Liefde deur ’n lens. Elsa Winckler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Liefde deur ’n lens - Elsa Winckler страница 9
Nicola kyk oor sy skouer, en haar oë rek. Sonder om weer na hom te kyk, glip sy vinnig by hom verby.
Francois blaas sy asem stadig uit. Wat de hel gaan met hom aan? Niks van wat hy so pas gesê het, het hy bedoel nie. Die laaste verdomde ding wat hy op die oomblik wil doen, is om sy lewe te kompliseer. En daardie donkerkop is gekompliseerd – selfs hy kan dit sien.
’n Harde hou op sy skouer ruk hom uit sy deurmekaar gedagtes.
“Wat staan jy so en droom?” vra Chris. “Sal jy omgee om hierdie knaap vas te hou?” Hy oorhandig klein Dewald aan hom. “Hy het nou net wakker geword en is knorrig. Ek wil net sy stootkarretjie uithaal.”
Nicola hurk by Christo en probeer aandagtig luister na wat hy te vertel het, maar hoor nie ’n woord nie. Haar hele lyf gloei nog. Wat op aarde is aan die gang tussen haar en Francois?
“Het jy en Francois saam gekom?” vra Amelie terwyl sy nog sakke uit die motor haal.
“Uhm … hy het aangebied.”
“O. Dit het gelyk asof ons ’n baie intense gesprek onderbreek?”
“Nee … hy … ons …”
“Nou toe, kom julle!” roep Chris.
Dankie tog. Nicola het geen idee hoe om te verduidelik wat Francois vir haar gesê het nie. Sy weet nie eens hoekom hy aangebied het om haar op te laai nie. Haar hart wil uit haar borskas klim; sy kan die bloed deur haar are voel bruis. Hierdie wipplankryery van emosies is presies wat sy soos die pes probeer vermy.
Mense soos hy en Natalie en Amelie … dié woorde van hom bly in haar kop draai. Sy dink nooit aan haar skoonsusters en Francois as anders nie, vir haar is hulle deel van haar familie. Sy vergeet soms hoe moeilik hulle by dinge wat vir haar normaal is, moes aanpas. Natalie en Amelie het net mekaar gehad terwyl hulle in die kinderhuis grootgeword het. Natalie het nie eens van haar broer geweet nie. Al wat Amelie wou gehad het, is ’n familie van haar eie om ’n lang tafel. En Natalie wou weer geweet het waarvandaan sy kom, waar sy inpas – sy wou haar eie storie hê. Amelie het die mense om haar tafel gekry en Natalie haar storie, danksy Francois.
Maar wat sou Francois wil hê? Hy verwag nie baie uit die lewe nie, het hy gesê. Wat sou hy daarmee bedoel?
“Dis soos ’n mens lyk wanneer jy twee kinders het.” Sakke hang oor Chris se skouers terwyl hy Dewald se stootkarretjie behendig tussen die ander motors deur stuur. “Ek dink ons het vanoggend die hele huis ingepak.”
“Ag, toe nou, dis nie so erg nie,” sê Amelie. “Ek sorg maar net altyd vir ’n ekstra stel klere, of twee, drie. Seuntjies word gou vuil, soos julle ook eendag sal agterkom wanneer julle kinders het. Laggend beduie sy na Francois en Nicola.
“Nie vir my nie, dankie.” Nicola skuif Christo na haar ander heup. “Ek speel baie lekker met my sibbe se kinders.”
“En jy, Francois? Sou jy graag wou kinders hê?” vra Chris.
Nicola gesels met Christo en probeer om nie te luister wat Francois sê nie. Hoekom praat hulle hoegenaamd oor kinders?
“Ek het nog nooit eintlik daaraan gedink nie. Vir solank as wat ek onthou, het ek probeer uitvind waar my suster is. En nou is sy deel van my lewe.”
“So nou kan jy begin dink aan jou toekoms, aan trou en kinders kry,” reken Amelie.
“Daar is Natalie en Neethling.” Chris beduie na ’n lang tafel onder die bome.
Nicola stap vinniger. Sy wil seker maak sy sit so ver moontlik van Francois af. Van môre af is al die feesdae verby en keer die lewe weer na normaal terug. Dankie tog. Dit beteken sy hoef nie elke dag naby die man te wees nie.
Sy kan nie wag om haar foto’s vir die uitstalling te begin sorteer nie. Die hele proses gaan haar so besig hou dat hierdie simpel gevoel van skoenlappers op die maag waarmee sy van Kersdag af rondloop, gou sal verdwyn. Daarvoor sal sy sorg.
“Hallo, almal!” Met Mila op haar heup, stap Natalie nader. “O, lekker, daar is Ma en Pa ook, nou is ons voltallig.”
Nicola kyk om sodat sy haar ouers kan groet. Francois staan direk agter haar en dis teen sy breë borskas wat sy vaskyk. En verdomp of die skoenlappers nie weer wild begin fladder nie.
Sonder om op te kyk in sy oë, glip sy verby hom sodat sy haar mense kan groet.
“O, julle is hier,” sê haar ma. “Het Francois jou toe opgelaai?”
“Ja, Mamma.”
“So ’n nice man,” sê haar ma terwyl sy haar groet.
Nicola groet haar pa en stap inderhaas na die ander kant van die tafel toe. Sy hou net mooi niks van die lig in haar ma se oë wanneer sy na Francois kyk nie. Nicola kan eintlik sien hoe die ratte in haar kop draai. En sy weet presies wat dit beteken – haar ma het haar nou in die visier as die volgende kandidaat wat ’n man moet kry.
Hy probeer regtig. Daar is so baie ander dinge om te sien en te doen, maar as Francois hom kom kry, is sy oë op Nicola.
Hulle het sjokolade geproe, wyn geproe, rondgeloop in ’n interessante winkel en na die glasblaser gaan kyk. Dit is dieselfde plek waar hy ’n ruk gelede die glasvoëltjie met toegevoude vlerke raakgesien en gekoop het. En geweet het hy gaan dit vir Nicola gee.
Want dis waaraan sy hom laat dink. Dis asof onsigbare vlerke haar binne-in haar eie wêreld hou, en ander mense uit. Sy is vrolik en gesels graag, maar haar kamera is die hele tyd in haar hande. Net af en toe, wanneer sy met die kinders gesels of speel, vergeet sy vir ’n paar sekondes van hoe snaarstyf gespanne sy alles in haar omgewing beheer, lag sy onbevange, laat sy haarself toe om net te wéés. Andersins kan hy eintlik sien hoe styf sy die denkbeeldige leisels vashou. Hoekom?
Hulle het so pas middagete bestel. Hy het langs Nicola se ma aan tafel beland. Dis vir hom baie duidelik Nicola probeer nog heeldag so ver moontlik van hom af bly. Wat hom besiel het om vanoggend alles wat in sy kop aangaan uit te blaker, weet hy steeds nie. En eers toe hy aan haar probeer verduidelik het wat in sy binneste aangaan, het hy besef hoe sy hom ’n jaar lank al fassineer.
Nicola lê op haar maag op die gras, haar kamera soos gewoonlik voor haar gesig. Die seuntjies hardloop rond, klein Mila sit en slaap in haar stootkarretjie. Dis vir haar wat Nicola afneem, sien hy. Terwyl die kamera voor haar gesig is, terwyl sy foto’s neem, lewe sy, kan hy iets sien van die girl wat agter haar toe vlerke skuil.
Langs hom sug haar ma. “Dié kind. Altyd aan die foto’s neem.”
Francois leun terug op sy stoel. “Haar verskansing?”
Verbaas, kyk tannie Salomien na hom.
Half verleë lig hy sy skouer. “Ek het gehoor toe tannie nou die dag daarna verwys.”
Sy knik. “Sy was tien toe die ongeluk gebeur het. En van toe af …”
“Watter ongeluk?” vra hy.
“Ek … sy praat nooit daaroor nie. Ek het eers baie later besef hoe traumaties die hele voorval vir haar was; ek moes van beter geweet het.