Liefde deur ’n lens. Elsa Winckler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Liefde deur ’n lens - Elsa Winckler страница
Liefde deur ’n lens
Elsa Winckler
Satyn
Proloog
“Ek race jou!” skree Jannes. “Tot by die hoek!”
Nog voordat Nicola op haar fiets kan klim, trek Jannes al ’n hele ent in die pad af.
“Jy kroek!” skree sy terug terwyl sy op haar fiets spring en begin trap. Die fiets se bande sing en die kamera om haar nek swaai heen en weer.
Jannes is amper by die hoek van die straat, maar sy kan hom dalk nog inhaal. “Ek gaan jou wen!” Sy trap vinniger.
Hy kyk laggend om.
Haar bene werk nog harder, die afstand krimp. Hulle is amper by die hoek waar Jannes sal stop.
“Ek wen!” Hy kyk weer oor sy skouer, maar stop nie.
’n Motor kom vinnig om die hoek. Remme. Glas.
Iemand gil.
Nicola stop, staan met haar bene weerskante van haar fiets. Haar asem jaag. Jannes lê op die teer. Hy beweeg nie. Daar is bloed. Onder sy kop. Mense kom aangehardloop uit hulle huise.
Iemand huil verskriklik. Nicola se gesig is nat. Dis háár trane. Dis sy wat so huil. Sy kry so verskriklik seer, die motor moes haar seker ook raak gery het. Sy druk haar hand teen haar lyf en kyk daarna. Geen bloed.
Hoekom pyn dit dan so?
Sy gooi haar fiets eenkant toe, en hardloop na waar Jannes lê. Mense staan in ’n kring om hom. Snikkend beur sy tussen hulle bene deur tot by hom. Hy lê nog steeds stil. Hoekom is hy so stil?
Waar haar kamera aan haar lyf raak, pyn dit asof iets daar uitgeruk is. Sy voel aan haar wang. Haar trane het opgedroog. Haar hande vou om haar kamera. As sy dit styf vashou, kry haar vingers seer, maar dan is die pyn hier binne nie so erg nie.
“Nicola!” Haar ma se stem.
Die volgende oomblik lig haar pa haar op en vou sy arms om haar.
“Sy’s oukei vrou, sy’s oukei.”
“Kyk vir Jannes,” snik haar ma. “Hy’s dood.”
Haar ma slaan haar arms om Nicola en haar pa, en hulle staan lank so. Om hulle praat en huil mense, maar Nicola druk haar kop styf teen haar pa se bors.
Sy sal nooit weer kan huil nie, sy het al die trane wat mens kry, uitgehuil. Opgehuil.
Buitendien pas haar kamera mooi oor die gat in haar maag. Sy moet net seker maak sy het dit altyd by haar.
1
O, aarde, hoe gaan sy dít nou regkry? Nicola het ’n skinkbord met aartappelslaai en ’n gerookte varkboud in haar hande. Haar handsak is oor haar skouer en haar kamera om haar nek.
Die Kerspresente is nog in die motor, sy het nie genoeg hande daarvoor ook nog gehad nie. Die deurklokkie is net te hoog om by te kom sonder die gebruik van haar arms. Sy moet óf die skinkbord neersit, óf probeer om die voordeur met haar elmboog oop te maak.
Dalk eerder die elmboog, haar rompie is beslis te kort vir ’n bukkery.
Die bloedrooi nousluitende kantrompie wat sy in Buenos Aires gekoop het, moet eintlik net gedra word wanneer mens heeltyd staan. Om daarin te probeer sit of buk, skep ’n probleem. Dis jammer dat sy dit vandag eers agtergekom het, die eerste keer wat sy dit aantrek. Dit was nogal ’n gesukkel om in die motor te klim en toe sy eindelik sien hoe hoog die rompie optrek wanneer sy sit, was daar nie tyd om iets anders aan te trek nie. Buitendien moes sy, volgens die tradisie wat haar ma jare gelede begin het, iets roois na die gesin se jaarlikse Kersete aantrek, en dit was al rooi kledingstuk wat sy in haar baie deurmekaar tas kon kry.
Hier by die huis van haar broer Chris en sy vrou, Amelie, word die etenstafel darem gewoonlik met ’n lang tafeldoek gedek, so hopelik sal dit haar fatsoenlik hou.
Nicola draai, haar elmboog beweeg na die voordeur toe … Ag, vrek, dit gaan nie werk nie. Die deur se handvatsel is ’n knop, nie een wat sy kan afdruk nie. Buk sal sy moet buk, daar is geen ander manier om die deur oop te kry nie.
Laat sy net die skinkbord uit die pad kry voordat sy boonop op die slaai en varkboud trap. Voor haar is nie genoeg plek nie, en sy draai haar rug op die deur en leun vorentoe om die skinkbord op die grond te sit.
Terselfdertyd vlieg die voordeur agter haar oop.
“Dankie, tog,” lag sy sonder om om te kyk. “Ek het gewonder hoe ek die deur gaan oopkry!” Sy kom orent, draai om en blaas, swoesj, omtrent die laaste molekule van haar asem uit.
“Hallo, Nicola,” sê Francois.
Francois Olivier, haar nuwe skoonsus se broer, staan in die deur. Sy het onthou hy is aantreklik, maar sjoe, hy is langer, groter as wat sy onthou, sy hare blonder. En was sy oë nog altyd so helder groen?
Om die een of ander rede is sy kake styf opmekaar geklem en beweeg sy mond skaars wanneer hy praat.
“Francois, haai,” groet Nicola vreemd hees en wil verby hom stap, maar hy steek sy hande uit om die skinkbord by haar te vat.
Sy vingers raak aan hare. Hulle al twee vries, groen oë vang hare vas.
“Jy was lank weg,” sê hy.
Sy lek oor haar skielik droë lippe. “Amper ’n jaar.”
“Elf maande en drie weke.”
Uit die veld geslaan, staar sy na hom. “Hoe weet jy?”
“Ek weet.”
En is sy kop nie nou nader as netnou nie? Sowaar, die man gaan haar soen. Asof gehipnotiseerd hou sy sy mond dop wat al hoe nader kom. Maar oukei, hulle is eintlik familie, of hoe?
Sy lippe vang hare vas. Wow. Dit is nou nie asof sy mans elke dag soen nie, maar dit is beslis nie ’n soen wat sê ons is mos familie en dis Kersfees nie. Ek wil jóú graag soen, is wat hierdie soen sê.
Haar oë val toe. Sy sal later daaroor skaam kry; op die oomblik geniet sy die sensasie van warm lippe op hare, die growwigheid van ’n mansgesig teen haar sagter een en die onmiskenbare geur van bergamot, kardemom en sederhout wat om haar hang.
Hy lig sy kop op: “Geseënde Kersfees en welkom terug.”
Sy probeer hom nog bedank, toe stap hy al, skinkbord in sy hande, in die gang af.
Vir ’n paar sekondes staar sy hom agterna. Wat het so pas hier gebeur? Sy probeer haar met haar hand koel waai. Haar hele lyf gloei.
“Is sy hier?” hoor sy Amelie uitroep en die volgende oomblik verskyn haar suster, René, en beide haar skoonsusters, Amelie en Natalie, aan die bokant van die gang.
“Sussa!” René storm met oop arms op haar af. “Dis omtrent ’n groot Krismisboks om jou terug te hê.”
Amelie