Amraal. Marinda van Zyl

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Amraal - Marinda van Zyl страница 16

Автор:
Серия:
Издательство:
Amraal - Marinda van Zyl

Скачать книгу

toe. Dis tyd dat Toontjies se ma en suster huis toe gaan. Die jong meisie se kaal borste, wat met elke beweging swaai, laat hom na Klara smag.

      Dit word winter met vlae motreën, afgewissel deur woeste stormwinde, wat vir Lammert uit die wakap na Toontjies se matjieshuis laat trek. In die reëntyd bring Gert en September nie vaatjies nie; Gert is natuurlik bang die kruit word nat. Lammert verwyl die tyd deur vir Toontjies te leer hoe om osrieme vet te smeer en swepe te vleg. Op mooi dae verken hulle Vlaeberg.

      Gedurende die tweede winter op die Groene Punt is Lammert verbaas om Gert se perdekar in die middel van die dag te sien aankom. Sonder om af te klim beveel Gert: “Lammert, kry die wa reg. Môre vat jy vir nôi Aletta Holkrans toe.” En toe glimlag hy sowaar. “Sy wil die kleinbasie vir sy ouma gaan wys.”

      “Nee,” glip uit voor Lammert hom kan bedink en hy skerm vinnig. “Ons het dan klaar ons eerste winterreën gehad, baas Gert. Dis te gevaarlik om nou met nôi Aletta en ’n babatjie die Piekenierskloof te wil deur.”

      “Dis hoekom ek jou vir ’n wadrywer het. Bewys nou jy’s jou sout werd en so goed as wat Aalwyn jou voor uitgeveil het. Moos en September gaan saam om met die wa te help.”

      By die fontein bo-op die Olifantsrivierberg laat Lammert eers die osse uitspan. Dis die eerste keer vandat hy in Oktober 1792 hier weg is, dat hy die Sederberg weer sien. Die Olifantsrivier lê soos ’n blink slang ver onder in die vallei. Uit vrye wil sou hy nie weer hierheen kom nie, maar nou kan hy tog die blydskap om sy familie weer te sien nie onderdruk nie.

      “Moet ons hier af?” vra September en wys na die pad wat bergaf slinger.

      “Ja, ek het baas Gert gewaarsku dis nekbreek soek om deur die Piekenierskloof te wil foeter in die reëntyd, maar hy wou nie hoor nie. Een os wat gly, vat die wa en die touleier met hom saam oor die afgrond.” Lammert verlekker hom daarin toe September en Moos se oë rek. Hy het nie gedink sy kans om hom op hulle te wreek gaan so gou kom nie. Gelukkig het Gert die twee slawe voor hom beveel om te luister as hy praat, want hy is baas op hierdie tog.

      Aletta loer by die wakap uit. “Dan gaan ek ook te voet af.”

      Lammert ignoreer haar. “Moos, jy sal moet toulei. Dis nie ’n kind se werk nie. Jy sal stewig moet staan en die osse met jou gewig stuit as hulle gly.” Hy roep na September wat om die wa verdwyn het. “Kom maak ’n riem hier by die remskoen aan die wa vas. Sodra ons die afdraand vat, bind jy die ander punt van die riem om jou lyf. As ek skree: ‘ysterklou’, moet jy blitsig rem aanslaan en terselfdertyd aan jou riem klou om die wa regop te hou.”

      “Maar dan neuk ek mos saam met die wa af,” protesteer September.

      “Dis die plan. Baas Gert gaan jou buitendien vrekmaak as jy die oorsaak is dat sy vrou en seuntjie iets oorkom.”

      “Ek sê mos ek gaan loop,” laat Aletta ongeduldig hoor terwyl sy van die wa klim.

      “Moenie laf wees nie. Jy kan nie met ’n baba in jou arms bergaf loop nie,” vererg Lammert hom so dat hy skoon vergeet om die “nôi” by te las.

      “Toontjies kan vir Gertjie dra. Jy sê mos hy gaan nie toulei nie.”

      “Toontjies moet die ander riem vat. Mens kan nie ’n wa net op een plek anker nie. Loop jou draai en klim op die wa. Die osse is amper klaar gesuip en ons wil nie in die donker op die berg vasgekeer word deur jou nukke nie.”

      “Gert sal hiervan hoor. Lyk my jy kort weer ’n goeie loesing.”

      Lammert loop weg sonder om te antwoord. By die fontein spat hy hande vol koue water oor sy gesig om die woede in hom af te koel. Aletta se verwysing na die afranseling het die wonde weer oopgeruk. Die dag toe Aletta hom smalend vertel het dat Klara saam met Aalwyn Holkrans toe is, is nog vars in sy geheue. Tog is dit nie die pyn wat hom bybly nie, maar die vernedering dat dit ten aanskoue van die slavinne en die huismense gedoen is. Vir Aletta se aandeel in sy lot sal hy haar nooit vergewe nie. Al het sy hom glo volgens die slavin gered van ’n baie erger loesing.

      Die eerste paar honderd tree afdraand gaan dit maklik, want die pad is droog al is daar oral tekens van verspoeling. Ten minste twee weke terug laas hier gereën, skat Lammert. Hy praat deurentyd met die osse, terwyl hy tussen hulle en die afgrond beweeg, om hulle rustig te hou. Op ’n gelykte gee hy ongemerk vir Soetland, die linkervooros, ’n hou onder die maag met die sweepstok. Soetland ruk vorentoe en die ander osse volg hom. Moos, in stede van vassteek en die os onder beheer bring, begin drafstap om nie onder die hoewe te beland nie.

      “Staan stil, Moos!” Lammert se uitroep laat Soetland net sterker vorentoe beur. Met die omkyk struikel Moos en beland tussen die voorosse.

      “Ysterklou!” skree Lammert en kry vir Soetland aan die horing beet. Gelukkig het September geluister toe hy hom van die remskoen verduidelik het, want die wa knars tot stilstand.

      Moos kruip tussen die osse uit en gaan sit teen ’n rots.

      Lammert gryp die leitou. “My magtig, Moos, jy’s mos ’n ou touleier. Hoe kan jy ’n os toelaat om die pas aan te gee? Jy gaan ons almal doodmaak,” raas hy om sy aandeel in die amper ongeluk te verbloem. Wat het hom besiel? Hy wou net vir Moos en September die doodskrik op die lyf jaag. As die osse aan die hol geraak het, was die wa regtig die kloof af.

      “Wat gaan nou aan?” wil Aletta weet toe sy met Gertjie in die arms op die wakis kom sit. “Ek het net ingesluimer toe die wa my wakker ruk.”

      “Die osse het geskrik toe Soetland op ’n los klip gly,” jok Lammert. “Toontjies, kom vat die leitou.” Lammert verdwyn haastig om die wa. September staan steeds met die riem om sy lyf aan die wa vasgemaak. “Maak los die ding. Ek dog jy weet ek maak sommer net ’n grap. Dis net as ’n draai na die afgrond uitgooi dat jy die riem moet vashou.”

      Aletta is gelukkig terug in die wa toe Lammert by Moos gaan hurk. “Het jy seergekry?” Moos skud sy kop, maar bly net voor hom op die grond staar. Hy is bang, besef Lammert. Pa Voorslag het hom geleer ’n bang touleier is ’n gevaarlike touleier, want die osse ruik die vrees en dit maak hulle onrustig. “Ek sal nou self die tou vat. Sien jy kans om vooruit te loop en die los klippe uit die pad te gooi sodat ’n os nie weer struikel nie?” probeer hy sy gewete sus.

      Moos spring op om die pad te fynkam.

      Verlig neem Lammert die leitou oor. “Toontjies, jy vat my plek langs die osse. Jy ken mos elke os se naam. As dit lyk of een wil dwarstrek, sê jy net sy naam sodat ek hom kan aanpraat.” Maar dis nie vir Lammert nodig om ’n enkele keer ’n os te kalmeer nie. Hy kan maar net lag oor hoe goed Toontjies hom namaak. Toe Gert die rou kind by die matjieshuise op sy plaas langs die Hexrivier gaan haal het, het hy gedink hulle twee sal mekaar nooit verstaan nie. En nou praat Toontjies Hollands asof hy dit by sy ma geleer het.

      Laatmiddag span hulle onder in die vallei uit. Dis die eerste aand dat hulle nie by vriende of familie van die Bassons oornag nie, maar Aletta kerm nie omdat sy in die wa moet slaap nie. Toe September die vuur aanpak, roep sy vir Toontjies.

      In plaas van hulle gewone rantsoen gedroogde vis bring Toontjies brood, soutvleis, koffiemoer en suikerklontjies. “Die nôi vra ’n beker koffie, die ander goed is vir ons.” Een van die suikerklontjies verdwyn dadelik in Toontjies se mond asof hy instinktief weet dat Lammert hom gaan terugstuur met die goed.

      Maar die genot waarmee die kind aan die klontjie suig, versag Lammert se hart. “Die suiker is vir die koffie,” keer hy toe Toontjies nog een wil gryp. Sy mond water self vir ’n dronkie soet koffie. “Waar’s die nôi se beker?”

Скачать книгу