Terug na Kolkbaai. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Terug na Kolkbaai - Ena Murray страница 5
Was dit dalk dat haar ma met die eerste die beste man getrou het om te keer dat mevrou Bernhardi haar wreek? Het Hannie Dorffling destyds met Willem Krause getrou om Christoff Bernhardi teen sy vrou te beskerm?
Die jare wat daarop gevolg het, kan Hannelore goed onthou. Twee kinders is uit die huwelik gebore – ’n huwelik wat soos menige ander visserman se huwelik gelyk het. Veertien dae, soms langer op see. Dan tuis en dronk. Haar oë pen die man vas.
“Jy het hom altyd by die huis kom haal en saam met jou gevat. Ek onthou daardie kere dat daar sommer ’n vliegtuig gehuur is om julle na ’n rugbytoets te neem. Geld het geen rol gespeel nie. Ordentlikheid ook nie. Dan is Willem Krause besope by die huis afgelaai en gewoonlik nog voordat hy weer nugter was na sy skuit gedra. En my ma moes sien en kom klaar met twee klein kindertjies. Is dit wat jy liefde noem?”
Die man vee oor sy wit hare en oor sy oë asof hy moeg is.
“Jy het alle rede om bitter te wees. Maar jy verstaan nie.”
“Verstaan nie? Wat is daar om te verstaan? Wat moet ek verstaan as jy sien hoe swaar jou ma kry, hoe hard sy werk, as jy hoor hoe sy snags in haar kamer snik? En jy weet dit was nie nodig nie, al die hartseer en vernedering en ellende? My ma was ’n onderwyseres. Sy kon ná my pa se dood weggegaan het van Kolkbaai en op ’n ander plek ’n ordentlike toekoms vir haar en haar kinders gaan opbou het. Maar dis jy wat haar teruggehou het. Dis jou skuld dat sy met Willem Krause gaan trou het om haar te beskerm teen jou vrou en Kolkbaai se giftige tonge. Jy kon haar nie beskerm nie, want dit was deur jou toedoen dat sy met die eerste die beste man moes gaan trou. En of dit nie genoeg is nie, maak jy toe van Willem Krause jou drinkebroer, jou boesemvriend wat jy pal met jou saamsleep.”
“Dit was hoofsaaklik om haar ontwil, hare en die kinders s’n. Hannelore, Willem Krause sou dronk gewees het al was ek nie naby hom nie. Dis ter wille van jou ma en die kinders, die kleintjies, dat ek hom altyd daar kom wegvat het, liewer saam met my geneem net. Dis ook hoekom ek gesorg het dat hy terug was op sy skuit voordat hy behoorlik nugter was.”
“En my ma? Sy moes so hard werk.”
“Omdat sy geen hulp van my wou aanvaar nie! Geldelike hulp het sy altyd geweier. Die kos wat ek gestuur het, het sy aan ander uitgedeel. Vir die huishulp wat ek vir haar gereël het, het sy ’n maand se salaris gegee en haar ontslaan. Die enigste manier waarop ek haar kon help, was om te sorg dat Willem Krause so min moontlik tuis was wanneer hy van die see gekom het.”
Hannelore voel verward, want die prentjie wat hier vir haar geskilder word, lyk skielik anders as die een wat sy al die jare met verbittering in haar hart vasgehou het.
Bernhardi beduie met sy hande in ’n vreemde gebaar van magteloosheid. “Ek erken dit was vir my maklik om dit te doen. Ek sou graag ’n swart doek oor daardie jare trek. Noem enige oortreding of sonde en ek kon my naam daaragter skryf. My wêreld het in duie gestort dié dag toe ek op Kolkbaai terugkom en hoor dat jou ma getroud is. Die enigste vrou by wie ek rigting kon gaan terugvind, was nie meer daar nie. Sy was nou die vrou van ’n ander man en ek kon nie meer my hart by haar gaan ontlaai nie. Daardie jare het ek die pad totaal byster geraak.”
Dis die Bernhardi’s wat sy die duidelikste onthou. Sy onthou hoe sy by haar broer Martin gepleit het om weg te breek van die Bernhardi’s en nie meer op hul skuite te werk nie. Hy moes saam met haar gaan, gaan verder leer, ’n ander toekoms vir hom weg van Kolkbaai gaan opbou. Maar Martin was verknog aan die see en die Bernhardi’s en aan die beeld van roekelose welvaart en skipper van jou eie lewe soos wat meneer Bernhardi dit destyds uitgeleef het.
En toe is Martin dood. Hy het die vorige dag nog jonk en sterk skuit toe gestap. Die volgende oggend het hulle sy lyk tussen die seewier en opdrifsels gekry. Twee dae later is nog ’n lyk uit Kolkbaai se see gehaal. Dié van Kato – die kaalvoet vissersmeisie uit ’n huis van nege. En waar sy daar op die wit strand van Kolkbaai gelê het, kon almal wat nader gehardloop het die tekens duidelik sien – die rede hoekom Kato van die hoogste rotse gespring en in die see gestort het.
Met ’n mislike gevoel in haar het sy daardie dag van die jong, dooie liggaam weggedraai en besluit dat sy nooit weer na Kolkbaai sou terugkom nie. Vir ’n oomblik het sy en Oloff na mekaar gekyk. Toe het hy gebuk, die slap liggaam opgetel en teruggedra na die rietdakhuisie.
Die ou man se oë rus stil op haar. Hy kan sien dat sy ver in die verlede terugdink. Dan vervolg hy:
“Toe is jou stiefpa dood, maar Hannie Krause het nie meer die moed of die lus gehad om weg te breek van Kolkbaai nie. Sy het nie meer die krag in haar oorgehad om êrens anders ’n nuwe begin te gaan maak nie. Jy, die een persoon wat haar miskien genoeg dryfkrag daarvoor kon gee, het sy toe meer as ses jaar laas gesien.”
Hannelore se blik sak en die ou man skud sy kop. “Dis nie ’n verwyt nie, Hannelore. Ek is die laaste persoon om enige ander mens verwyte toe te slinger. Ek sê maar net hoekom jou ma selfs ná Willem Krause se dood hier op Kolkbaai aangebly het. En toe word my vrou siek. Die laaste weke van haar lewe het hulle haar huis toe gestuur. Hannie Krause het uit haar eie gekom en haar hulp kom aanbied. Ons was almal baie dankbaar, want niemand anders op Kolkbaai sou so iets ooit gewaag het nie. Ironies dat dit juis sy moes wees wat die laaste dae van my vrou se lewe haar hand vasgehou het. Toe my vrou dood is, kon ek nie aanvaar dat jou ma weer uit my lewe moes stap nie. Ek het haar gesmeek om te bly. Ek kon nie die sin daarin sien dat sy en die kinders weer moes teruggaan na daardie rietdakhuisie toe terwyl ek hier alleen in ’n kasteel sit nie. Sy het ingestem om te bly, maar op haar voorwaardes: ’n blyplek apart van die res van die huis. En sy wou werk vir haar en Wil en Elaine se onderhoud. Trou sou sy nie met my nie, nie solank haar een dogter miskien nog eendag kon terugkom nie. Die pad moes oop bly … Dít, meer as haar vriendskap en die bestuur van my huishouding, moes ek nie van haar verwag nie. Ek het dit so aanvaar. En vier jaar lank hou ek my by daardie voorwaardes en is ek tevrede en dankbaar dat sy onder my dak bly en eindelik sekuriteit van my kry. Ek is dankbaar dat ek haar kan help om Elaine en Wil groot te maak en dat hulle ’n gelukkiger kinderlewe het as wat jy gehad het. Daarom staan my huis ook vir jou oop, Hannelore. Bly hier tot jou ma weer gesond is. Sy het min van die lewe ontvang. Gun haar hierdie bietjie geluk. Bowenal, gee haar ’n dogter wat in haar glo. Sy is dieselfde ma wat jy in die rietdakhuisie geken het. Jy moet my glo.”
Hy sien die twyfel in haar, die stryd waarin sy verkeer. Hy wag gespanne. Hy wens uit sy hart dat Hanchen se dogter ’n hele ruk in sy huis sal bly, want dis eers wanneer ’n mens saam onder dieselfde dak woon dat jy die baie hoekoms en waaroms begin verstaan. En dan eers kan jy ook vergewe.
Sy skram weg. “Dit kan weke duur. Die suster in die hospitaal het gesê Mamma sal minstens ses weke daar moet bly.”
“Wat is ses weke ná ’n tyd van elf jaar?”
“Ek kan nie so lank net rondsit nie.”
“Dis nie nodig nie. Ek het goeie huishulpe, maar die toesig ontbreek op die oomblik. Ek sal dit baie waardeer as jy my daarmee kan help.”
Sy weet sy is vas. En daar is buitendien niks wat haar op die oomblik terugtrek stad toe nie. Sy sal maar die ses weke hier bly en daarmee haar gewete tot ruste probeer bring.
Sy knik en Christoff Bernhardi glimlag dankbaar.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте