Melodie Omnibus 1. Elza Rademeyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Melodie Omnibus 1 - Elza Rademeyer страница 16
“Ek het nog nie so baie met hom te doen gekry dat ek regtig ’n opinie oor hom kan lug nie. Hoe vorder jy met die bou van jou skuit?”
“Ons sal hom een van die dae kan gaan toets, daar op die dieper kant van die meer. Hoe ver het jy gekom met jou huis se dinge?”
“Die binnekant is klaar. Ek moet net iemand kry om vir my die buitemure te verf. Die tuin sal ek self probeer regruk.”
“Ek kan iemand aanbeveel om die verfwerk te doen. Hy’t my huis ook geverf. Sy naam is Thomas en hy’s betroubaar, jy hoef nie heeldag agter hom te staan nie.”
“Hoe kan ek met hom in aanraking kom?”
“Hy bly so ’n kilometer of wat buite De Meer. Ek sal hom sê om jou te kom sien.”
“Hoe gaan hy bedags hier kom? Moet ek hom gaan haal en wegbring?”
“Nee, hy’t ’n fiets. Jy moet maar net die verf koop en sê wat jy gedoen wil hê. Hy sal ’n tydjie besig wees, want die ou verf sal eers afgeskraap moet word.”
“Ek sal bly wees as jy hom sal vra om my te kom help. Maar eers later. Ek moet eers die verf gaan koop, en ek wil ook eers meer vertroud raak met die dinge by die werk.”
“Ek hoop dit gaan vir jou die moeite werd wees om al die verbeteringe aan te bring.”
“Hoekom sê jy so?”
“Ek het al ’n paar keer fluisteringe gehoor dat die ontwikkelaars van Vissersbaai hulle oë op De Meer ook het.”
“Wat beteken dit? Hulle kan tog nie ons huise onteien nie, kan hulle?”
“Nee, hulle sal ons uitbetaal, maar teen markwaarde. Nie teen die prys wat die huise vir ons werd is nie.”
“Waarheen moet ek gaan as hulle die huis onder my uitkoop? Ek kan nie ’n ander plek bekostig nie.”
Hy lig sy skouers. “Dalk is dit net praatjies.”
“En as dit waar is, wat gaan jý doen?”
“Eers baklei. En as dit nie werk nie, sal ek maar Vissersbaai toe verskuif. Maar daar gaan ’n ou betaal dat jy bars vir ’n huis.”
“Ek sal nooit ’n huis daar kan bekostig nie.”
“Dan kom trek jy maar by my in.”
“So nooit as te nimmer nie!”
Haar stem klink so bitter dat sy self skrik daarvoor. Sy kyk vinnig anderpad toe hy na haar kant toe kyk.
“Toe maar,” hoor sy hom egalig sê. “Dit sal nie gou wees nie, want ek kan ook nie ’n huis daar bekostig nie. En dit sal maar koud raak onder ’n bos.”
Nadia se senuwees is omtrent gedaan toe die ete verby is en sy kan teruggaan na haar huis. Die aand kan seker as suksesvol beskryf word. Maar daar was tye dat sy Dimitri se blik peinsend op haar betrap het. Dit het gemaak dat sy die hele aand op haar hoede was.
Die volgende oggend, net nadat dokter Louw by die spreekkamer opgedaag het, word hy na oom Jorsie Potgieter se huis uitgeroep. Maar dis nie lank nie of hy’s terug.
“Trombose. Daar is niks wat ek kon doen nie,” deel hy Nadia mee. “Hy was klaar oorlede.”
Oom Jorsie dood! Sy wou hom nog uitgevra het. Nou bly net tant Jana oor. Gelukkig dat sy haar adres het. Die gedagte dat haar anonieme siek weldoener haar biologiese pa is, wil haar nie verlaat nie. Maar hoekom wil hy haar dan nie sien nie? Het hy dalk ’n vrou en kinders wat nie van haar bestaan weet nie?
Die middag ná werk ry sy reguit na tant Jana toe, met die hoop dat die tante se verstand helder sal wees. Toe die tante haar dan ook dadelik herken as die meisie van die spreekkamer, skep sy moed.
Maar die tante is kortaf. “Wat wil jy hê?” vra sy. “Ek hét jou mos betaal vir daardie spul pille wat jy my gegee het. Ek het dit in harde kontant vir jou gegee.”
“Dis reg, ja, tante het. Ek het maar sommer net gou hier aangery om te kom verneem of tante beter voel.”
“Wel, die naarheid is beter. Maar is dit al waarvoor jy hiernatoe gekom het?”
“Ja. En om sommer so ’n bietjie te gesels, as tante tyd het. As u nie tyd het nie, ry ek maar verder.”
“Ek het altyd tyd vir gesels. Maar ek het nie tyd vir mense wat geld uit my wil maak nie. Kom sit, ek maak vir ons koffie.”
“Onthou tante nog die mense wat daar onder langs die meer gewoon het, Anna en Kerneels Pretorius?” vra Nadia toe hulle met die koffie voor hulle sit.
“Pretorius? Ek herinner my so iets, ja. Die man het soos ’n vis gesuip. En sy vrou het wasgoed gewas om hulle aan die lewe te hou.”
“Kan tante onthou of hulle kinders gehad het?”
“Ja, ’n dogtertjie. So ’n maer skepseltjie met vlegsels. Sy’t my alte veel aan ’n verskrikte hasie laat dink. Dis ’n skande hoe hulle haar behandel het. Ou Anna het altyd net twee stukke vis gekoop – vir haar en die ou suiplap. Dan het hulle vir die kind net ’n stukkie van die stertkante afgesny. Geen wonder sy was so maer nie.”
“Was dit hul eie kind, of het hulle haar aangeneem?”
“Daar was baie stories destyds. Maar ek het my nie daaraan gesteur nie. My oorlede man was ’n afgetrede bankbestuurder. Ons het ons nie opgehou met die armlastiges van die oewer nie.”
Dit word gou vir Nadia duidelik dat tant Jana geen verdere inligting vir haar kan gee nie. Sy vertrek dan ook sonder om die tante in te lig dat dit sý was wat destyds soos ’n verskrikte hasie gelyk het.
Toe sy by die huis kom, staan Dimitri in sy voortuin. “Is jy nie lus om saam met my te gaan stap nie?” vra hy nadat hulle mekaar gegroet het. “Kom ons gaan klim Slangkop uit.”
“Dis al laterig. Sal die donker ons nie vang nie?”
“Nee wat, dis nie só ver nie. Dis in elk geval volmaan, so ons sal nog die pad kan sien as die skemerte ons vang.”
“Dan moet jy my net kans gee om iets anders aan te trek.”
“Maak so. Ek wag hier buite vir jou.”
Sy moes eerder ’n verskoning uitgedink het, flits dit deur Nadia se gedagtes terwyl sy verklee. Dit gaan nie ’n goeie ding afgee as sy en Dimitri so baie in mekaar se geselskap is nie. Die een of ander tyd gaan hy agterdogtig raak, of sy praat dalk haar mond verby. Aan die ander kant, sy is lus vir stap. Wat sal sy tog nou die hele aand alleen in die huis sit en doen?
Dis nie lank nie, of hul voete sak so diep weg in die sand dat hulle nie anders kan as om te lag vir mekaar se potsierlike bewegings nie. Ná ’n rukkie trek hulle hul tekkies uit om kaalvoet verder te stap. Toe hulle by die punt kom waar die pad doodloop, neem hy haar aan die hand om haar oor die rotse te help na waar die groot rots oor die meer hang. Dog, tot Nadia se ontnugtering kom sy agter die hoogte vang haar.
“Ek kan nie verder