Ena Murray Keur 10. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 10 - Ena Murray страница 1
ENA MURRAY
KEUR 10
’n Bruidegom vir Lille • Die spookvrou van Santa Catalina • Bruid uit die vreemde
Jasmyn
1
Die agttiende eeu is in sy doodsnikke.
Soos oral oor die aardbol vergeet ook Frankryk vanaand ’n paar uur lank van sy bloedige verlede en vier fees. In hierdie laaste aand van die agttiende eeu het die Franse immers hoop dat die nuwe eeu beter beloftes en besieling vir ’n nuwe toekoms sal inhou. Want die bloedige Franse Rewolusie van 1789 is agter die rug, toe die onderdrukte gepeupel al wat edelman was na die skavot gesleep en hul oorheersers Madame Guillotine se laaste kus laat proe het.
Ook die tydperk net daarna met Maximilien Robespierre en sy gevreesde Jakobyne aan bewind, wat ’n Heerskappy van Vrees – soos dit in hoofletters in later jare in die annale van die wêreldgeskiedenis opgeteken sou staan – in Frankryk gevoer het, en veroorsaak het dat menige goeie Fransman uit die vaderland gevlug het, is verby. Reeds te ver gedryf deur jare se dwingelandy onder hul meerderes, het ook Robespierre die pad van sy voorgangers gegaan en onder die valbyl gesterf.
Weliswaar het die daaropvolgende tydperk nie juis meer hoop en vertroue by die hoipolloi gewek nie, want die Raad van Direkteure wat Frankryk se regering toe onder hande geneem het, was nie minder korrup as sy voorgangers nie. Ook die “nuwe” rykmansklas onder die Franse – die boewe en rowers en afpersers wat vir eie gewin hul landgenote uitgebuit en die onsekere en wankelrige situasie tot eie voordeel omgeswaai het – was nie te beny nie.
Maar … ’n nuwe ster het skielik teen Frankryk se donker firmament verskyn: ’n kort, donker, begeesterde, ambisieuse jong generaal – Napoleon Bonaparte.
Elke oog in Frankryk is op hierdie man gerig sedert sy eerste segetog in Italië. Napoleon Bonaparte se naam is op elke lip. Gaan hierdie man Frankryk teruglei na glorie? Dit het so gelyk, want net verlede maand, November 1799, het hy die bestaande regering omvergewerp en homself tot Eerste Konsul uitgeroep.
Daarom vier die vaderland vanaand fees. Die eerste keer in jare het hulle werklik rede om die Franse rooiwyn in strale te laat loop.
Van bo uit die noorde in Calais tot onder in die suide van Toulon, van Brest aan die Weskus tot by Savoy op die oostelike grens, brand die vreugdevure. Daar word behoorlik van die agttiende eeu afskeid geneem.
In haar beskeie huisie in die hawestad Toulon lê en luister Josephine Jacquard na die geluide van die feesvieringe wat haar ore deur haar kamervenster bereik. Sy is seker van die enkeles wat op hierdie Oujaarsaand nie deelneem aan die jolyt nie, want met sewentig somers agter die rug en ’n liggaam wat reeds afgetakel is, stel sy nie meer belang in wat die negentiende eeu mag inhou nie. Nie vir háár nie. Net herinneringe het vir haar oorgebly, waarvan die meeste nie aangenaam is nie. Die enkeles wat wel ’n sagte gloed in haar oë bring, wek so ’n intense nostalgie in haar dat sy dit liewer nie wil opdiep nie.
Nee, sy moet liewer nie dink aan gister nie. Dis onherroeplik verby, net soos wat hierdie eeu binne ’n paar minute ook tot die verlede sal behoort.
Maar hoewel daar vir haar niks op dié drumpel van ’n nuwe eeu wag nie, moet sy haar tog ter wille van plig en bloed dwing om oor die toekoms van haar broerskind te besin. En nie net te dink nie. Daar sal nou daadwerklik opgetree moet word. Lille was al agttien. Nie dat dít haar tante so ontstel nie, maar Lille bevind haar in die verkeerde geselskap. Lille gaan met die verkeerde man trou as sy wat Josephine is nie ’n plan beraam nie.
Dis ’n uur of wat later. Die gelui van klokke het reeds die nuwe eeu se geboorte aangekondig en in die hawe het die skepe voor anker salvo’s kanonskote afgevuur om dit luid bekend te maak. Die ou dame se kamerdeur swaai saggies oop en ’n jong meisie nader die bed op haar tone.
Josephine lig haar hand op en wink haar nader. “Kom nader, kind. Is jy tuis?”
“Ja, tante. Is u dan nog altyd wakker?”
Josephine Jacquard glimlag moeg na die gesiggie wat oor haar buig.
“Dis nie elke dag dat ’n mens die oorgang van een eeu na ’n ander beleef nie. Ek lê maar en luister na al die jolyt in die strate en die klokkespel en die kanonvuur van die skepe. Dit klink vir my asof die hele Toulon vannag op straat is.”
Die jong meisie lag, neem sommer op die kant van die hoë kapbed plaas. “Ja, die mense is mal! Dit dans en drink in die strate! O ja!” Sy buk vooroor, soen die een verrimpelde, bleek wang. “’n Voorspoedige nuwe jaar vir u, tante! ’n Mens moet eintlik sê ’n voorspoedige nuwe eeu!”
Die ou dame se glimlag bereik nie haar oë nie. Sy twyfel of selfs ’n jaar nog vir haar voorlê. Die erns is sigbaar in haar oë en stem toe sy antwoord: “Dankie, Lille. My mooiste wense ook vir jou vir hierdie nuwe jaar. Jy sal beslis meer van hierdie nuwe eeu sien as ek. Ek hoop dit sal net mooi dinge wees, maar …”
Die meisie frons liggies, probeer die erns ontwyk. “Ag, nee wat, kom nou! Ons gaan nie nóú ernstig word nie! Daarvoor is die nuwe eeu darem nog te jonk!”
Maar Josephine Jacquard weet dat die tyd verbyvlieg. En daar is dinge wat nie langer verswyg mag word nie. Belangrike dinge. Nou is net so ’n goeie tyd om daaroor te praat as later. Haar broerskind lyk ten spyte van die laatnaguur geensins moeg en vaak nie. Inteendeel. Sy vertoon soos ’n vars lentebloeisel waar sy hier digby haar sit, die donker oë dansend en die lig van die lamp spelend oor haar fyn, aristokratiese gelaatstrekke en die lang, raafswart hare.
“Daar is nog baie tyd vir jou, my kind. Maar vir my … Lille, ek wil ernstig met jou praat. Asseblief!”
Die jong meisie sug saggies, leun dan terug teen die voetenent se styl en glimlag. Ag, sy sal maar luister. Die dierbare ou ding lyk so bekommerd. Haar blik verteder. Hoe verskriklik baie is sy nie aan hierdie vrou verskuldig nie. As dit darem nie vir haar was nie …
“Goed, tant Josephine. As u regtig wil. Wat druk so swaar op die ou hart?”
“Jy, my kind.”
“Ek?” Sy is eerlik verbaas. “Wat het ek gedoen?”
Die ouer vrou sug. “Dis nie dat jy iets gedoen het nie, Lille. Dis … Ek is bekommerd oor jou toekoms, wat van jou gaan word as ek wegval en …”
“Ons gaan nie nóú oor sulke dinge praat nie,” sê Lille Jacquard vinnig, terwyl sy die tikkie onrus wat haar tante se woorde in haar gewek het, met alle mag terugdruk.
“Nou is ’n baie goeie tyd, Lille. Met die oorgang van die eeu besef ’n mens die tydelikheid van alles, van jou bestaan as mens op hierdie aarde. Daarom moet ons nou praat. Ons weet nie een wat môre wag nie, nie waar nie?”
Met ’n ligte suggie gee sy toe. “Nou goed dan. Waarom bekommer u u oor my? Ek is versorg, dan nie? U het mos gesê dat u my erfenis vir my kon red, of altans ’n groot deel daarvan, en saam met die deel wat u ook bysit, hoef ek nooit kommer oor aardse dinge te hê nie. Wat pla u dan nog?”
Josephine sug. Natuurlik sal sy nie sommer verstaan nie. Maar daar is belangriker dinge as om geen finansiële probleme te hê nie.
“Ek wens so ek kon jou getroud sien voordat ek … gaan.”
“Tante! Ons het al hieroor gepraat. Goed, ek was al agttien, maar ek gaan beslis nie nou al trou en kinders in die lewe bring