My redder, my beminde. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу My redder, my beminde - Malene Breytenbach страница 6
“Pleased to meet you, Miss Morgan,” sê die verpleegster met ’n breë glimlag wat skewe voortande wys. “Ek is ’n bewonderaar en sal mooi na jou kyk.”
Cindy Smith kug en frons. Die verpleegster lyk onmiddellik verbouereerd.
Milly staan met een hand op ’n heup na hulle en kyk. Krities. “Nou ja, ek kan nie anders as om tevrede te wees met alles nie. Dit lyk darem asof juffrou Morgan in goeie hande gaan wees, maar ek hou in elk geval ’n oog oor haar.” Sy buk en soen Adela se wang.
Adela druk haar hand. “Dankie, ek sien jou gou weer.”
4
Adela is stokstyf van spanning toe verpleegster Jackie haar kom haal om haar af te neem na die grondverdieping waar dokter Beresford se spreekkamer is.
“Kan jy my sê watter soort man die dokter is?” vra sy.
“O, hy is wonderlik, maar foeitog, hy het ook ’n tragedie in Suid-Afrika oorgekom. Hy en sy vrou het gaan seil en in ’n storm beland. Hul boot het gesink. Sy het verdrink. Hy het haar glo probeer red, maar tevergeefs. Toe kom hy Engeland toe.”
Deernis teenoor James Beresford wel in Adela op.
In die hyser sê Jackie: “Dokter Beresford is regtig bekwaam en een van die aantreklikste mans wat ek nog ontmoet het. Maar met sy voete plat op die aarde. Geen fieterjasies . . .”
Die hyser se deur gaan oop en sy sluk haar woorde in. Sy stoot Adela tot by ’n gang met ’n blink teëlvloer. Daar is ’n sagte gezoem van stemme. Adela se hart klop in haar keel. Waarom voel sy nou meteens so gespanne? Sy kan immers voor groot gehore optree en is gewoond aan skares.
’n Bronsplaat met Dr James Beresford, Director toon aan waar sy spreekkamer is. ’n Ontvangsdame sit agter ’n toonbank in ’n klein lokaal met net twee stoele vir pasiënte. Niemand anders wag hier nie.
“Ek bring juffrou Morgan na dokter Beresford,” sê verpleegster Jackie.
“Dokter verwag julle.”
Adela sluk senuagtig toe sy klop en ’n stem van binne af gehoor word. Die verpleegster stoot haar in.
Hy wag vir hulle agter ’n lessenaar, met sy donker kop gebuk oor iets op sy tafel. Hy kyk op. “A, goeiedag, juffrou Morgan. Hoe gaan dit nou?”
“So-so, dankie.” Soos voorheen, slaan hy haar asem weg.
Hy kyk na die verpleegster wat hom aanstaar. “Stoot juffrou Morgan tot hier voor die groot spieël, dankie. Ek wil haar net eers van naderby bekyk. Jy kan solank in die wagkamer wag, asseblief. My eerste ondersoek sal nie lank duur nie. Ek sal jou roep wanneer ek klaar is.”
Hy kom agter die lessenaar uit en trek ’n stoel nader. Adela sit stokstyf soos ’n meerkat op sy agterpote. Wag dat hy die wonddekking op haar wang afhaal. Hy werk sagkens. Toe dit af is, kyk hy na die letsel. “Mmm.”
Dink hy dit is erger as wat hy verwag het? Sy kyk na hom en probeer haar vrees wegsteek.
Die groot man sit oorkant haar en kyk stip na haar. Hul knieë raak amper. Sy ruik naskeermiddel en merk die sterk, skoongeskeerde kaak en bolip, met die skadu van swart baard op. Sy vel is glad en gesond, en hy is besonder bruin gebrand in vergelyking met die plaaslike mans. Langs die blink donker oë is lagplooitjies. Tussen die pikswart, redelik swaar wenkbroue keep ’n frons. Dit voel asof hy dwarsdeur haar kan sien. Asof hy kan sien hoe sy innerlik wroeg.
Sy laat sak haar oë en kyk na sy groot, welgevormde hande, met die prominente are, kort, skoon naels en swart haartjies aan die rugkant, wat op sy knieë rus. Hy het die vingers van ’n pianis. Dra nie ’n ring nie. Sy wip amper toe hy een hand lig en haar aanraak. Sy vingers sluit liggies om haar ken. Saggies draai hy haar kop heen en weer, kyk na die profiel, beskou haar reg van voor af. Die groot, donker oë tussen swart wimpers konsentreer so intens op haar dat sy hom amper nie in die oë kan kyk nie. Waarom voel sy tog nou so vreemd geïntimideer? Sy het mos genoeg selfvertroue, veral wat mans betref, herinner sy haarself vir die soveelste keer.
“Hmm, bykans ’n perfekte skedel: ronde hoë wangbene, oë goed geplaas, hoë voorkop, oogkaste ongeskonde, kaak en mond goed gevorm.”
Sy word warm onder sy vingers toe sy bloos. Hy kug liggies, kyk streng professioneel na haar. Sy moet haar nie verbeel hy komplimenteer haar skoonheid nie. Sy maan haarself weer dat hy net kyk met watter soort materiaal hy moet werk.
Hy los haar ken en sit effens terug. Sit met sy hande op sy knieë en kyk stip na haar.
“Mense wat hierheen kom met watter probleem ook al, is nie bloot materiaal en weefsel wat ons verwerk nie. Hulle het ook sielkundige letsels of vrese. Jy is bang dat so ’n besering jou loopbaan sal benadeel. Ek kan jou vrees verstaan. Jy is nie die eerste pasiënt wat met dié vrees voor my sit nie. Ek verseker jou dat ons al mense wat moedeloos was, gelukkig hier weggestuur het.”
Adela knik. Ja, hy is gewoond aan die ydelheid van beroemdes. Miskien keur hy dit heimlik af, maar hy maak terselfdertyd ook sy bestaan daaruit om daardie ydelheid te bevredig. “Ek sal jok as ek sê ek is nie bang vir permanente skade of dat ek nie kwaad is oor wat met my gebeur het nie. Ek voel heeltemal uitgelewer aan die genade.”
Die skerp oë versag. “Dit is natuurlike reaksies, juffrou Morgan. Jy is nie bloot hier omdat jy mooier gemaak wil word of jou natuurlike voorkoms wil verbeter nie. ’n Ramp het jou getref. Maar ons kan daardie ramp se skade beperk.”
Sy woorde laat haar sommer veel beter voel. “Jy kan my gerus Adela noem, dokter, aangesien jy my heeltyd gaan sien.”
Sy wenkbroue wip op. Hy glimlag, maar sy bespeur ’n sweem van onwilligheid.
“Goed, Adela, hoewel ek gewoonlik nie op voornaamterme met my pasiënte is nie.”
“Jy behou ’n professionele afstand,” sê sy skerper as wat sy bedoel het en kry dadelik skaam toe hy afkeurend na haar kyk.
“Ja, maar ek sal jou Adela noem as jy wil. Eintlik ken ek jou lankal. Ek het jou in meer as een rolprent gesien.”
Verstom gaap sy hom aan. “Kyk jy graag na periode-films?”
Hy grinnik meteens. “Jy sal dit seker nie glo nie, maar ek hou nogal van Jane Austen se goed. Dit is na alles fyn sosiale kritiek. Ek kyk ook graag na enigiets waarvan Sam Williams die regisseur is. Hy maak nie snert nie.”
“Wel, dis ’n verrassing.”
Sy grinnik verdwyn. “Dink jy dan dokters stel nie in die kunste belang nie?”
“My broer, Vernon, is ’n dokter en hy stel in die kunste belang. So waarom nie jy ook nie?”
Hy kyk haar sedig aan. “’n Man moet darem wye belangstellings hê.” Hy staan op. Sy blik gaan oor haar pols en enkel in gips. “Een van die dae loop jy weer, is jy perdfris en reg vir die verhoog en kameras.”
Sy moet hom vertrou. Terselfdertyd moet sy haar afstand behou en nie emosioneel deur hom begogel word nie.