Terug na Kolkbaai. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Terug na Kolkbaai - Ena Murray страница 3

Terug na Kolkbaai - Ena Murray

Скачать книгу

      “Vakansies gaan ek werk. Ek het my ma ook so gesê.”

      “Maar eendag sal jy terugkom – wanneer jy klaar geleer het.”

      “Om wat hier te kom maak?”

      ’n Selfbewuste glimlaggie het aan sy een mondhoek getrek. “Om met my te kom trou, natuurlik.”

      “Nooit. Nóóit, sê ek jou! Ek is nie van plan om die res van my lewe op Kolkbaai te slyt nie. As jy en Martin wil, is dit julle saak.”

      Maar sy het tog een keer daarna weer huis toe gekom. Sy het daardie dag van die graf van haar broer weggedraai en haar blik laat gly oor die see, die Bernhardi-kasteel en die skuite in die klein hawetjie. Dit was hulle skuld – die see en die Bernhardi’s se skuld dat Martin onder die duine van Kolkbaai begrawe is, het sy gedink. As hy na haar geluister het, en ook verder gaan leer het, sou hy nie dood gewees het nie.

      Toe iemand voor haar kom staan, het sy hom amper nie herken nie. Oloff Bernhardi in ’n pak klere was ’n vreemdeling.

      “Hannetjie …”

      “Los my uit.”

      “Jy moet na my luister …”

      Haar oë het hom deurboor. “Gaan soek liewer Kato se lyk, dan doen jy darem een keer in jou lewe iets goeds.”

      “Dis nie wat die mense sê …”

      “Ek gee nie om wat die mense van Kolkbaai sê nie. Ek gee nie om wat jy te sê het nie. Ek is klaar met Kolkbaai.”

      Dieselfde woorde het sy oomblikke later vir haar ma ook gesê toe hulle eindelik weer alleen in die rietdakhuisie was. Willem Krause, vir ’n wonder nugter genoeg, was nog besig om toe te sien dat die graf goed toegemaak word. Die twee kleintjies was iewers buite, elkeen met ’n sny brood in die hand.

      “Het dit iets te doen met die stories oor Kato?”

      “Dit het niks met enige storie te doen nie, Ma. Dit het te doen met die lewe hier. Ek kom nie weer terug nie, Ma.”

      Haar ma het geknik, haar hande stil op haar skoot gevou.

      “Ek verstaan, my kind. Maar eendag sal jy tog terugkom.”

      En nou is sy terug. Al is dit net tydelik. En dieselfde Oloff staan weer voor haar.

      Met die eerste oogopslag lyk hy nog dieselfde. Dieselfde opstandige, windverwaaide kuif. Dieselfde breë skouers en bruingebrande arms. Dieselfde vissermansklere. Dieselfde sout reuk. Maar hy is elf jaar ouer en het die kenmerkende Bernhardi-lyne op sy gesig bygekry wat hom ’n ruwe, aantreklike voorkoms gee.

      Hy staan en kyk na haar met daardie selfde reguit, bewonderende blik van destyds toe hy gesê het hulle gaan eendag trou omdat sy die mooiste meisiekind op Kolkbaai is.

      “Ek het altyd geweet jy sal die godin van Kolkbaai bly. Jy is nou mooier as ooit. En jy het niks verander nie. Steeds neus in die lug soos destyds.” Met ’n breë glimlag en fyn spot in sy blou oë gaan hy voort: “Onthou jy ek het jou destyds gesê dis omdat jou neus te hoog in die lug is dat jy altyd vis ruik. Jy moet dit net so ’n bietjie laat sak.”

      “Ek sien jy het ook nog niks verander nie.”

      Die glimlag flits weer breed. “Nee, ek is bevrees daar is geen hoop daarvoor nie. Hoe gaan dit met jou ma?”

      “Baie beter, dankie.”

      Hy knik. “Dis gaaf. Nou maar goed. Ek sien jou weer die een of ander tyd. Maak jouself tuis.”

      “Oloff.” Haar stem roep hom terug. “Ek wil huis toe gaan.”

      “Huis toe?”

      “Ja. Na my ma se huis toe.”

      “Jy bedoel die rietdakhuisie?”

      “Ja. Ek bedoel die rietdakhuisie.”

      “Niemand woon daar nie.”

      Sy frons. “Wel, dan waar my ma nou bly.”

      “Jy ís daar.”

      Haar frons verdiep en sy kyk stadig om haar rond. “Hier?”

      “Ja. Dis haar woonstelletjie wat Pa destyds spesiaal vir haar laat aanbou het.”

      “Jy bedoel my ma bly hiér?”

      “Heeltemal korrek. Sy bly al meer as vier jaar lank hier.”

      “Hoekom?”

      “Omdat ons mekaar nodig het. Sy het eers my ma help verpleeg totdat sy dood is. Daarna het sy aangebly.”

      “Aangebly?”

      “Ja, sy sien om na die huishouding. Maar dis nie die rede hoekom sy hier aan die sykant in ’n woonstel woon nie.”

      “Wat presies bedoel jy?”

      “Jou ma bly hier omdat sy, ter wille van jou, nie kans sien om my pa se huweliksaanbod te aanvaar nie.”

      Sy kyk hom verbysterd aan. “Jy bedoel my ma bly hier in die Bernhardi-kasteel as … as …”

      Hy skud sy kop, die blou oë skielik ysig. “Nee, nie as my pa se bywyf nie, as dít is wat jy dink. Jy en die res van die wêreld kan maar so dink, maar ek bly saam met hulle in hierdie huis en ek weet dit is nie so nie. Soos jy weet, is ons Bernhardi’s nie baie sterk moreel ingestel nie. Maar Hanchen Krause is ’n vrou soos min. Sy is ’n beginselvaste vrou met die hoogs moontlike standaarde. Maar ek veronderstel jy sal my nie glo nie, want dit was nog altyd jou kwaal om te oordeel voordat jy alles weet.”

      Sy kyk hom woedend aan. Sy onthou nou die vreemde klank in meneer Bernhardi se stem toe hy haar ma Hanchen genoem het. “Probeer jy my wysmaak dat daar nie ’n verhouding tussen jou pa en my ma is nie? Dink jy ek ken nie die lewe ook ’n bietjie nie?”

      “Wat jy van die lewe ken, Hannelore Dorffling, is wat jy van hom leer ken het anderkant hierdie sandduine. Maar aan hierdie kant – of jy dit wil glo of nie – is daar ’n lewe wat so pragtig is dat ek my daaraan kan verkyk. Hulle het mekaar lief met ’n soort liefde wat jy nie sal verstaan nie. Jy sal nie kan begryp dat ’n man en vrou mekaar jare lank kan bemin en onder dieselfde dak woon sonder dat dit afbreuk doen aan die suiwerheid van hul verhouding nie.”

      Oloff is in een opsig reg. Uit wat sy van die lewe in die stad leer ken het, kan sy nie glo dat so ’n verhouding kan bestaan nie. Was dit enige ander man sou sy dit miskien nog kon glo. Sy ken immers haar ma, en sy ken haar hoë sedelike beginsels. Maar die man is ’n Bernhardi. Hoe kon haar ma met so ’n mens deurmekaar geraak het?

      “Nee. Jy het gelyk. Ek sal dit nie kan verstaan nie. Nog minder glo.” Sy kyk hom vas in die oë. “Want ek ken die Bernhardi’s.”

      “Dis wat jy dink, Hannelore. Jy ken hulle nie. Nie die pa óf die seun nie. Jy het ons nooit geken nie. Maar jy behoort jou ma te ken en daarom behoort jy jou te skaam vir jou gedagtes.”

      “Dis

Скачать книгу