Kosbaar soos die lewe. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kosbaar soos die lewe - Christine le Roux страница 5
“Nee. Mieta gee my kos in die kombuis.”
“En waar eet jou pa?”
“Ek weet nie. Partykeer kom daar baie mense, en dan eet hulle hier. Ek weet, want ek kan hulle hoor al is ek in my kamer.”
Sy dink oor hierdie inligting. Dan is die man darem nie ’n algehele kluisenaar nie. Hy onthaal darem soms ander mense; vriende. Dit verbaas haar dat hy wel vriende het.
“Sal jy jou pa gaan roep?” vra sy op pad na die kombuis. “Sê vir hom hy kan maar kom eet.”
“Nee. Ek mag nie in die studeerkamer gaan nie.”
“Bog,” sê sy ongeduldig. “Klop net en sê hy moet kom eet.”
Die kind gehoorsaam bangerig, maar sy is vasberade. Dit moet end kry dat die kind in sy eie huis soos ’n uitgeworpene behandel word. Sy hoor ook geen uitroepe van woede nie, en toe sy die kos op die tafel neersit, kom die man in en gaan sit woordeloos aan die hoof van die tafel. Fransie sluip agter hom die kamer binne en kyk met bang oë na Elizabeth.
“Sit langs my,” sê sy en help hom op die deftig gestoffeerde stoel. Dokter Nel sit na sy tafelmatjie en kyk en wag dat hulle hulle self moet help. Sy skep met sorg vir die kind in en toe vir haarself, en daarna help die man homself asof hy onbewus is van die ander mense en die kos.
“Hoekom eet hy nie vanaand in die kombuis nie?” vra die man onbelangstellend.
“Hy kan nie alleen daar sit nie,” antwoord sy beslis.
Die man lewer nie verder kommentaar nie, en die kind sit sy kos angstig en eet. Dit maak haar woedend, en sy wonder of dit nie beter sal wees as sy en die kind in die kombuis eet nie. Sy wil nie hê hy moet so bang voel as hy eet nie. Sy is seker dis nie goed vir sy spysvertering nie.
“Het jy al dáárdie prent gesien?” vra sy vir Fransie en wys na ’n groot skildery van soldate en perde.
Hy knik net en kyk vinnig na sy pa.
“Nou, sien jy daardie soldaat met die rooi uniform en die goue helm? Sy naam is ook Frans.” Sy weet sy is seker belaglik, maar sy is vasbeslote om die kind se aandag van sy pa af te lei.
Die seuntjie kyk gefassineer na die prent, ’n vurk vol kos halfpad na sy mond. “Is dit regtig?”
“Ja. Hy was ’n baie dapper soldaat. Sy perd se naam is Pronk.”
“Pronk,” sê Fransie asof hy aan die naam proe. “Dis ’n mooi naam.”
“Het jy al ooit ’n perd gesien?” hou sy vol.
“Nee, net in prentjies.”
“Ek sal jou eendag neem dat jy ’n regte een kan sien. Was jy al ooit by die dieretuin?”
“Ja.” Sy ogies blink, en dit lyk asof hy sy pa se beklemmende teenwoordigheid vergeet het. “Ek het tiere gesien en leeus en bobbejane.” Hy vertel opgewonde verder tussen monde kos, en sy voel tevrede. Die man wat so stil sit en eet, mag dit dalk nie goedkeur nie, maar dit is jammer. Die kind is haar eerste verantwoordelikheid, sy pa is oud genoeg om na sy eie heil om te sien.
Gelukkig lui die telefoon net toe hulle klaar geëet het, en toe dokter Nel terugkom, sit hy sy servet neer en kyk na haar. “Ek moet uitgaan,” sê hy. “Ek weet nie hoe laat ek sal terug wees nie. Sluit asseblief al die deure; ek het ’n sleutel.” Net voordat hy by die deur uitgaan, kyk hy terug. “Dankie vir die kos.”
“Net ’n oomblik,” keer sy hom. “U het nie vir Fransie nag gesê nie.” Sy weet sy loop op dun ys, veral aangesien sy die man nog glad nie ken nie, maar sy het gesien hoe heldeverering met angs gemeng is wanneer die kind na sy pa kyk.
Dokter Nel bly staan asof hy nie reg gehoor het nie. Toe draai hy terug.
“Nag, Fransie,” sê hy en loop.
“Nag, Pappa,” fluister die kind. Elizabeth sien hoe sy onderlippie bewe, en sy voel lus om die man storm te loop en hom te skud totdat sy tande klap. In stede daarvan, sit sy haar arm om die dun skouertjies en sê gemaak vrolik: “En wie is lus vir ’n bakkie roomys?”
Fransie se ogies blink. “Ek is!”
Sy help hom van die stoel af, en hy help haar om die borde kombuis toe te dra. Hy eet sy roomys sommer in die kombuis terwyl sy die tafel afdek en toe sy klaar is, neem sy hom boontoe na sy kamer.
“Ek kom nóú vir jou ’n storie vertel,” belowe sy. “Ek gaan net gou al die deure sluit.”
Toe sy terugkom, lê hy al in die bed, en sy gaan sit by hom. Sy kan dit nie verhelp om weer eens na al die dose speelgoed wat daar lê, te kyk nie. “Speel jy ooit met al hierdie goed?”
“Nee.”
“Waarom nie?”
“Dis nie lekker om alleen te speel nie.”
“Het jy nie maatjies nie? Is hier nie ander kinders in die buurt met wie jy kan speel nie?”
“Ek weet nie. Ek speel met Bees.”
“O. Nou ja, môre sal ek en jy met die goed speel. Dit lyk vir my asof ’n mens wonderlike goed kan bou met die speelgoed wat jy hier het. Maar eers die storie. Hou jy van stories?”
Hy knik en sy begin vertel, maar voordat sy ver gekom het, is hy vas aan die slaap. Sy trek die laken oor sy maer skouertjies en sit net na hom en kyk, en sy wonder of iemand al ooit hierdie kind gesoen het. Sy onderdruk dié gedagte, want dit maak haar al hoe hatiger teenoor die kind se koue pa. Toe sy uitgaan, los sy die deur oop sodat sy hom kan hoor as hy dalk wakker word.
Onder in die kombuis was sy die skottelgoed en maak aan die kant. Sy is moeg en besluit om ook maar te gaan slaap, en sy wonder of sy in die studeerkamer mag ingaan om iets te kry om te lees.
Waarom nie? Sy pak die bul by die horings en loop in. Een leeslamp brand nog, en sy loop om die lessenaar om na die boeke te kyk. Haar aandag word getrek deur die foto in ’n silwerraam wat op die lessenaar staan, en sy tel dit op en bestudeer die gesig. ’n Baie mooi jong vrou, blond soos haar kind en met sagte, liefdevolle oë. Sy wonder wat die vrou sou doen as sy kon weet hoe haar kind behandel word, en met haar vinger teen die foto sê sy hardop: “Ek weet nie waarom iemand met so ’n sagte gesig soos joune met so ’n koue man getrou het nie, maar ek belowe jou ek sal Fransie mooi versorg en kyk of ek nie sy pa se houding kan verander nie.” Sy verbeel haar die mooi vrou verstaan wat sy sê en glimlag bemoedigend terug.
Uit die rak haal sy ’n boek, en sy is beïndruk deur die verskeidenheid leesstof. Die man het ten minste goeie smaak in boeke, moet sy toegee. Toe sy die deur weer agter haar toetrek, staan sy vir ’n oomblik en weifel en stap toe doelgerig kombuis toe. Sy moet ’n hele paar kassies oopmaak voordat sy kry wat sy soek, maar tien minute later loop sy uit met ’n skinkbord waarop ’n fles, ’n koppie en ’n bordjie winkelkoekies lê. Sy sit dit op die tafel in die gang neer sodat dokter Nel dit sal sien as hy inkom. Toe gaan sy boontoe, bad en klim in die bed.
Sy is nog wakker toe sy hom hoor inkom, en sy luister met gespanne aandag na sy voetstappe. Sy kan nie veel hoor nie, aangesien die dik tapyte alle geluide demp, maar ná ’n ruk hoor sy tog die geklingel