Anderkant uit. Hanlie Retief
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Anderkant uit - Hanlie Retief страница 3
Haar glimlag is van hoë oktaan, soos die brandstof wat sy deesdae by haar vulstasie in Plattekloof, Kaapstad, verkoop.
Sy staan met die petrolpomp in haar hand, al 1,83 m van haar.
Die noordwester waai haar kuif in haar oë, pluk aan haar rokpant, haar pienk serp en almal – álmal – vergaap hulle aan haar.
“Kyk,” wys sy opgewonde na die uitsig, “dis vandag ’n bietjie dynserig, maar ’n mens kan die hele Kaap van hier af sien: Bloubergstrand, die hawe en daar lê Tafelberg.”
Dis of Wilma van der Bijl alles helderder sien nadat borskanker in 2005 by haar gediagnoseer is.
“Ek’s die tyd gegun, ek is gesond … en so dankbaar daarvoor.
“Dit voel vir my of ek elke oomblik moet vasgryp.”
Ons onthou haar op voorblaaie 24 jaar gelede toe sy as 24-jarige donkerkop-apteker van Oudtshoorn Mej. Suid-Afrika geword het. Sy’t haar eie stempel op die glanstitel afgedruk: Dié van ’n aweregse langbeen wat eerder boomklim en perdry as bodder met vals wimpers en warmkrullers.
Sy was steeds die meisiekind wat Desembers by die Bakke in Mosselbaai vakansie gehou het.
Daar’s die gesinsgrappie oor die keer toe sy en haar sussie op die strand gelê het en twee Tukkie-studente hulle op ’n date vra, sonder dat hulle ’n benul het van hóé lank die Van der Bijl-sussies is.
Daai aand het Wilma-hulle met seer knieë van die dansbaan teruggekom. Hulle moes heelaand met gebuigde knieë dans, want die kêrels was aan die kort kant. Dit het ’n oneindige gespottery afgegee.
Vandag nog is Wilma deel van ’n handjie vol Mej. Suid-Afrika’s soos Penny Coelen, Anneline Kriel en Margaret Gardiner wat hulle in die publiek se geheue kom tuismaak het.
Toe sy ná haar Mej. SA-jaar ’n internskap by ’n apteek in Melville, Johannesburg, gedoen het, het die mense die apteek snuifgetrap om hul pille en poeiers en strope by Wilma te kry.
“Ek het my geselsies met die mense so geniet. Melville is ’n gemoedelike plek en ná my modeljare (sy was ’n bekende model in München, Duitsland) was dit lekker om weer net ‘gewoon’ te wees, vir ’n baas te vra of ek op ete kan gaan.”
Apteker, model, ma vir Alexia (13) en Nikolaos (12), 17 jaar reeds getroud met die Griekse sakeman, Ari Tapanlis, beskermvrou vir die Rooi Kruis-kinderhospitaal en sedert 2006 veral ook ’n pienkstrik-aktivis.
“Die dag, ses jaar gelede, toe ek my vriendinne bel om te vertel ek het borskanker, was ek geskok om te hoor hoe min van hulle het al vir mammogramme gegaan.”
Nadat sy van ’n dubbele mastektomie en chemoterapie herstel het, het Wilma ywerig betrokke geraak by borskanker-veldtogte.
“Ons vroue praat mos nie oor ’n koppie tee oor mammogramme nie. Ons blaai verby die tydskrifartikels daaroor, want ons glo dit gaan nie met ons gebeur nie.”
Sy glimlag. “En dan gebeur dit, nè.”
Saam met die Suid-Afrikaanse Raad vir Radioloë kon Wilma nou, met borskankermaand, ’n 10%-afslag vir ses weke beding op mammogramme by deelnemende praktyke. “Dié ondersoeke kan tot R1 000 kos en die afslag help darem so ’n bietjie.
“Ek was 42 toe ek in 2005 vir ’n roetine-ondersoek gegaan het.
“Daar was vooraf geen waarskuwing nie; geen teken dat ek iets makeer nie. Ek het maar net gegaan vir my gewone jaarlikse ondersoek. En toe kry hulle die knop.”
Waar sou sy nou gewees het as sy dit nié gedoen het nie?
“Beslis in ’n baie hopelose situasie. Die kanker sou heel waarskynlik al versprei het na my bene of my lewer. Sou ek nou al dood gewees het?”
Jaarliks sterf 3 000 Suid-Afrikaanse vroue aan borskanker, beklemtoon sy. “Dis almal vroue met families en mense wat hulle liefhet, wat iewers hoort, iets beteken. Weet jy hoeveel is 3 000?
“Dit kan jou ma wees, of jou suster, jou ouma, ’n tannie, ’n vriendin … of jyself.”
Op ’n manier het Wilma ’n steunpilaar geword vir baie vroue by wie borskanker gediagnoseer is. Hulle bel haar, deel hul kwellings en luister na die troos in daardie sagte stem van haar. Op haar selfoon, onder die hofie “kanker”, is ’n lang kontaklys.
“Ek gee glad nie om as mense my bel nie, want kanker is so ’n ongelooflike alleenplek, so ’n skokkende plek om in te wees.
“As ek vir enigiemand iets kan beteken dan moet ek dit doen, want ék is die tyd gegun.
“As jy met ander praat wat ook daardeur is en gesond geraak het, gee dit jou meer moed. Die behandeling is aaklig, maar ten minste hoor jy: ‘Byt net vas. Jy voel naar vandag, maar môre gaan dit weer beter.’ ”
Dit help nie ’n mens draai doekies om nie, sê Wilma.
“Borskanker is ’n aaklige, nare, ingrypende siekte,” benadruk sy elke woord.
“’n Bitter, bitter slegte siekte.
“En as jy nie gesond word nie, as die kanker terminaal is, dan is die einde soms so moeilik.”
Dis hoekom sy nie kan verstaan as vroue mammogramme vermy omdat die ondersoek jou borste “knyp” of “seermaak” nie. Dit weeg immers hoegenaamd nie op teen borskanker nie.
Daar’s die vriendinne wat Wilma al finaal moes groet. “Dis ongelooflik hartseer as die besef kom dat iemand dit nou nie meer gaan maak nie, dis terminaal. Ten minste is dit nie plotseling soos in ’n motorongeluk nie. Jy word darem ’n afskeid gegun, ’n spesiale tyd waar jy jou kan voorberei vir die onvermydelike einde.”
Haar kanker is in remissie en sy gaan een keer ’n jaar vir toetse.
“Ek is 95% glad nie bang nie, maar vir die ander vyf nip ek maar so bietjie!” lag sy breed.
Sy vertel hoe sy twee keer al bekommerd was oor sy nie lekker voel nie en uit haar eie vir toetse gegaan het, “want dis immers nie of ek nooit weer kan kanker kry nie”. “Als was reg, dit was seker net ipekonders. Maar die ding is, ’n mens moet luister na jou liggaam. Geen dokter gaan jou bel en sê jy’t ’n ondersoek nodig nie; dis jý wat na jouself moet kyk.”
Sy was nog altyd ’n vreeslike perfeksionis, sê Wilma. Alles moet net reg gaan. En toe, vir die eerste keer, was sy nie in beheer nie. Dis die les van kanker: “Jy’s nie in beheer van jou lewe nie; God is. Ek is nie meer aanvallend oor my geloof nie, ek vra nie meer soveel vrae nie, ek aanvaar.
“Dis ’n goeie plek om te wees, om kinderlik te glo.”
Haar pa, die ontslape DA-raadslid Wim van der Bijl, het destyds al gesê sy kind is g’n softy