Anderkant uit. Hanlie Retief
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Anderkant uit - Hanlie Retief страница 15
Nedine: “Ek verstaan dat ek nou gekruisig word. Ek neem volle verantwoordelikheid; ek is skuldig. Ek kan maar net uit my hart sê ek het weer gesien God se kinders is nie vry van versoekings nie.
“Ek vra net genade. Ek vra die vergifnis wat my man my gee.”
Hul vingers is inmekaar gestrengel. Tien wit kneukels beaam die spanning op hul gesigte.
Sy weet nie of sy ooit weer die reg gaan hê om gospelliedjies te sing nie, sê sy sag.
“Ek het geen shows vir twee weke nie, ons het nou tyd nodig vir selfondersoek. Ons wil ook vir ’n paar dae wegkom, alleen. En ons kry later vandeesweek ons eerste huweliksterapie.”
Sover was daar nog geen kansellasies van haar optredes nie. Of haar loopbaan verby is, is te vroeg om te sê, sê Bertie.
Nedine: “Ons het al begin praat daarvan om na ’n kleiner plekkie te trek…”
Daar het ook steun en vergewing gekom, van oraloor, vriende, predikante, radio-omroepers… “Hulle omarm ons in liefde; dis ’n vangnet vir ons.”
Almal wil weet wié het die Facebook-boodskappe aangedra koerant toe. Wie se dolk steek by Nedine se rug uit?
Dis waarskynlik ’n gewese medewerker, vermoed Bertie.
“Behalwe Nedine is dié persoon ál een wat die wagwoord van Nedine se private profiel op Facebook ken. Toe ons ’n maand gelede finaal bande verbreek het, is wraak geneem.”
Nedine: “Ek het die persoon vergewe. Dis nou irrelevant.”
En James Sutherland?
Hulle het ’n jaar gelede saam gewerk, en toe sy drie weke terug by haar ma in Pretoria kuier, het hulle saam ’n bier gaan drink om werk te bespreek.
“Dit was ek, James en ’n ander pêl by Karoo Cattle. Toe die plek toemaak, is ons na James se woonstel.”
’n Uur en ’n bier later is die vriend huis toe, en dis tóé dat James vir haar ’n liedjie speel…
En toe laat waai julle?
Nedine: “Ja, toe’t ons ’n vurige oomblik gehad.”
Bertie: “Ja, toe vlieg die sparks.”
Daar is seer in sy oë.
Nedine: “Ek was laag en moeg in my huwelik, want die spark tussen my en Bertie was al so lank weg. Ek het gevoel ek verdien hierdie oomblik, waar iemand na my luister, my behoeftes bevredig.”
Die volgende dae was ’n wipplank tussen skuldgevoelens en vuurwarm Facebook-boodskappe. Sy kon haarself nie keer nie, bieg sy.
“Ek sê vir Bertie dis nie James se skuld nie, dis ons al twee.”
Wat daardie aand gebeur het, sê albei, het ’n lang aanloop.
Bertie: “Kry vir jou ’n paar tissues as jy wil hoor van ons huwelik! Dit het begin as ’n nege op die Richterskaal en só hou dit al tien jaar aan.
“Mense het destyds gesê Nedine het my kom steel by my eksvrou deur swanger te raak. Nou sê hulle seker sy’t hierdie tendens van rondlopery. Dis allesbehalwe die waarheid. Ek vat die blaam. My eie stukkende lewe, my drinkery, het ’n groot aandeel. Ek het my nie gesteur aan haar jare lange gesmeek dat ons vir terapie moet gaan nie.
“Haar lied se woorde: ‘Hoor jy my stem in die nag, ek soek jou, ek roep jou, ek wag…’ was ’n noodkreet aan my.”
En dan kom Bertie met nog ’n onthulling, in hierdie sitkamer waar daar al soveel trane geloop het vanoggend.
“Ons intieme lewe is die afgelope sewe jaar ’n fiasko… Dit het Nedine seksueel heeltemal onbevredig gelaat en ons emosioneel vervreem.”
Toe kom die deurbraak, twee nagte gelede.
Drie-uur daardie oggend, toe stort Bertie emosioneel ineen. Vir die eerste keer in 20 jaar het hy wérklik gehuil. Nedine het hom vasgehou, wéér jammer gesê. Hy het dieselfde gedoen. En in daardie dieptes het hulle mekaar weer gevind. Ook intiem.
Hulle lag vir mekaar, vir hul worsteling, hul onthutsende openheid. Hulle lag dat die trane loop.
Nedine: “Dis rou en dis bevrydend en dis magic. Dis ’n nuwe begin hierdie, vir ons.”
Miskien, sê hulle, maak haar loopbaan dit nie verder op die gospel-pad nie. Hulle weet nie.
Maar as meneer en mevrou Blom gáán hulle dit maak.
Daaroor twyfel hulle nie meer nie.
Maart 2012
Die saamvashou van verskil en liefhê
Frits Gaum is ’n afgetrede NG predikant, redakteur van Kerkbode, voormalige moderator van die sinode van die Wes- en Suid-Kaap en skriba van die algemene sinode van die NG Kerk. Sy seun Laurie is ook ’n predikant, tans verbonde aan die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit. Hulle gesels oor Laurie se bekentenis aan sy pa dat hy gay is en die feit dat longkanker by hom gediagnoseer is.
Hulle sit saam op die bank.
Eintlik moes hulle pole gewees het: die gay aktivis en die behoudende kerkleier. Daar was immers ’n tyd toe Laurie Gaum sy pa as simbool van apartheid beskou het. ’n Tyd toe Frits Gaum, soos sy kerk, homoseksualiteit verwerp het. Noord en suid was hulle, weerskante van ’n skeur wat afgrond kon word.
Maar dit het nie.
In twee sinne lê die verhaal van pa en seun wat in liefde oor afstand kon uitreik:
Die eerste was tydens ’n formele afspraak wat Laurie, toe jong predikant by die St. Stephens-gemeente in Kaapstad, met sy pa in sy kantoor gemaak het. Frits onthou dit nog presies, soos ’n mens sulke oomblikke onthou.
“Jy sien mos nie eintlik ooit maklik ontsteltenis by Laurie nie, hy kan nogal sy goed binnekant homself hou. Hy het dit net stil vir my kom sê: ‘Pa, ek is ook gay.’”
Ook. Saam met alles wat jou middelkind óók is.
Einde laasjaar het Laurie weer oorkant sy pa gesit, weer met tyding, weer net so kalm soos destyds: “Pa, ek het longkanker. Nou moet ons koelkop bly.”
Só anders as hý, onthou Frits. Toe hý destyds gehoor het hy het testikelkanker, op ’n midsomerdag in 1975, was sy ontsteltenis ’n damwal wat gebreek het, sy vertroosting in sy vrou, Henda, se arms.
Op die tafel by ons brand ’n kers, buite val reën, om ons is boeke en beelde en stilte in die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit in Rosebank, Kaapstad.
Handbewegings. Ore. Die skuins kuif. Dit deel hulle. En konfrontasie met doodgaan in die middel van die lewe.
Ná ’n rowwe paar maande se chemoterapie het Laurie se vorige longskanderings die onkoloog tevrede gehad. Volgende week kom die volgende sarsie toetse, hoor jy.
Frits het destyds ’n boek geskryf