Amraal. Marinda van Zyl
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Amraal - Marinda van Zyl страница 17
“Die hangmat is te ver agtertoe,” verduidelik Aletta. “Ek wil dit hier voor hê sodat ek kan uitkyk as ons môre deur die vallei ry, anders moet ek die hele tyd met Gertjie op die wakis sit.” Sy gee ’n beker vir September. “Gaan maak solank my koffie.”
Voor Lammert kan keer, is September van die wa af. Hy wil by Aletta verbyskuur om gou die hangmat te skuif, maar sy hou hom aan sy arm teë.
“Hoekom is jy so hatig teenoor my, Lammert? Jy was tog lief vir my …”
“Wat!” Lammert praat sagter toe hy besef die klomp by die vuur kan hom dalk hoor. “Waar kom jy aan sulke bog?”
“Toe ons kinders was, het jy so mooi na my gekyk. My rondgeabba, dorings uit my voete gehaal en met Aalwyn geraas as hy my geterg het.”
“Daaraan het jy nie gedink toe jy my amper dood laat slaan het nie,” spoeg Lammert sy bitterheid uit.
“Ek sweer dit was nie ek nie. Dis my aaklige skoonma. Die ou heks het ons afgeloer en toe vir Gert aangehits.” Aletta gaan kniel by die klerekis. “Ek het vir jou iets gekry om te vergoed. Jy kan nie so verflenterd op Holkrans aankom nie.”
Lammert laat die belediging van hom afrol. Sy weet goed wie se skuld dit is dat hy steeds met Aalwyn se oorgroot klere rondloop. Nie ’n bloue duit het hy van Gert van der Merwe gekry in die tyd dat hy vir hom werk nie. Sonder om in Aletta se rigting te kyk, gaan pluk hy die hangmat af en hang dit op waar sy voorheen gewys het. “Naand, Nôi,” lig hy sy hoed toe hy klaar is. Gelukkig is die hangmat nou tussen hulle en kan sy nie naby hom kom nie.
“Asseblief, Lammert. Ek het die klere spesiaal vir jou laat maak. Vir die snyer gesê dis vir my boetie op die plaas.” Aletta skud die langbroek, hemp en baadjie oop vir Lammert om te sien. “Ek sit dit by die agterste flap. Dan kan jy dit daar vat en in jou bondel sit sodat die ander nie weet dit kom van my af nie.”
Terug by die vuur vra September vir Lammert: “Hoekom skree jy ‘ysterklou’ as ek die rem moet vastrek?”
“Het jou ma nie vir jou kleintyd Jakkals-en-Wolf-stories vertel nie?” vra Lammert verbaas. Die vlietende hartseer op September se gesig laat hom besef dat September seker ook soos Klara kleintyd van sy ma geskei is. Dis seker hoekom September en Moos nie van hom hou nie, want hy loop en spog gedurig oor alles wat hy by sy pa geleer het.
“Vertel vir ons, toe, oom Lammert,” por Toontjies.
“Eendag het Jakkals en Wolf gaan jag. Hulle loop kort by boer se huis verby en daar lê ’n perd en slaap. Jakkals sê vir Wolf: ‘Oom, hier lê ’n dooie perd. Kom ons sleep hom ’n ent weg voor ons vreet, anders sal die boer ons sien. Ek sal vir Oom aan die stert vasmaak en dan vir my aan die kop en so kan ons hom maklik wegsleep.’ Nadat Jakkals vir Wolf aan die stert vasgemaak het, gee hy die perd ’n skop. Die perd skrik wakker, vlieg op, hardloop dat dit so dreun en skop vir Wolf aanhoudend raak. Jakkals lag dat jy hom wie weet waar kan hoor en skree: ‘Slaan ysterklou in die grond, oom Wolf.’ Wolf skree terug: ‘Ek kan geen hemel of aarde beken nie, hoe moet ek nog ysterklou in die grond slaan?’ Toe lag Jakkals eers lekker.”
“So ’n vervloekte jakkals,” lag Moos. “G’n wonder hulle sê iemand is so skelm soos ’n jakkals nie.”
“Maar ek verstaan nog nie wat ysterklou beteken nie,” kla Toontjies.
“Dit beteken maar net mens moet vasstaan,” verduidelik Lammert.
“Ken jy nog van dié stories?” vra September.
“Genoeg om ons die hele nag wakker te hou,” sê Lammert, dankbaar vir die gemoedelikheid wat nou om die vuur heers. Sy lus om hom op die twee slawe te wreek het verdwyn.
Ná ’n nag se rondrol staan Lammert voordag op en vat die klere uit die wa voor hy in die fontein gaan was. Nou sal hy almal op Holkrans kan wys hy is nie sommer ’n hierjy nie. Veral vir Klara.
Die blaffende verwelkoming toe hulle Holkrans se opstal nader, is die eerste teken dat dinge op die plaas verander het. Lammert herken amper nie sy broer toe hy nader hardloop nie. Adam het ’n jong man geword in die tyd dat hy weg was.
“Dis Meester se honde,” verduidelik Adam nadat hy die honde met ’n paar skril fluite stilgemaak het. “Ma gaan dood neerslaan van blygeit as sy jou sien. Gaan groet haar eers. Sy’s by ons werf.”
Lammert drafstap na die matjieshuise. Sou sy ma dan siek wees? Sy sit op ’n veldstoeltjie voor haar matjieshuis, met ’n baba in haar arms.
“En dit, Ma?”
Rut spring met ’n gil op en laat val amper die baba wat keel opsit. “Lammert, dis jy in lewende lywe.” Die baba skree en woel tussen hulle toe sy ma hom omhels. “Dis Jakobus, jou boetie,” wys sy trots na die skreeuende bondel toe Lammert hom uit die omhelsing losmaak om nie die kind te versmoor nie.
“Hoe nou, Ma?”
“Ek en oom Ben het ons skapies bymekaargejaag.”
“En tannie Dina?” Dít het hy waaragtig nie van sy ma verwag nie.
“Sy’s dood. Geelslang se pik toe ons matjiesgoed gaan sny het. Ouma ook. Van skone hartseer.”
“En nou het ma ’n slawekind wat nôi Elsie of Aalwyn kan verkoop net wanneer hulle lus het.”
“Jy’s laf, ek is mos nie ’n slaaf nie. Jakobus is so vrygebore soos jy,” glimlag sy ma nog breër. “En Ben is lankal ’n vry man. Met Aletta se troue al het Elsie die papiere gaan regmaak in die Kaap. Saam met Klara s’n.”
Die naam tref hom soos ’n vallende rots en Lammert sak neer op die veldstoeltjie.
Rut gee die baba vir hom. “Hou jou boetie bietjie vas. Ek maak vuur vir koffie.”
Lammert trek die kombersie weg om darem iets meer te sien as ’n skreeuende, tandlose bekkie. Toe sy vinger aan die wangetjie raak, hou Jakobus op skree en kyk vir hom met groot bruin oë. “Hy’t mooi swart krulhaartjies.”
“Het jy jou mooi vrou vir ons kom wys, soos jy vir Adam belowe het toe jy soos ’n skelm in die Kaap agtergebly het?”
“Vroumense is gifgoed. Ek wil met hulle niks te make hê nie.” Maar in sy gedagtes sê hy dankie vir Aletta oor sy nie sy geheim uitgelap het nie en vir die klere waarmee hy almal kan flous dat dit met hom goed gaan.
Maar nie vir Meester nie. Lammert volg die honde se geblaf en kry hom in die boord.
“Jy het die kyk en die stap van ’n woedende mens, Lammert. Wat het gebeur? Die slavin toe ook maar net ’n slang, soos al die ander mooi vrouens?”
Lammert haal sy skouers op en kyk anderpad. “Meester het my gewaarsku. Kla sal nou niks help nie.”
“Jou plek hier is leeg, Lammert. Die plaas kort ’n ekstra paar hande. Ben raak oud, al hou hy sy lyf deesdae jong man. Aalwyn …”
“Hoi daar,