Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Schalkie van Wyk Keur 12 - Schalkie van Wyk страница 8
“En ek neem aan sy kom dikwels kuier?” vra Henk laggend.
“Héél dikwels!” beaam Sonja, terwyl haar oë op die glimlaggende Ilse rus. “Vra maar vir Ilse hoeveel keer tant Lenie se tien rand ons uit ’n groot droogte gered het. Haai, Ilse, ek wonder …? Maar natuurlik, die twintig rand kan in ons porseleinvarkie gaan vir jou nuwe aandrokfonds!”
“Beslis nie, Sonja,” protesteer Ilse en daar is ’n blos van verleentheid op haar wange. “Ek gaan nie jou geld gebruik om vir my ’n nuwe aandrok te koop nie.”
“O, jy sal dit mooitjies moet terugbetaal as jy volgende jaar begin werk, met rente!” dreig Sonja. Sy soek hulp by Henk. “Toe, praat met die kind, Henk. Sy wil ekstra werk doen om geld vir ’n aandrok te verdien, maar jy weet self daar is nie juis tyd om in hierdie stadium van die jaar te mors nie. Ek het nie nou tant Lenie se twintig rand nodig nie, en as ek boonop ’n sommetjie vet rente kan kry …” Haar oë rus stout op Ilse wat hulpeloos glimlag.
“Ek sou sê dis niks anders as goeie besigheid nie,” sê Henk. “Vat die geld, Ilse, en as sy jou volgende jaar te veel rente vra, skryf vir my. Dalk moet ek en tant Truia ook ’n paar rand in die aandrokfonds belê. Dit lyk my ons kan goed geld maak!”
“Hoekom skryf jy nie net vir jou ma dat jy ’n aandrok nodig het nie, Ilse? Ek het nog gister vir my ’n nuwe aandrok gekoop, en my ma het beloof om later in die maand vir my nog een te koop,” sê Tanya onbegrypend.
“Hemel, maar sy’s toe,” knor Sonja grimmig. “Hoeveel keer moet ons nog verduidelik dat ons ouers nie geld soos tamatieplantjies in die groentetuin kweek nie, Tanyatjie?”
“Wie sê hulle doen dit?” kap Tanya terug. “Ek weet Ilse se ouers is nie so ryk nie, maar hulle kan seker vir haar ’n laaste aandrok koop. Goeiste, dit kos mos nie duisende rande nie!”
“Nee, net ’n hele maand se kruideniersware,” sê Ilse met ’n stil glimlag in haar oë. “Moenie jou kop daaroor breek nie, Tanya. Jy sal tog nooit verstaan hoe ’n mens genoeg geld vir kos kan hê, maar nie genoeg om elke dag ’n nuwe aandrok te koop nie.”
“Maar dis mos nie elke dag nie. Jy het al jou ander aandrokke self gemaak, en ek dink dis gemeen van jou ma-hulle om –”
“Jy praat deur jou nek, Tanya,” sê Henk rustig, maar sy oë is koud. Hy draai na tant Truia. “Kan ek nog ’n bietjie groenbone en rys kry, tante?”
“Natuurlik, my kind,” antwoord die bejaarde vrou met ’n ingenome glimlag. “Dis so lekker om te sien ’n mens se moeite word waardeer.” Sy neem self sy bord en skommel kombuis toe.
“Ek wil nog pampoen en vleissous hê, tante!” roep Sonja en draf met haar bord in haar hand agterna.
“Verskoon my,” kom dit kil van Tanya. Sy skuif haar stoel ergerlik agteruit en stap heupswaaiend die eetkamer uit.
“Foei tog, julle moenie so snaaks teenoor Tanya optree nie, Henk,” sê Ilse. Haar oë is pleitend op sy gesig. “Tanya het eerlikwaar nie ’n benul van die waarde van geld nie. Sy koop doodeenvoudig wat sy sien, en sy kan net nie begryp dat daar wel mense is wat hulle sente twee keer moet omdraai nie.”
“Onsin,” antwoord hy ongeduldig, sien die blos op Ilse se wange en vervolg gemoedeliker: “Sonja kry tog ook volop sakgeld en klere, Ilse, maar sy verstaan dat jy dit nie so breed het nie. Moenie vir my sê Tanya het nog nooit voorheen iemand geken wat nie alles kan koop wat hy wil hê nie. As ek en Sonja dit kan begryp, kan sy ook, maar ek weet dis haar manier om te spog, om ons almal te laat verstaan dat sy darem ’n hele entjie ryker as jy is. Dis wat my so kwaad maak! Sy vryf behoorlik jou armoede vir jou in, en dan is jy nog partydig vir haar!”
“Seker omdat my armoede my nog nooit kon skeel nie.” Sy sien die ongeloof op sy gesig en vervolg ernstig: “Ek bedoel dit, Henk. Toe ek nog jonger was en dikwels gekla het omdat ek nie ’n nuwe rok of ’n tennisraket kon kry nie, het my ma my eendag na die spieël geneem. Sy het vir my gewys ek het ’n mooi gesiggie en ’n gesonde liggaam – iets wat duisende ryk kinders nie het nie. En sy het gesê dat as ek die dag klaar gestudeer het, as ek self genoeg geld verdien, daar geen verskil tussen my en die rykes sal wees nie, behalwe dat ek nog mooier as hulle sal wees. Ek is nie verwaand nie, eerlikwaar nie, maar ek het tog altyd geweet ek is nie die lelikste in die skool nie. En sulke dinge maak saak, veral as jy dag vir dag met dieselfde verbleikte rok moet loop – want armoede is nie werklik prettig nie, behalwe as jy weet dat daar eendag ’n einde aan sal kom.”
Hy kyk diep af in die blou van die meisie se oë, en sy sien hoe ’n sagte gloed in sy oë kruip, sien hoe ’n vreemdheid in die effense glimlag om sy mond. “Jy het ’n verstandige ma, Ilse,” praat hy en sy stem is effens skor, “want sy het jou op haar manier geleer dat dit saak maak wat jy is, nie wat jy besit nie. Armoede was goed vir jou, want dit het van jou ’n mooier mensie gemaak.”
“Jy laat my byna dankbaar voel omdat ek arm grootgeword het,” skerts sy, maar dan kom die ou bitterheid weer in haar oë. “Miskien was dit goed vir my, maar dit kan nooit goed wees vir my ma nie – nie as dit vir ewig moet aanhou nie.”
“Maar sal …?” begin hy en swyg toe die kombuisdeur oopgaan en tant Truia, gevolg deur Sonja, die eetkamer binnekom.
“O, lekker, die ryk dingetjie is weg!” sê Sonja en neem weer langs Henk plaas. “En moenie soos ’n kerkvader na my kyk nie, Henk Retief. Jy vervies jou net so baie soos ek as Tanya haar pa se geld onder ons neuse vryf!”
“Ek staan beskuldig!” lag hy en neem sy bord by tant Truia. “Dankie, tante. Ek gaan darem volgende jaar hierdie lekker borde kos mis.”
“Aag, bog met jou, Henk! As jy op ’n plaas gaan werk, kry jy elke dag vars vleis en groente, om nie van al die vars melk en botter en room te praat nie!” maak tant Truia beswaar, dog haar oë blink toe sy sy vleiende woorde hoor.
“A, lekker aarbeie en room – dis waarvan ek gaan leef as ek die dag my eie plaas besit,” praat hy met niemand in die besonder nie.
“En voor jy veertig is, het jy ’n dubbele ken en ’n boepmaag,” voorspel Sonja.
“En ’n vrou en ses kinders wat glad nie sal omgee vir my dik middeljare nie, solank ek ’n stywe bankrekening het,” terg hy.
“Julle kinders darem!” glimlag tant Truia hoofskuddend. Sy kyk na Ilse wat reeds klaar geëet het. “Nog iets, hartjie? Jy en Sonja leer juis so hard. Julle moenie julle etes verwaarloos nie.”
“Ek het meer as genoeg gehad, dankie, tante. Gewoonlik verstom ek my so aan Henk en Sonja se vermoë, dat ek skoon my eetlus verloor!”
“Jy sal maak dat ek onder die tafel sit en eet,” dreig Henk donker. Hy kyk ’n oomblik na haar gesiggie en vra vinnig: “Waarvoor het jy die nuwe aandrok nodig? Gaan jy saam met Bruce dans?”
“Hy het my gevra, ja, maar die dans is eers na die einde van die eksamen,” antwoord sy en wonder ergerlik waarom sy byna skuldig voel om dit teenoor Henk te erken.
Tant Truia klik haar tong meewarig. “Nog steeds daardie ryk pierewaaier? Ai, tog, kindjie, maak nou ’n slaggie my ou hart bly en kry vir jou ’n ordentlike jongetjie voordat jy hier uittrek. Ek sal my mos siek bekommer as jy eers weg is, en daardie leeglêer lê nog