Duet. Johan Ferreira
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Duet - Johan Ferreira страница 4
Vandag was dit weer dieselfde storie. “Ons kan maar afgaan strand toe,” kondig Johan aan, terwyl hy sy drafskoene aantrek. “Dis laaggety.” Soms draf of stap ek saam met hom en die seuns; ander kere verkies ek, soos vandag, om tussen die duine rond te dwaal op soek na spoelklippe, skulpe of stukke mooi dryfhout.
Hier tussen die hoë duine en die blou branders verloor ek tred met tyd en slenter doelloos met my oë op die sand gerig. Ek buk nou en dan af om iets moois op te tel en gaan staan elke paar minute stil om oor die branders te tuur. Ek volg die fyn spoortjies van strandlopervoëltjies oor die duine en bewonder die wit wolkpatrone. Te gou is ’n uur of wat daarmee heen. Dis gewoonlik ons bruin labrador, Tinder, wat eerste aangedraf kom en dan weet ek dat die manne se missie voltooi is.
“Dit was nou lekker!” sê Johan toe hy uitasem en natgesweet by my aankom. “Ja, lekker inderdaad,” antwoord ek, terwyl ek die sak met skulpe vir hom aangee om motor toe te dra.
Vier jou uniekheid as mens. Doen iets vir jouself wat jou maat nie noodwendig sal geniet nie.
Dankie, Here, vir die vreugde wat my maat se andersheid my bring, en die eiesoortige manier waarop U ons elkeen geskep het. Amen
13 Januarie
Vele hande, ligte werk
2 Korintiërs 12:9 – My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking. (NLV)
Teen drieuur word ons wakker. Ons wil vieruur in die pad val terug huis toe. Ons het reeds die aand vantevore alles wat nodig is, gepak. Nou is dit net opstaan en inlaai. Ons maak vir oulaas die strandhuis se deure en vensters dig toe tot ons volgende kuier.
Vir die pad het ek flessies koffie en toebroodjies gepak. Ook die varsgebakte pasteitjies wat ons gister by die deli op Bathurst gekoop het. Dis meer as 1 000 kilometer huis toe en ons wil so min moontlik langs die pad stop.
Johan bestuur, soos die gewoonte is, die eerste stuk van die pad. Dis volmaan toe ons by ons strandplekkie wegry en ons die Vader vir genade en beskerming vir die langpad vra. Ek raak kort duskant Oos-Londen aan die slaap. Teen die tyd wat ek weer wakker word, skyn die eerste lig oor die veld. Ons hou vinnig vir brandstof in Aliwal-Noord stil. Daar’s ’n byt in die helderblou oggendlug.
Francois, ons oudste, neem hiervandaan die stuur. Ek neem my plek in op die agterste sitplek. Johan sit voor langs ons kind. By Ventersburg hou ons stil om bene te rek en ’n koeldrank te koop. Vir die laaste stuk van die pad skuif Johan na agter om hopelik ’n uiltjie te knip en is dit my beurt om die laaste stuk van die pad huis toe te bestuur.
Spanwerk is noodsaaklik – so maak julle die las sommer ligter. Wat kan jy doen om jou maat se lewe makliker te maak?
Here, help ons om die stuur van ons lewe aan U oor te gee – en nie kort-kort terug te gryp nie. Amen
14 Januarie
Die warrelwind van sy genade
Psalm 91:1-2 – Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige. Ek sal vir die Here sê: “U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou.” (NLV)
Die lewe vat ’n mens soms op ’n onbekende, vreemde vaart en spoel jou op ’n klipperige, koue strand uit. En daar lê jy, blootgestel en ontredderd.
Ek word genooi om my studienavorsing in die VSA aan te bied. Ná vier jaar van worstel meen ek en twee slim professore dat ek die onderwerp van praktiese wysheid genoegsaam bestudeer het.
Philadelphia, in die deelstaat Pennsylvanië, is ’n groot stad tussen twee riviere. Ek voel ver van alles en naby aan niks. Vertwyfeling oorval my kragdadiglik. Ek probeer my vrou bel, maar die tydsverskil fnuik ons. Ek veg met God oor ek nie eens gepraat kry met een wat darem in my glo nie!
Die oggend van my aanbieding daag ek bleek en naar by die internasionale konferensiesentrum op. ’n Vriendelike Australiër koop vir my koffie en stel my voor aan sy vriendin uit Israel. Hulle babbel voort asof ek iemand van groot kennis is. In hierdie klein warrelwind van God se genade vergeet ek van die knoop in my maag.
Daardie middag loop ek ver in die geskiedkundige stad rond. Ek sien installasiekuns, en beland voor die standbeeld van die bokser Rocky! Op die trappies van die kunsmuseum sit ek lank, en glimlag skaam en dankbaar. Dat die Here nou daai twee vreemdelinge sou stuur om my onstuimige gemoed te kalmeer.
Ek dink aan my beskuldigings hemelwaarts vanoggend: Was ek dan nie reeds in gesprek met die Een wat in my glo nie?
Waar gaan ek heen wanneer ek onseker voel?
Ewige Vader, hou my tog bewus van u alomteenwoordige liefde vir my. Amen
15 Januarie
’n Bêre-briefie uit jou hart
Markus 10:9 – Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.
Terwyl ek kaste regpak, kom ek op die kartonboks met briefies, kaartjies en foto’s af. Die boks is propvol herinneringe.
Heel bo lê ’n pak verjaardagkaartjies. Daar is ’n swart satynlint met my naam en van in goud op geborduur, ’n foto van my en Johan wat toe pas begin uitgaan het, en talle Moedersdagbriefies van die seuns – met die hand geskryf en kleurvol versier met blomme, harte en soene.
Daar is ’n ligpers koevertjie met ’n gedroogde roosknoppie binne-in en buite-op die datum, 10 Januarie 1924. Ek wonder waar die koevert vandaan kom en onthou eers heelwat later dit is Ouma, lank reeds oorlede, se geboortedag. Ek ontdek skoolprogramme van prysuitdelings en die mooiste briefies en kaartjies wat Johan vir my geskryf het.
Lank sit ek deur die kosbare herinneringe en tasbare tekens van liefde en blaai. Heel onder in die boks kom ek af op ’n leë bruin koevert waarop iemand met ’n goue pen Egpaar Ferreira geskryf het. ’n Kaartjie met silwer harte sê voorop Marriage is a gift. Dit is geteken deur mense wat ek nie eens ken nie, waarskynlik van Johan se vriende wat ons troue bygewoon het.
Aan die binnekant is egter dié wyse woorde geskryf: Marriage is a gift you give each other – a gift of yourself that connects you in spirit and completes you in body, mind and soul. It’s something for you to honour and care for, just as you do each other.
Skryf vir jou maat ’n bêre-briefie oor hoe jy oor hom voel en wat hy alles vir jou beteken.
Here, dankie vir my man se liefde en ons saamwees. Help my om dit soos ’n kosbare geskenk te koester. Amen
16 Januarie
Man en vrou word één
Genesis 2:24 – Dit verklaar waarom ’n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een word. (NLV)
Ons verhouding met ons eie ouers ontwikkel gewoonlik vanuit die gesin van herkoms. Dis hier waar ons lewenslesse leer en gewoontes vorm. Dis gewoonlik die eerste plek waar ons liefde maar ook verwerping beleef.
God