Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk страница 10

Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

leer, en dan kan ek jou net voor aandete terugbring.”

      “Daardie storie het ek ook al gehoor,” glimlag Sonja en skud haar kop. “Nee, meneer Kobus, ons koop jou hemde en dan bring jy my dadelik terug. Ons gaan môreaand uit, en dis meer as genoeg. Ek wil net gou my hande was en my hare borsel. Gesels jy maar solank met Ilse.”

      “Ons trou eers oor ’n jaar, maar sy sit al klaar op my kop!” kla Kobus en sy oë rus sag op die slanke meisie toe sy by die binnedeur van die kamer uitglip.

      “Soms wonder ek waarom julle nie reeds die einde van hierdie jaar trou nie,” sê Ilse en gaan sit op die armleuning van ’n stoel oorkant Kobus.

      Hy suig aan sy pyp en knik stadig. “Ek het ook so daaroor gevoel, maar Sonja kan ’n hardekop wees as sy wil. Sy sê as sy trou, wil sy ’n huisvrou en ’n moeder wees, nie ’n werkende getroude vrou nie. En dis waar. Ek sal self meer gerus voel as ek weet daar is genoeg geld wanneer die eerste klein Krynauwtjie sy verskyning maak. Ons raak in elk geval Desember verloof – maar jy weet daarvan, want jy is eerste uitgenooi na die groot geleent­heid. Maar wat van jou, Ilse? Het jy nog nie trouplanne nie?”

      “Ek soek nog steeds na die regte man om op verlief te raak,” antwoord Ilse ontwykend.

      “Ek’s bly om dit te hoor. Ek was al ’n bietjie bekommerd dat jy dalk van plan is om ernstig met Bruce te raak.”

      “Arme Bruce. Julle is almal so verskriklik gekant teen hom dat ek later uit pure jammerte met hom sal trou,” sê Ilse half geïrriteerd.

      “Ons ken miskien net vir Bruce beter, en dis nie ’n mooi prentjie nie,” sê Kobus ernstig en staan op toe Sonja weer die kamer binnekom. “A, lyk my meisie nie nou pragtig nie?” Hy plaas sy arm besitlik om haar skouers. “Sien jou, Ilse. En luister maar vir jou oom. Bruce is die regte ou vir ’n dom meisie, maar jy is gelukkig nie dom nie.”

      “Ek sal dit onthou,” sê Ilse met ’n teësinnige glimlaggie en kyk die twee agterna.

      Arme Kobus, hy bedoel dit goed, mymer sy. Eintlik bedoel hulle dit almal goed: Sonja, tant Truia, Henk en nou Kobus. Sy self weet ook die waarheid, maar geld is tog belangrik … of is dit? Snaaks, gister was sy nog redelik seker, maar hoe meer sy daaroor dink, hoe minder aantreklik word so ’n huwelik. Vier jaar gelede het sy na die universiteit gekom met twee doelstellings voor oë: om haar graad te behaal, en om met ’n ryk man te trou sodat sy haar ouers kan help. En nou? Noudat die oomblik van waarheid aangebreek het, noudat sy met ’n ryk man of eerder met die seun van ’n ryk man kan trou, is dit skielik nie meer vir haar so ’n aanloklike moontlikheid nie.

      Sy staan op en stap na die wye venster. Haar oë rus op die ou peperboom. “Want ek wíl eendag trou, maar ek wil trou omdat ek die man liefhet en respekteer. Ek wil voel soos Sonja oor Kobus voel, oor my man praat soos sy oor Kobus praat,” fluister sy vir die lowergroen takke wat liggies in die windjie roer.

      En daardie man sal nie Bruce wees nie. Hy sal anders wees, meer soos Kobus … nee, soos Henk. Henk, vandag in die eetkamer … Sy kon die bewondering in sy oë lees, kon sien hy hou van wat sy vir hom van haar ma vertel het. Henk sal bitter teleurgesteld in haar wees as sy met Bruce trou, en sy sal al sy respek verloor. En dit is vir haar belangrik om sy respek te behou, want hy is ’n goeie vriend, die beste vriend wat sy nog gehad het. Nee, sy sal beslis nie met Bruce trou nie …

      Sy voel skielik vreemd vry en lag verlig. Dit het haar meer gehinder as wat sy self besef het – haar vrees dat sy dalk met Bruce sou trou. Want hy het reeds ’n paar keer in daardie rigting gepraat, maar sy het hom elke keer ontwyk omdat sy nie seker was nie. Maar nou kan hy maar ’n duisend keer vra, want sy weet vir seker dat haar antwoord altyd nee sal wees.

      Skuins voor vieruur staan Ilse op en skakel die ketel aan. Toe sy orent kom, gewaar sy Tanya in die kamerdeur.

      “Swot jy?” vra Tanya onseker, bewus dat selfs die goedige Ilse nie kan verdra om in haar studies gesteur te word nie.

      “Ek was van plan om ’n koppie koffie te maak voordat ek verder werk,” antwoord Ilse en wys na die leunstoel. “Kom sit, Tanya. Wil jy saam koffie drink?”

      “Ek moet eintlik gaan regmaak om uit te gaan,” sê Tanya ongemaklik en kyk huiwerig na die boek in haar hand en dan na Ilse. “Dis net dat ek gewonder het of jy my nie kan help nie, Ilse. Ek weet jy wil geld verdien vir jou aandrok, en ek onthou jy het al in die verlede tikwerk gedoen. As … as jy al hierdie kuns­geskiedenis-aantekeninge vir my kan oortik … Jy vra mos dertig sent vir ’n bladsy?”

      Ilse kyk met ’n hulpelose glimlag na Tanya en skud haar kop onbegrypend. “Hoekom is jy so bang om vir my te vra? Goeiste, dis mos jy wat vir mý ’n guns doen! Gee hier.” Sy neem die dik aantekeningboek by Tanya en skud haar kop weer. “Jy gaan betaal dat jy hik, Tanya. Het jy dan geen aantekeninge nie?”

      ’n Warm gloed verdonker haar gesig. “Nee, ek het my aantekeningboek verloor. Jy weet mos ek was verlede naweek by Petro, en ek het my boek saamgeneem om te swot. Ons het ’n groot partytjie gehad en alles was ’n bietjie deurmekaar. Toe ek Sondagaand inpak, was my aantekeningboek net skoonveld. Petro het weer gedurende die week daarna gesoek, maar sy kon dit nie kry nie.”

      “Moes ’n lekker partytjie gewees het,” skerts Ilse goedig. Sy frons effens en vra onseker: “Jy het gesê Petro het stories oor Henk vertel. Wat het sy te vertel gehad?”

      Tanya bloos dieper en lag selfbewus. “Niks besonders nie, net dat sy al gehoor het Henk is ’n gawe ou om mee uit te gaan. Hy neem glo altyd die asters na die beste plekke in die stad.”

      “Is dit al?” vra Ilse en die verligting is hoorbaar in haar stem. “Ek dag jy het gehoor hy is ’n wilde ou?”

      “Nee, natuurlik nie, maar wat Henk doen, het in elk geval niks met ons te doen nie.” Sy sug en kyk pleitend na Ilse. “Ek weet Sonja kan my nie verdra nie, maar ek kan dit nie help nie, Ilse. Henk is die man vir my – ek weet dit. Ek weet julle dink almal ek stel net in mooi klere en partytjies belang, maar dis nie regtig so nie. As ek ’n man soos Henk gehad het, sou ek heeltemal anders gewees het. Maar hy is so koud en onbereikbaar, amper soos iemand in ’n droom.”

      “ ’n Droom anderkant die horison,” glimlag Ilse begrypend. “Ek dink ons het almal sulke drome, Tanya – drome wat ons graag eendag sal wil bewaarheid, maar dis nie altyd moontlik nie. Ek het ’n droom om eendag gelukkig getroud te wees, om ’n huis en kinders te hê, maar ek weet nog nie eens wie die man sal wees nie. Dis daarom dat ek sê my droom lê anderkant die horison, want ek kan nog nie eens sien wie almal in my droom sal wees nie.”

      “Dalk nog Henk,” sê Tanya skor en daar is ’n wrang trek om haar vol mond.

      “Henk? Wat laat jou so dink? Lyk dit of ek op hom verlief is?” vra Ilse geïrriteerd.

      Tanya vee senuweeagtig ’n paar los hare uit haar gesig en antwoord vinnig: “Moenie jou vir my vererg nie, Ilse, maar … Het jy nog nooit agtergekom hoe Henk na jou kyk nie? Nie dikwels nie, maar soms as hy dink niemand kyk na hom nie. En hy tree altyd vreeslik beskermend teenoor jou op. Ek onthou ek het eendag iets van jou en Bruce gesê, en Henk was dadelik op sy perdjie. Hy’t gesê Bruce kan maar gerus sy pa se geld mors en vir jou duur etes koop, maar Bruce sal nog leer dat hy nie ’n oulike meisie met sy baie geld kan koop nie.”

      Hy hét amper, dink Ilse skuldig en glimlag gerusstellend vir Tanya. “Dit klink nog glad nie asof Henk verlief is op my nie, Tanya. Miskien sien jy maar net dinge raak wat nie daar is nie, juis omdat jy op hom verlief is. As jy miskien minder uitgaan en harder studeer en nie

Скачать книгу