Tienerharte 2: Hartbreker. Cecilia Steyn

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tienerharte 2: Hartbreker - Cecilia Steyn страница 4

Tienerharte 2: Hartbreker - Cecilia Steyn Tienerharte

Скачать книгу

as altyd,” is al wat hy sê en haal sy skouers traak-my-nie-agtig op.

      Nadat ons ons milkshakes gedrink het, haal ek my beursie uit en sit ’n honderdrandnoot op die tafel neer.

      “Vat jou geld, ek het mos gesê ek stick jou,” sê Stefan en skuif die noot terug.

      “Nee, asseblief, dis my treat, omdat jy my gehelp het.” Ek vat die geld en skuif dit weer terug oor die tafel na Stefan.

      Hy skud sy kop en skuif dit weer terug na my. Ek vat die noot en druk dit onder die rekening in voor ek dit vir die kelnerin in haar hande gee.

      “Oukei,” sê Stefan, “as jy dit so verkies.” Hy lig sy wenkbroue asof hy nie heeltemal die konsep begryp nie. Ons staan op en stap deur die stampvol tafels na die uitgang toe.

      “Ciska!” roep iemand. Sonder om om te draai weet ek wie dit is. Ek gryp Stefan se hand en hou dit styf vas voordat ek glimlag en omdraai.

      “Tertius,” sê ek vriendelik en sit my ander hand op Stefan se borskas. Ek voel hoe Stefan versteen onder my skielike aanraking.

      “Ek dog jy hou nie van milkshakes nie?” sê Tertius sarkasties. Hy kyk Stefan op en af en dan weer na my. “Nou verstaan ek hoekom jy my ignoreer.”

      “Jip,” sê ek en hou my en Stefan se verstrengelde vingers in die lug sodat Tertius die prentjie mooi kan kry. Stefan se lyf ontspan en hy sit sy arm om my lyf. Hy verstaan hy moet saamspeel.

      Tertius knik sy kop en sy lippe trek effens skeef. “Jy kon my net gesê het, Ciska, dit was nie nodig om te jok nie,” is al wat hy sê voor hy terugdraai na sy tafel toe. “Vroumense,” hoor ek hom mompel terwyl hy wegstap.

      Buite JJ’s los ek Stefan se hand, maar hy klou nog my vingers vas.

      “Jy kan maar los, dankie. Jammer daaroor.” Aarde sluk my in, maar ’n meisie moet op haar voete dink.

      “Ek is nie,” sê Stefan en knipoog vir my. “Wie was dit?” vra hy geïnteresseerd, sy vingers steeds in myne verstrengel.

      “Dit was Treurige Tertius en moenie enige idees kry nie,” sê ek vies en pluk my hand terug. “Dis nie asof ek in die ry gaan inval nie,” sê ek en storm deur die parkeerterrein na sy Jeep toe.

      “Watse ry?” vra hy. Stefan draf om by my te bly.

      Ek rol my oë. Asof hy nie weet nie. Stefan se oë lyk soos melksjokolade wat te lank in die warm son gelê het.

      “Die ry van hier af maan toe om net een keer vir Stefan Bruwer te date,” lig ek hom in. Ek lag. “Jy kan begin toegang vra.”

      Stefan lag net en druk die afstandbeheer van sy Jeep. Ek klim in en maak my veiligheidsgordel vas.

      Stefan skuif agter die stuurwiel in. “Soos ek dit sien, skuld jy my. Ek het jou nou al twee keer op een dag gered,” sê hy met ’n ondeunde glimlag. Daai een wat die kuiltjie in sy ken nog meer prominent maak. “Jy kan my vanaand uitvat vir ete,” sê hy. “Om dankie te sê.” Hy peuter met die radio en Bob Marley se stem blêr deur die luidsprekers.

      “Ekskuus?” vra ek verbaas oor sy arrogansie. “Nee, beslis nie. Ek sal eerder vir ’n wortelkanaal gaan as om saam met jou op ’n date te gaan.”

      “Ek het niks van ’n date gesê nie, Ciska. Dis jou woorde daai,” roep Stefan bo die harde musiek.

      Sy simpel glimlag kan beslis nie breër as wat dit op hierdie oomblik is nie.

      Stefan

      “AG HEL, STEFAN. Lyk net beter, ou!” sê Dewald terwyl hy my ’n hou teen die bo-arm gee. “Dit lyk nou al vir dae asof iemand jou room gesteel het.”

      Ek rol my oë en voel hoe my wenkbroue op ’n plooi trek. Die gevoelens wat gister deur my lyf gespoel het, is verwarrend. Ciska dwaal al heeldag deur my gedagtes. Die gevoel van haar sagte vel toe sy gister my hand gevat het.

      “Ek’s fine,” sê ek vir Dewald en stap yskas toe. “Ek dink dis net sooibrand.” Dis deesdae die enigste verskoning waaraan ek kan dink omdat ek altyd miserabel voel. Bekaf. Depressief. Alleen.

      “Bel haar net,” sê Dewald terwyl hy die PlayStation en TV aansit.

      “Wie?” vra ek verstom.

      “Ek weet nie, wie jou ook al so laat lyk,” sê hy en beduie na my asof hy ’n lesing gee en ek die onderwerp van bespreking is.

      Ek wonder of sy darem oukei is na die ongeluk. ’n Mens kom baie keer eers die volgende dag agter jy het eintlik beserings opgedoen. My oë gaan soos magnete na my nuwe branderplank wat in die hoek van die sitkamer staan.

      Ciska het my dit sorgvuldig help uitkies nadat ek haar om verskoning gevra het oor my onnosele opmerking. Dit was lekker om haar vir paar uur te kon ontvoer en net vir myself te hê. Al was dit net vir ’n rukkie. Ek wonder wie die Tertius-vent is wat ons in JJ’s gesien het. Ten minste hou sy nie van hom nie, anders sou sy my nie as haar ou voorgestel het nie.

      Ek besluit om my sus te bel en te hoor hoe dit met haar gaan, dan kan ek sommer so terloops vra oor Ciska.

      “Great, daai flippen Aster101 is al weer aanlyn,” sê Dewald en sy stem ruk my terug aarde toe. Hy beduie met sy oë na die aanlyn-game. “Jy beter my kom help, sy gaan my weer uitmekaarskiet.”

      Ek gooi vir eers my foon op die koffietafel en spring oor die bank se rugleuning. Ek gryp die kontrole en begin wild en wakker te skiet.

      “Ouch, sy’s flippen wreed!” sê ek terwyl ek die knoppies al hoe harder druk. Die skerm voor ons is in twee verdeel. Die volgende oomblik word my helfte van die skerm bloedbelope. Sy het my sowaar van agter af bekruip en vrekgeskiet. Dewald is volgende op haar hitlist.

      “O, daar blindside sy jou ook. Sy gee ’n mens nie ’n kat se kans nie. Sy is duidelik vandag in ’n slegte bui. Seker daai tyd van die maand,” sê ek vir Dewald.

      “Jy besef Aster101 is waarskynlik ’n veertigjarige man wat heeldag op sy ma se rusbank sit en PlayStation speel,” sê Dewald en lag.

      “Nee man, nou bederf jy dit vir my. In my verbeelding is sy ’n blonde bom met groot …” en terwyl ek nog wil beduie wat groot moet wees, begin my foon lui. Dis ’n onbekende nommer.

      “Stefan Bruwer, ” antwoord ek ongeduldig.

      “Stefan, hallo. Dis professor Delport hier,” sê die stem en ek wys vir Dewald hy moet die klank afsit.

      “Middag, Prof,” sê ek en skuif ongemaklik op die bank rond. Ek wonder hoekom hy my sou bel. Professor Delport is my en Dewald se strafregprofessor.

      “Ek val sommer met die deur by die huis in, Stefan. Ek wil jou ’n guns vra,” sê hy. Ek sit regop. “Ek het gewonder of jy nie dalk sou belangstel om die Paasvakansie vir my te kom huis oppas nie. Ons gaan Milaan toe en ek sal dit hoog op prys stel as iemand wat ek vertrou vir die week in my huis kom bly.”

      Dis vreemd dat hy my sou bel. Ons ken mekaar skaars. Hoekom sal hy nou juis wil hê ek moet sy huis oppas? Professor Delport bly glo in ’n paleis in Kampsbaai.

Скачать книгу