Liefde deur ’n lens. Elsa Winckler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Liefde deur ’n lens - Elsa Winckler страница 4
“Sy’s veilig, sy’s hier, Salomien,” sê haar pa en vat haar ma se hand in syne.
“Almal was so geskok, selfs hier aan die suidpunt van Afrika,” voeg Neil by.
Nicola neem ’n sluk wyn, druk haar hand teen haar lyf. “Tragies,” is al wat sy uitkry.
“Hey,” sê René, en toe Nicola opkyk, is René se oë vol trane. Sy steek haar hand oor die tafel, en Nicola gee haar hand ’n drukkie voordat sy verder eet.
René verstaan haar so goed. Haar sus huil sommer om haar onthalwe ook.
“Het jy genoeg foto’s vir jou uitstalling?” vra Chris. “Wanneer is dit nou weer?”
“Einde Februarie. Hoewel ek al heelwat verkoop het, het ek meer as genoeg om uit te kies. Ek het ’n idee vir ’n tema en kan nie wag om deur die foto’s te gaan om die regtes uit te soek nie. Toe ek ingestem het tot die uitstalling, het ek nie gedink ek gaan so lank weg wees nie, maar ek het Suid-Amerika baie geniet, veral Buenos Aires, en het langer daar gebly as wat ek aanvanklik beplan het. Dis so ’n fassinerende stad. En die mense se gesigte is so ekspressief – ek kon nie ophou foto’s neem nie.”
“Sal jy die foto’s betyds vergroot en geraam kan kry?” vra haar pa.
“Ek kon die laboratorium darem al ’n ruk gelede laat weet het om vir my goed ’n gaatjie te hou en die persoon wat die raamwerk doen, weet ook ek gaan binnekort op sy nommer druk. Die laboratorium moet minstens ’n paar weke hê, maar ek dink ons het genoeg tyd.”
“So jy gaan nie self jou foto’s ontwikkel nie?” vra haar pa.
“Doen fotograwe dit dan nog?” vra Natalie.
“O ja, daar is ’n skool van fotograwe wat reken die enigste ‘real’ foto’s is dié wat ’n fotograaf self in ’n donkerkamer ontwikkel. Ek is ook mal oor die donkerkamer. Die hele proses is baie intiemer, jy as fotograaf is letterlik deel van die ontwikkelingsproses. Jy gebruik die negatief om jou te lei wat om met die foto te doen. Jy’t geduld nodig, maar daar is iets anders aan ’n foto wat jy self ontwikkel het. Die kuns van fotografie lê juis daarin. Maar nou ja, ons leef in ’n digitale wêreld en ek probeer om dit ook in my werk te benut. En ja, Pappa, daar is beslis foto’s wat ek self gaan ontwikkel.”
“Jou jaar weg was seker ’n wonderlike ondervinding,” sug Natalie.
“Ek sal altyd bly wees ek kon dit gedoen het. Omdat ek meestal by van my skool- en universiteitspelle gebly het, moes ek net vliegtuigkaartjies betaal.”
“Wat geen probleem is nie, jy doen so goed uit jou foto’s!” roep Amelie uit. “Is dit nou nie briljant nie?”
“Ek is diep dankbaar oor die platform wat sosiale media bied. Dit is ’n vinnige en maklike manier om te adverteer, en ek het reeds kopers vir my foto’s gehad nog voor ek vir die jaar oorsee vertrek het. Maar genoeg van my. Wat gaan in julle lewens aan? Neethling, ek het gesien daar’s ’n nuwe boek van jou op die rakke. Natalie, ek kan nie wag om na die jongste van jou kwilts te kyk nie. Ek het vir jou … oeps, amper sê ek wat jou present is!”
Almal lag, en Natalie begin opgewonde oor haar man se nuwe boek praat.
Nicola leun terug, sit haar hand op haar hart. Toe René die vlugtelinge genoem het, het sy die weerlose mense vir ’n oomblik so helder voor haar gesien …
Sy het al die seer in haar foto’s geplaas; dit kan haar nie meer raak nie. Sy is oukei.
Die kinders gil en lag terwyl hulle geskenke oopmaak. Nicola se kamera klik-klik vrolik saam terwyl sy die verskriklike tonele waaraan René haar herinner het, uit haar gedagtes dwing.
Francois stap voor haar verby, en ’n heerlike tinteling gly teen haar rug af. O. Liewe. Aarde. Die man se hande … Of hy nou haar hand vashou of haar bobeen streel … Foto’s. Sy neem foto’s. Vergeet van warm hande.
“Nicola,” lag Amelie. “Sit jou kamera neer. Jy is al een wat nog nie geskenke oopgemaak het nie. Toe, toe, toe, maak oop, ons wil sien wat jy gekry het.”
“Kyk wat het ek gekry!” Natalie haal die lappe uit wat Nicola vir haar in Nederland gekoop het. Ademloos tel Natalie die stukke materiaal een vir een op. “Oe, dis mooi!”
“En kyk die funky muis wat ek vir my rekenaar gekry het.” Amelie hou haar geskenk ook in die lug.
“Jy ken ons goed,” glimlag haar pa en sit sy bottel whiskey styf teen sy been neer. Haar broers hou hulle s’n triomfantlik in die lug.
“Ek is so bly oor dié boek,” sê haar ma. “Ek het nie geweet dis al beskikbaar nie.”
“Ma is maklik – enige boek oor sielkunde maak jou happy.” Nicola gee haar ma ’n drukkie.
“En jy en Francois het die kinders so bederf – baie dankie,” sê Amelie.
Op daardie oomblik vat Dewald aan Francois se been. Hy sak af op sy hurke by die seuntjie.
“Hy wil dankie sê vir die karretjie wat jy vir hom gegee het, oom Francois,” sê Chris.
Klik-klik-klik gesels haar kamera nog voordat sy besef sy neem foto’s.
“Jy het nog ’n pakkie!” Amelie oorhandig ’n klein toegedraaide geskenkie aan haar.
“Ek het al van almal ’n present gekry,” sê Nicola terwyl sy die pakkie versigtig oopmaak. “Wie …?” Haar asem raak weg. In ’n pragtige boksie is ’n piepklein voëltjie van ragfyn glas gemaak. Die vlerke is vorentoe gebuig sodat die voël se lyfie heeltemal bedek is.
Sy kyk op, vas in Francois se oë. “Die glasblaser net buite die Paarl,” sê hy asof dit alles verduidelik.
Sy raak versigtig aan die glas met haar vinger. Toe sit sy dit gou neer, gryp haar kamera en klik-klik-klik gesels sy verder saam.
“Wat het Nicola vir jou gegee, Francois?” vra Amelie.
Francois staan op en beduie na sy stapeltjie geskenke. “Ook ’n boek. Baie dankie.”
“Wys my?” Natalie stap nader. Sy tel die boek op. “A Brief History of Seven Killings. Dis die boek oor die aanval op Bob Marley, dan nie? Die skrywer, Marlon James, het die Man Booker-prys hiervoor gewen as ek dit nie mis het nie.” Sy draai verbaas om na Nicola. “Hoe’t jy geweet Francois is ’n Bob Marley fan? Ek het nou die dag eers op sy versameling regte, egte langspeelplate van Marley afgekom.”
Nicola staar ’n paar oomblikke na Natalie. Hoe het sy geweet? Sy lig ’n skouer en tel een van die kleintjies op. “Ek kan nie meer onthou nie. Dankie almal vir my presente – dis so nice!”
Almal begin lag en gesels, en Nicola slaak ’n sug van verligting. Sy het die boek op die lughawe raakgeloop, onthou iemand het gesê Francois is gaande oor Bob Marley, maar as Natalie dit eers onlangs agtergekom het, hoekom het sý onthou?
3
Francois tokkel met sy vingers teen die stuurwiel. Op sy iPod sing Bob Marley: “Is