Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 2 - Malene Breytenbach страница 4
“Asseblief, ek wil ’n hand van vriendskap na jou en Melissa uitreik.Wil jy my nie toelaat om ’n klein stukkie van daardie leemte in haar lewe te vul nie? Ek sal met graagte tyd saam met haar deurbring sodat daar ’n manlike rolmodel in haar verwysingsraamwerk is – en sodat ek die plesier van haar geselskap het. Mag sy maar soms by my kom kuier?”
Sy woorde – die jammerkry in sy stem – sny witwarm deur Mila se binneste. Dink die man miskien dat Melissa ’n soort liefdadigheidsprojek is? Gemeenskapsdiens om hom nog beter te laat voel oor homself? Of insinueer hy dat sy wat Mila is te onbegeerlik is om self iemand te vind wat vir Melissa ’n plaasvervanger-pa kan wees? Dalk bedoel hy dit opreg en is hy net jammer vir haar en haar dogtertjie, maar Mila Mouton was nog nooit iemand wat simpatie kon verdra nie. Al ken sy hom glad nie, het hierdie man haar vandag seergemaak. Sy delf diep vir die regte woorde om hom terug te kwets.
“Vir iemand wat kinders kastig so goed verstaan, weet jy maar min van ouers! Duidelik is jy self nie een nie. Weet jy nie dat ’n man wat in vreemde klein dogtertjies belangstel al ’n ma se alarmklokkies gelyk laat lui nie? Bly asseblief in die toekoms weg van Melissa en van my af. Ek sal nie huiwer om ’n klag teen jou te lê nie. Totsiens.”
Driftig maak Mila die deur toe, net betyds om te sien hoe ’n trek van teleurstelling oor Derek se gesig flits en die vonkel in sy oë uitdoof.
Lank nadat haar moeë kop op die kussing neergesak het, speel slaap nog wegkruipertjie met Mila.Toe sy ure later onrustig insluimer, spook die mooie man met sy omgeestem steeds by haar. In haar drome verwonder Mila haar nog aan die kuiltjie in sy ken wat so aanloklik tussen die sexy swart stoppels uitloer. Maar toe sy wakker word, is dit ’n enkele beeld wat haar bybly: die gewonde uitdrukking in sy skielik weerlose oë die oomblik toe sy die deur in sy gesig toegeslaan het.
2
Skuins ná vier daardie middag gaan staan Derek Reynders voor sy studeerkamervenster. Behaaglik strek hy sy stram spiere. Hy is al heelmiddag doenig in sy nuwe studeerkamer, besig om bokse boeke uit te pak.Van kleins af al is hy versot op lees. Selfs toe hy ’n oorwerkte, altyd-moeë mediese student was, het hy tyd ingeruim vir sy stokperdjie. Hy is heimlik trots daarop dat hy so wyd lees. Omtrent die helfte van sy boeke is peperduur mediese handboeke, die res ’n mengelmoes romans, speurverhale, wetenskapsfiksie, biografieë, populêre sielkunde en ’n paar kookboeke.
Met ’n sug beskou hy die stapel onoopgemaakte bokse in die hoek. ’n Minder perfeksionistiese ou sou lankal klaar gewees het, dink hy toe hy kombuis toe stap om lafenis in ’n koppie koffie te soek. Maar hy is nou eenmaal ’n pyn wanneer dit by die rangskikking van sy leesstof kom. Hy hou daarvan om sy boeke van elke genre bymekaar te hou, en orden die afdelings ook min of meer alfabeties.
Terwyl hy wag vir die ketel om te kook, kyk Derek by die kombuisvenster uit. Hoewel elke tuintjie in die kompleks kwalik groter as ’n vuurhoutjieboksie is, was ’n lappie grond van sy eie tog vir hom ’n voorvereiste toe hy blyplek gesoek het. Natuurlik sou hy meer ruimte verwelkom het, maar toe die hospitaalbestuurder hom vertel hoe naby hierdie kompleks aan sy nuwe werk is, het hy summier daarop besluit. Blykbaar is goeie, veilige behuising in die omgewing skaars en kan ’n mens nie te kieskeurig wees nie. Gelukkig het die feit dat dit ’n ouerige kompleks is, hom nie gepla nie. Die plek se houtvloere gee karakter, en Derek sien uit daarna om in die winter met ’n glas rooiwyn en ’n goeie boek voor die kaggel te ontspan. Natuurlik sal hy die Kaapse winterreën op sy ou huis se sinkdak mis, maar hopelik word dit darem in Wilgekloof ook koud genoeg vir ’n gesellige vuurtjie.
Vandat hy kan onthou, het Derek gesmag na persoonlike ruimte. Hy het grootgeword in ’n tweeslaapkamerwoonstel en moes ’n kamer met sy jonger boetie deel. Aangesien hul woonstel op die tweede verdieping was, het ’n balkonnetjie met ’n paar potplante noodgedwonge gedien as tuin. Hy onthou maar te goed die gevoel dat die mure hom vasdruk: dat die plekkie te klein is om ooit weg te kom van sy ouers se aanhoudende argumente, van hul harde stemme en wrede verwyte. In sy standerdsesjaar is sy pa weg. Tog het die woonstelletjie nie rustiger geraak nie, want sy ma se ellende was ’n gedrog wat die hele plek mistroostig vol gelê het.
Toe hy Kaapstad toe is om met ’n beurs medies te gaan swot, het Derek homself belowe dat hy nooit weer in ’n koshuiskamer of woonstel bo grondvlak ingehok sou word nie. Hy het ’n tuinwoonstel ’n entjie van die hospitaal af by ’n ou dame gehuur, en het ruiterlik aan haar erken dat haar pragtuin die transaksie beklink het. Hy glimlag nou oor sy koffiebeker toe hy terugdink aan hoe hy op die houtbankie onder die groot eikebome gesit en studeer het, aan hoe die gryskoptannie vir hom soetkoekies en gemmerbier aangedra het voor menige rillervraestel …
Is dit dalk hierdie verwronge behoefte aan persoonlike spasie wat hom ’n swak kandidaat vir verhoudings maak, wonder Derek. Of is hy maar die handboekresultaat van ’n gebroke huis: ’n siniese workaholic wat te bang is om van homself te gee? Hy het nou nie juis rolmodelle gehad wanneer dit by die huwelik kom nie, dis gewis! Tog het hy nog altyd gevoel dat hy ’n toegewyde ouer sou wees, ten spyte – of dalk juis as gevolg van – sy pa se onbetrokkenheid. Hy’s gemaklik met kinders, kan nie genoeg kry van die lewe wat by hulle uitborrel nie. Dis sy een groot berou: sy kinderloosheid. Natuurlik help sy werk om die leemte te vul, maar dit sal nooit die verlange heeltemal wegneem nie. Ag, miskien is hy onnodig swartgallig, berispe hy hom terwyl hy sy beker koffie leegdrink.Veertig is darem nog nie só oud nie!
’n Pienk skopfietsie in die tuintjie langsaan vang sy oog. Melissa s’n, dink hy wrang, die herinnering aan vanoggend se konfrontasie met Mila nog onaangenaam vars in sy geheue. Hy weet nie hoekom die hele besigheid hom so ontstel het nie; sy nuwe buurvrou het duidelik met die verkeerde voet uit die bed opgestaan. Hy glimlag toe hy onthou dat sy eintlik glad nie die oggend opgestaan het nie, maar heelnag by die hospitaal was. Heleen, Melissa se ouma, het hom trots vertel dat haar dogter ’n vroedvrou in privaat praktyk is. Sy’t hom ook vertel dat Mila ’n toegewyde enkelma is, maar dat die onvoorspelbaarheid van haar werk die lewe vir haar en haar dogtertjie nogal moeilik maak.
“Kan sy nie maar eerder vaste ure in ’n kraamsaal werk nie?” het Derek hardop gewonder.“Of sal haar inkomste te veel daal?”
Die ouer vrou het haar kop geskud en vertroulik vooroor geleun.
“Wat jy moet verstaan van Mila,” het sy verduidelik, “is dat haar werk nie vir haar bloot ’n bron van inkomste is nie. Nou goed, sy verdien amper dubbel die salaris van ’n gewone saalsuster, maar dis glad nie haar oorweging nie. Sy is versot op wat sy doen. Haar werk is vir haar ’n roeping. Daardie Aktiewe Geboorte-eenheid is soos nog ’n kind van haar, dis haar trots. Sy’t elke kussingsloop en elke kershouertjie met oneindige liefde en sorg uitgesoek. Alles moet bydra tot ’n warm en huislike atmosfeer vir mammas.”
Toe Derek begrypend knik, het Heleen voortgegaan. “Ek glo nie sy sal ooit teruggaan na ’n gewone kraamsaal nie. Sy’s te onafhanklik. Van kleins af wou sy haar eie kop volg. En om in ’n kraamsaal net die dokters se bevele tot in die fynste besonderhede uit te voer … nee wat, dit sal glad nie deug nie. Hoeveel keer het sy nie al vir my gesê dat sy die saalsusters jammer kry nie. Al is hulle professionele kundiges, mag hulle mos geen onafhanklike besluite neem nie. Elke keer as ’n pasiënt sooibrand het, moet hulle eers die ginekoloog bel en toestemming vra om ’n lekseltjie Gaviscon te gee!”
Derek moes lag vir die ouer vrou se komieklike gesigsuitdrukking. Sy’t hartlik saamgelag, toe ernstiger voortgegaan.
“Ek wens Mila wou die regte man ontmoet. Iemand wat vir Melissa ’n pa kan wees. Die kind is nog klein en sal vir ’n nuwe pappa kan lief word, maar oor ’n paar jaar gaan dit nie so maklik wees nie. Ek bekommer my oor die tweetjies. Ek is seker Mila moet ook hunker na iemand spesiaals – sy het soveel liefde om te gee. Maar sy het nou eenmaal besluit dat sy nie weer ’n kans op geluk