Donderslag. Wilbur Smith
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Donderslag - Wilbur Smith страница 13
Maar dit is nie al nie, hy weet hy vermy die grootste kwessie – Ruth. Toe hy weer aan haar dink, word hy oorweldig deur verlange, wanhoop waarvan hy die gelyke nog nooit deurgemaak het nie. Hy kreun, en wend sy oë tot die môrester wat op die pienk horison verdof namate die son opkom.
Nog ’n paar minute lank versink hy in die teerheid van sy liefde; hy onthou haar manier van stap, die donker erns van haar oë, haar mond wanneer sy glimlag en haar stem as sy sing – totdat die herinneringe dreig om hom in hul knusse sagtheid te versmoor.
Dan spring hy orent en loop rusteloos heen en weer deur die gras langs die vuur. Hy moet wegkom van hierdie plek af, en sommer gou ook. Hy moet iets kry om te doen, iets wat hom sal keer om verder so te dink, iets waarmee hy sy hande besig kan hou, die hande wat nou brand van die begeerte om haar weer vas te hou.
Met die pad langs, noordwaarts na Colenso toe, marsjeer ’n lang kolonne infanterie verby hom in die oggendlig. Hy steek vas en hou hulle dop. Elke man leun vorentoe onder die swaar rugsak en die geweerlope staan langs hul skouers uit.
Ja, dink hy, ek sal saam met hulle gaan. Miskien kan ek dít wat my laas nag ontwyk het, vind op die plek waarheen hulle op pad is. Ons sal teruggaan Ladyburg toe, ons sal die nuwe perde hard ry. Ek sal vir Dirk by my ma los, en dan kom ek terug na hierdie oorlog toe.
Hy begin weer ongeduldig heen en weer loop. Waar de joos bly Mbejane?
Van die hoogtes af kyk Sean na Ladyburg. Die dorpie lê in ’n netjiese kring om die kerktoring. Hy onthou die toring as ’n glimmende baken in sy nuwe koperbeslag, maar ná negentien jaar in die wind en weer het dit dofbruin geraak.
Negentien jaar. Dit voel nie so lank nie. Daar is nou ’n rangeerwerf by die stasie, ’n nuwe betonbrug oor Bobbejaanspruit, die bloekoms in die plantasie anderkant die skool is hoër, en die vlambome langs die hoofstraat is weg.
Effe teësinnig draai Sean sy kop en kyk regs, oor Bobbejaanspruit, naby die platorand, na waar hy Theuniskraal se groot Kaaps-Hollandse gewelhuis met die rietdak en geelhoutluike agtergelaat het. Dis nog daar, maar nie soos hy dit onthou nie. Selfs op hierdie afstand kan hy klam kolle op die mure sien, plekke waar dit afskilfer. Die dak lyk oes soos ’n nat langhaarhond se pels, een van die luike hang skeef aan sy skarniere, die grasperk is bruin, en hier en daar slaan die grond deur. Die melkery agter die huis het inmekaargeval, die dak is weg en die skouerhoë murasie lyk maar bedroewend.
“Die bliksem!” Sean se woede vlam oombliklik op toe hy sien hoe sy tweelingbroer die lieflike ou huis verwaarloos het. “Hy’s so lui, hy sal nie uit ’n natgepiste bed uit opstaan nie.”
Vir Sean is dit nie net ’n huis nie; dis die plek wat sy pa gebou het, wat hom van sy geboortedag af en deur sy kinderdae beskut het. Toe sy pa onder die Zoeloespiese by Isandlwana beswyk het, het die helfte van die plaas en huis Sean s’n geword. Hy het snags in die studeerkamer gesit met stompe wat in die klipkaggel brand en die gemonteerde buffelkop daarbo wat skaduwees teen die plafon gooi. Hy het sy aandeel weggegee, maar dit is nog steeds sy tuiste. Garry, sy broer, het g’n reg om dit te verwaarloos en so te laat uitmekaarval nie.
“Sy moer!” spreek Sean sy gedagtes hardop uit, maar byna dadelik betig sy gewete hom. Garry is mank, sy been deur ’n roekelose skoot met ’n haelgeweer onder die knie afgeskiet. En Sean het daardie geweer gehanteer. Sal hy ooit verlos word van daardie skuld? Hoe lank moet hy nog boete doen? Hy protesteer teen die aansprake van sy gewete.
Dis nie al wat jy aan jou broer gedoen het nie, herinner sy gewete hom. Wie het die kind verwek wat Garry nou sy seun noem? Wie se saad het in sy skoonsuster, Anna, se buik tot ’n seun gegroei?
“Ons was lank weg, nkosi.” Mbejane sien met watter uitdrukking Sean na Theuniskraal kyk, dat hy dinge onthou wat liefs vergete moet bly.
“Ja.” Sean ruk hom reg en sit regopper in die saal. “’n Lang pad en baie jare. Maar nou is ons weer by die huis.”
Hy kyk terug na die dorpie toe, soek in die deel anderkant die hoofstraat en die hotel na die dak van die klein huisie in Proteastraat. Dan sien hy dit tussen die hoë, bosserige bloekombome en sy bui verbeter sommer, hy voel glad opgewonde. Woon sy nog daar? Hoe sal sy nou lyk? ’n Bietjie grys, seker. Het haar vyftig jaar diep spore op haar gelaat, of het die jare haar net so sagkens behandel as wat sy met een en almal doen? Het sy hom vergewe dat hy weg is sonder om eens te groet? Het sy hom die lang jare van stilte vergeef? Verstaan sy hoekom hy nooit geskryf het nie – geen woord of boodskap gestuur het nie, buiten daardie naamlose geskenk van tienduisend pond wat hy in haar bankrekening inbetaal het. Tienduisend miserabele ponde wat hy skaars gemerk het tussen al die miljoene wat hy in daardie dae gewen en verloor het toe hy een van die grootkoppe op die Witwatersrandse goudveld was.
Weer pak ’n skuldgevoel hom beet. En hy weet dat sy verstaan, dat sy vergeef. Want dit is sy stiefma, Ada, en sy liefde vir haar is nog groter as die natuurlike liefde wat ’n mens aan jou eie bloed verskuldig is.
“Kom ons gaan af soontoe,” sê hy en spoor sy perd aan.
“Is dit ons huis, Pa?” roep Dirk terwyl hy op ’n handgalop langs hom ry.
“Ja, ou seun, dis die huis.”
“Sal Ouma hier wees?”
“Ek hoop so,” antwoord Sean, en vervolg sagter: “Dis wat ek hoop, bowenal.”
Oor die brug oor Bobbejaanspruit, verby die beeskrale langs die treinspoor, verby die ou hout-en-staal-stasiegebou met die bord wat in verbleikte wit-en-swart Ladyburg. 2,256 voet bo seespieël aankondig, links in die stowwerige hoofstraat af wat so wyd is dat jy ’n span osse daar kan laat omdraai, en af na Proteastraat toe ry Sean en Dirk, met Mbejane en die pakmuil ’n ent agterna.
By die hoek trek Sean sy perd in tot ’n stappie, rek die laaste paar minute van afwagting voordat hulle by die wit paaltjieheining stop wat die huisie omring. Die tuin is netjies en groen, vrolik van die Barbertonse madeliefies en blou bergrose. Die huis is vergroot met ’n nuwe vertrek aan die agterkant en is sprankelend nuut afgewit. ’n Naambord by die hek sê in goue letters op ’n groen agtergrond:
Maison Ada
Kostumier van gehalte
Sean grinnik. “Genade, die ou tante het skoon Frans geraak.” Dan aan Dirk: “Bly hier.”
Hy glip van die saal af, gee die teuels vir Dirk en gaan by die hekkie in. By die deur huiwer hy ’n oomblik selfbewus en verstel sy krawat. Hy kyk af na die swartlakenpak wat hy in Pietermaritzburg gekoop het, stof sy broek af, stryk sy nuutgeknipte baard plat, gee sy snorpunt ’n draai en klop aan die deur.
’n Jong meisie wat Sean nie ken nie, maak oop. Sy reageer oombliklik, bloos effe en probeer om haar hare ongesiens reg te stoot en van die naaldwerk in haar hande ontslae te raak – skoon verward omdat sy haar skielik in die teenwoordigheid van ’n groot, goedgeklede en aantreklike man bevind. Maar Sean voel ’n tikkie jammerte toe hy na haar geskende gesig kyk, lelik