Wanneer woorde onnodig is. Jacolet van den Berg
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Wanneer woorde onnodig is - Jacolet van den Berg страница 4
Aria snuif minagtend. “Hier is genoeg visse in die see, niemand gaan eens agterkom hier is nog een in die water nie. Al is dit ’n mooi, sterk een.”
Die ander vroue lag.
“Dis wat jy nou sê. Jou oë dwaal nie verniet nie.” Nita vee die donker hare wat in haar gesig waai uit die pad en kyk Aria stip met haar warm bruin kykers aan.
“Ja, toemaar, Nita, ons is nie almal so gelukkig soos jy en Sandra om ’n ring aan die vinger te hê nie.” Daleen slaan haar arm om Aria se skouers. “Party van ons oorweeg nog ons opsies en geniet intussen die uitsig.”
“Jy bedoel seker vooruitsig,” snip Nita.
“Dít ook, ja.” Daleen kyk weer in Reuben se rigting.
“Julle is vanmiddag net laf en lus om nonsens te praat. As dit so aanhou, gaan soek ek meer sinvolle geselskap.” Aria draai haar rug na waar Reuben staan en sien die aankomende brander net betyds. Hulle spring weg.
Aria retireer vinnig.
“Ons praat nie nonsens nie, ons droom ook maar net.” Daar is tergende liggies in Daleen se oë.
Aria maak eerder dat sy wegkom.
2
Aria gaan sit die bordjie op een van die tafeltjies neer en snak byna na haar asem toe sy omdraai.
Reuben staan voor haar. Die glimlag om sy lippe is warm genoeg om enige vrou se temperatuur op te stoot.
“Moet ek jou aan van die ander gaste voorstel, of ken jy almal?” Dis die eerste ding wat in haar kop kom, en dit klink lamlendig.
Sy oë lag haar uit.
Sy voel verleë oor die simpel voorstel. Nou klink dit asof sy van hom ontslae wil raak.
“Ek kan myself voorstel, dankie. Maar ek ken darem ’n paar van die gaste. Ek wou eintlik hoor of jy ’n entjie strandaf wil stap. Ek was lanklaas op Blouberg, en die uitsig is vanmiddag besonders.”
“Dit is ’n helder dag. Die lug is skoon ná gister se reën.”
“Wil jy jou baadjie aantrek?” Hy mik om haar baadjie van die stoel af op te tel, maar sy keer hom.
“Nee wat, dankie. Dis darem nog nie so koel nie.”
Die eerste rukkie stap hulle in stilte. Die lug is verfrissend. Aria kyk na hulle voete wat in pas loop en dan na Tafelberg wat in die laatmiddagson soos ’n ikoon bokant die stad uitstaan. Standvastig en vertroostend.
“Het jy die Kaap gemis terwyl jy weg was?”
“Ja en nee. Johannesburg is deel van my, want ek het daar grootgeword. Die passie en die energie van die mense is eie aan die stad, en ek het dit geniet om deel daarvan te wees. Mense wat nog nooit daar gebly en gewerk het nie, sal dit nie verstaan nie. Dis een van daardie plekke waar jy jou vlerke kan sprei en weet dat jy met die regte geloof groot hoogtes gaan bereik.”
So maklik, ja, mits jy genoeg geld het om die vlerke te koop en die landing sag te maak. Aria sê dit nie hardop nie. Nog ’n aanmerking oor geld sal hom dalk net laat dink sy het regtig ’n obsessie daaroor. “Mense soos ek. Ek was al daar vir ’n kort besoek, maar ek dink nie ek verstaan heeltemal waarvan jy praat nie.”
“Dan het jy iemand nodig om jou oë oop te maak. Dalk kan ek jou eendag die dinge gaan wys wat Jan Alleman nie noodwendig raaksien nie.”
“Hopelik met jou straler,” spot sy saam, maar die blik in sy oë ontredder haar heeltemal.
“Ek kan dit seker reël as jy dit verkies.” Daar speel ’n fyn glimlaggie om sy mond.
Sy weet nie of hy ernstig is of skerts nie en gaan staan hande in die sye om na hom te kyk, sien die tergery in sy oë en skud haar kop ongelowig. “Een: dit is nie wat ek verkies nie. En twee: hoekom bied jy so iets aan vir iemand wat jy van geen kant ken nie?”
“As ons dan nou in syfers praat … Een: sê hulle almal. En twee: want ek kan.”
Aria lag. “Jy het unresolved issues, Reuben Rademan.”
“Het ons nie almal nie?” Die gevoel in sy blou oë is versluier agter ’n sinisme wat nie by hom pas nie.
“Het ek ’n sensitiewe snaar geslaan?” Sy kyk meer aandagtig na hom. “Hoekom bly ek die gevoel kry dat ek jou al voorheen gesien het?”
“Ek het jou beslis nog nie ontmoet nie. Ek sou dit onthou het.”
“Miskien verbeel ek my.”
“Ek het nogal daardie effek op vroue. Gryp hulle verbeelding aan, jy weet.”
Sy kan nie anders as om weer te lag nie en mik om terug te stap. Hy verdien beslis nie ’n antwoord nie.
Hy val langs haar in, en sy kyk om na die spore wat hulle tot hier toe getrap het. Sy spoor lank langs haar fyner een.
“Kom ons stap terug. ’n Terapiesessie langs die water het my nog nooit aangestaan nie. Veral nie in boots nie.”
“Wat is fout met water?”
“Dit is nie ’n plek wat my rustig stem nie.”
“Dis veronderstel om terapeuties te wees. Ek het ’n seilboot. Het dit in my studentedae aangeskaf en dit al die jare by die familiestrandhuis gelos. Die afgelope twee naweke het ek dit herontdek en was ek elke dag op die water. Glo my, as jy jou vlerke wil sprei …”
“Nee, dankie. Ek is nie lus vir ’n Titanic-episode nie. Man ontmoet meisie, sprei saam vlerke, sink saam.”
“Hulle het nie saam gesink nie, een het die wal bereik. Op ’n boot.”
“Wat is so wonderlik daaromtrent? Dis depressing om die minste te sê.”
“Seker nie veel nie, maar alle bote sink ook nie. Ek kan met jou wal toe swem as ons in die moeilikheid sou beland.”
“Ek kan baie goed swem, dankie.”
“Dan verstaan ek nie jou probleem nie.”
“Ek hou nie van die see nie.”
“Hou nie van nie … of is bang vir?”
Sy skud haar kop. “Ek moes geweet het jy het ’n boot. Is dit wat ryk, ongetroude mans doen wanneer hulle verveeld is of ’n meisie wil beïndruk?”
“Nee, deesdae is fietsry en polo glo hoog op die lys. Maar om meisies te beïndruk, is nie eintlik my forte nie.”
“Te besig?”
“Dit ook, ja.”
Hulle is al amper terug by die ander gaste, en hy gaan staan om weer na die stad te kyk wat van hier gesien so rustig teen die voet van die berg lê.