Die ewigheid in my hart. Barend Vos
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos страница 15
en met soveel oortuiging oor U wat oorwin het,
en ons wat die deure vir U oopmaak …
maar ons weet dat U nie vir óns wag
wat eers moet oopmaak nie.
Dat U die deure sal platloop as U sou wou.
Ons weet dat dit nie óns plek is waar ons
U sogenaamd toelaat nie.
Hierdie plek en sy mense
behoort aan U.
Daarom, as U nie omgee nie …
as U ons die voorbarigheid sal verskoon:
Kom asseblief binne, kom maak U tuis.
Hier in u plek.
Hier by ons,
u eiendom.
Lees Psalm 25:1-5 | 7 Februarie
Verlang
Here, is dit vir ’n mens moontlik om na U te verlang?
Ek bedoel, verláng, soos jy na jou geliefdes verlang –
jou ouers, jou kinders, jou hart-se-punt?
Soos na iemand van wie jy weet:
Sonder jou kan ek nie lewe nie?
In daardie geval wil ek dan sê: Ek verlang na U.
Ek wens dat U sal kom gesig wys, kom inloer
en knipoog as U my sien.
En dalk by my kom sit en praat,
my kom raad gee, my wys watter pad
is die regte een.
Of lig tog net ’n hand,
wuif, al is dit van ver.
Groet, beduie,
en sê iets soos: Sóóntoe, my kind!
Want ek wag al lank. Ek sit en hoop
dat U na my kant toe sal kyk, hierheen kom.
Die godgeleerdes sê U kom na óns toe;
ons kan nie gaan na waar U is nie.
Nou wag ek maar.
Niemand wat op U vertrou sal in die steek gelaat word nie –
só lui die geloof van hulle wat maklik glo.
Daarom wag ek, vol vertroue (dink ek).
Want iémand moet my kom vertel van die paaie,
van die keuse by die vurk,
en oor hoekom die afdraaipaaie
sulke vriendelike naamborde het.
Ú sal weet; hulle sê U weet alles.
U ken glo ook die waarheid oor die pad vol duwweltjies
wat my al so verwond het op hierdie reis.
Leer my dit, Here.
Ek sit en wag op U,
vol verlange.
Lees Psalm 25:6-8 | 8 Februarie
As U dit oor u hart kan kry …
Ek het so verskriklik drooggemaak, Here.
En dit is nie iets nuuts nie.
Dit is nie ’n eenmalige vergryp nie.
Dit kom van ver af.
U weet waar dit begin het.
Ék kan nie eens meer onthou nie;
dit was so lank gelede …
Soms is juis dít my troos. Soms paai ek my en sê:
Toemaar, jy was jonk …
En dit ís so: Dit was die gevolg van my dommigheid.
Nuuskierigheid. Die aanloklikheid van “verbode terrein”.
Jonk. Dom. Naïef.
Maar U weet ook dat dit nie die volle waarheid is nie.
U weet dat ek toe reeds genoeg verstand gehad het
om te weet dat wat ek doen, nié reg is nie.
Nogtans het ek daarmee volgehou. Nog erger:
Ek het dit wéér gedoen, en weer en weer.
Erger en erger.
Dit het ’n patroon geword.
’n Tronk.
Daar wás omdraaikans.
Ek hét die heerlikheid van bevryding gesien en iéts daarvan geniet.
Maar toe ek my kom kry, toe doen ek weer wat ek nie wil nie.
Nou vra ek, Here, asseblief, moet tog nie daaraan dink
as U oor my dink nie. Kyk verby die tralies.
Sien my … nié soos ek is nie.
Oordeel my nie oor wat ek gedoen het nie.
Kyk na my deur die oë van ’n barmhartige.
Help my om te ontsnap, Here. Maak my hiervan los,
en van myself. Bevry my.
En as U dit oor u hart kan kry:
Vergewe my.
Lees Psalm 25:9-14 | 9 Februarie
Die pad wat U my wys
Ek loop die pad wat U my wys, Here,
ek volg die rigting wat u vinger aandui.
Dankie dat U my dit elke dag leer.
Dat my gewag nie tevergeefs was nie,
dat my selfopgelegde gevangenskap
U en u genadewerk nooit beperk nie.
Dankie