Anderkant uit. Hanlie Retief
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Anderkant uit - Hanlie Retief страница 14
Dit is vrae wat ons nie net aan onsself behoort te stel nie, maar ook aan ons leiers – politieke sowel as geestelike leiers.
Louis & Lise
Kommunikasie
“Vir elke liewe kind sê ek jammer”
Die gospelsangeres Nedine Blom en haar man Bertie gesels openlik oor die skade aan hul huwelik nadat haar affair met ’n kameraman op die lappe gekom het. Ná die krisis het Nedine die gewilde Afri-Kaapse groep Die Jaloersbokkies gestig saam met die sanger Taliep Petersen se kinders, Jawaahier en Ashur.
“Ek is skuldig. Ek het álmal gedrop. Ek het die Here gedrop, my man, my kinders, almal wat my gospel-CD’s gekoop het. Dis verskriklik…”
Nedine Blom druk haar vlamrooi kop teen haar man, Bertie, se skouer, asof sy vir altyd wil wegkruip vir die wêreld.
Hy vryf haar rug en kyk doeriekant toe, oë ook vol trane.
Minute lank sit die twee só.
Buite is dit ’n gewone warm Dinsdagoggend in Melkbos. Hul worshondjie kerm by die glasdeur om in te kom. Die tienjarige Adriaan is in die laerskool. In die kombuis vee die huishulp die broodkrummels van die tafel af. Iewers, dof, pie-êp ’n vragmotor se trurat.
’n Doodgewone Dinsdag.
Maar hier, tussen dié twee, is alles stukkend.
Die bom het verlede week gebars toe sowat 60 intieme Facebook-boodskappe tussen haar en die kameraman James Sutherland – vol smeulende detail oor hul “sublieme” aandjie saam – aan ’n koerant uitgelek is.
Nedine en Bertie was in ’n sakegesprek met iemand in die Woodlands-sentrum in Pretoria toe die joernalis haar e-pos met die nuus: Jou geheim is uit…
“Ek het my lám geskrik. Ek het net gehoop dit gaan weg.”
Maar dit het nie.
Met Bertie nog salig onbewus van haar manewales, fabriseer sy paniekbevange ’n liegstorie aan die koerant dat die Facebook-boodskappe ’n strik was vir ’n gewese kollega. Sy e-pos dit toe boonop onder Bertie se naam met haar BlackBerry skelmpies daar onder die tafel waar hulle saam sit en werk bespreek.
“Maar ek het dadelik besef ek sal hom moet vertel, ek’s te lief vir hom dat hy dit teen lamppale moet uitvind.”
“Blomma,” BBM Nedine toe vir hom, “jy gaan my haat, ek moet jou iets vertel.” En “ek kan jou haat nie face nie…”
En: “Ek het ’n ander ou gesoen, ons was intiem en ek’s verskriklik jammer…”
Bertie was oorbluf. Hy’t op ’n muurtjie gaan neersak.
“Ek het dit glád nie verwag nie,” sê hy. “Ons het dan so ’n sterk vertrouensverhouding, ons is in die volgende Huisgenoot-Pols een van die tien gelukkige media-huwelike.”
Hy neem haar toe in kruisverhoor oor elke stukkie detail, ou advokaat wat hy is.
“Stukkender kon ons nie raak nie; dit hét gebeur, ek wou als weet. Hulle’t nie seks gehad nie, sê sy toe, maar hulle was baie intiem.”
Nedine: “Dis die waarheid. Maar die feit is, ek het elke reël oortree, of daar seks was of nie.”
Bertie trap Sutherland toe in ’n SMS uit: “Klop jouself op die skouer, jy’t single-handedly ’n beautiful mens se loopbaan en lewe in ’n lewende hel verander.”
Hy knik. “Ek was emosioneel.”
Hulle lyk doodmoeg, sien jy. Kry nie geslaap nie, drie nagte al. Kan nie eet nie. Sy’s heeltyd naar, sê Nedine. Hulle is plát.
“Ek het selfmoord oorweeg. Maar ek weet dis die pad van ’n lafaard.”
Sou sy aangegaan het met die kameraman as dit nie uitgekom het nie?
Bertie, vinnig: “Beslis!”
Nedine: “Dit klink nou weird, maar ek’s byna verlig dit het uitgekom.”
Was daar ander mans óók in die tien jaar dat sy getroud is?
Sy huiwer, knik dan, en sê in ’n piepklein stemmetjie:
“Ja, daar was een keer…”
Geskokte stilte.
Bertie: “Dis die eerste keer dat ek dáárvan hoor.”
Die spanning kom lê in die vertrek. Nedine kyk af grond toe. Sy lyk miserabel.
“Dit was lank terug, twee jaar ná ons troue… Jy ken hom, Bertman. Robin W.
“Oeg…” Sy buk vooroor, hande oor haar gesig, die trane loop.
“Ek’s jammer… Ek voel verskriklik…”
Bertie: “Ag, dis fine, Dinatjie, ons sal deur hierdie ding kom. Dis agter ons. Ek vergewe jou.”
Hy kyk vir my. “Daar kon dalk vyf sulke ouens gewees het. Hoe sal ek weet? Al wat ek weet: Ek’s aandadig hieraan. Ek was jare lank nie ’n goeie man vir haar nie; ek het haar verwaarloos; ek het ’n alkoholprobleem gehad.
“Ek veroordeel Nedine nie. Tien jaar terug het ék presies dieselfde dinge aan my eerste vrou gedoen.”
Nedine vee die maskarastreep van haar wang af. “Kan ek net dít sê: As ek vandag moet ophou sing om my man te behou sal ek dit doen. Ek het vanoggend vir hom in die bed gesê my sangloopbaan is vir my niks. My gesin is alles.”
Angstig kolf die twee vir mekaar. ’n Verenigde front.
Die oggend ná die Woodlands-drama staan Nedine in Parys voor 500 kindertjies en sing haar Supercool-liedjies vir Jesus.
Bertie: “En daai kindertjies staan voor ons en hul haartjies is mooi gekam, hulle lyk beautiful. En langs hulle die mammas en pappas…”
Nedine: “Ek voel soos ’n verraaier. Met elke CD wat ek teken, vir elke liewe kind, het ek in my hart gesê: ‘Jammer, jammer, jammer.’ ”
Daardie nag, terug op Melkbos, het hulle bang in die bed gelê, vertel Bertie. “Gewonder hoe gaan ons deur hierdie ding kom. Ek kon sien hoe val die domino’s van ons lewe en haar loopbaan die een ná die ander.”
Toe die dag breek, toe’s haar gesig, haar skande, teen die lamppale. Nedine: “Vir almal om te sien. My familie, ons vriende, my skoonma.”
Later die oggend, toe Bertie gaan kos koop, loop hy hom vas in ’n kennis. “In sy mandjie lê die koerant met Nedine op die voorblad.”
Sy oë kry trane. “Toe staan ek verleë en rondtrap en probeer hom voorberei op die shocker binne-in.”
Vir die wêreld daar buite het sy Dinatjie gemoewit-moewit van die paradys tot reg binne die sondeval, van gospeltannie tot skarlakenvrou.
Die