, so rustig en kommervry is en die ander sulke skynbaar onoorkomelike probleme in die gesig staar nie.
Terwyl sy magteloos op die briewe voor haar afstaar, besef sy dat sy nie genoeg ervaring van die lewe se donker kant het om hierdie mense te kan help nie. Skielik onthou sy wat juffrou Hettie eendag gesê het toe sy haar weer goedig oor die rubriek geterg het.
“Kind,” het sy gesê, “julle kan maar terg en spot, maar ek sê vir jou, ek sou nie die mens gewees het wat ek vandag is as dit nie vir hierdie rubriek was nie. Ek leer baie uit elke brief wat ek ontvang. Ek leer veral om my seëninge te tel – elke dag. Ek ontvang meer uit hierdie rubriek as wat ek gee.”
Die wysheid van haar woorde tref Manda nou terwyl sy met bedenking oor haar eie bekwaamheid vir hierdie nuwe taak haar blik laat dwaal oor die een brief tussen die klomp wat haar besonder getref het.
’n Verhaal wat onwillekeurig haar hart aangryp, ontplooi voor haar. Soos die meeste van die briewe, het hierdie een ook geen adres nie.