Jesus ruik na mirre en stof. Pierre du Plessis
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Jesus ruik na mirre en stof - Pierre du Plessis страница 1
JESUS ruik na
MIRRE EN STOF
Pierre du Plessis
Lux Verbi
Die uitleg van hierdie digitale uitgawe van Jesus ruik na mirre en stof mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.
Rialette, hierdie een is vir jou.
Jy is my liefde en my redder.
Voorwoord
“My nooi is in ’n nartjie,
my ouma in kaneel.
daar’s iemand … iemand in anys,
daar’s ’n vrou in elke geur!”
So skryf DJ Opperman (1917-1985), een van die grootste stemme ooit in die Afrikaanse letterkunde. Geure omring ons gedurig. Dit betower ons … Dit herinner ons … Dit nooi ons … Dit stoot ons af.
Die regte parfuum herinner ons uit die bloute aan ons eerste hoërskoolliefde. Aromatiese kosgeure maak ons honger. Die reuk van reën of die geure van blomme vul ons met vreugde. Gebrande kos se reuke veroorsaak dat ons al wat ’n venster is in die kombuis oopmaak om daarvan ontslae te raak. Uie se reuk laat ons oë traan. Asblikke laat ons na ons asem snak.
Dan is daar boonop al die geure wat aan mense vaskleef, soos ouma se kaneelgeure. Die reuk van ghries wat werktuigkundiges soms vergesel. Daardie “deep heat-” reuk wat sinoniem is met rugbyspelers en ander sportsterre. Dettol en mediese personeel …
Om nie te kan ruik nie, moet ’n verskriklike las wees. Vra maar vir diegene wie se reuksintuie permanent beskadig is. Vir mense wat een of ander tydelike lugweginfeksie onder die knie probeer kry. Hulle kan dan nie ruik of behoorlik proe wat hulle eet nie. Kos raak gou-gou smaakloos wanneer dit onruikbaar raak. Dalk gebeur dieselfde met die lewe! Wanneer ons die lewe se klanke en geure nie meer kan ruik nie, wil ons dit ook nie regtig beleef nie.
Reuke en smake loop hand aan hand, ook wanneer ons geloof ter sprake is. Vat maar Israel se godsdiens wat deurtrek was van allerlei geure. Die reuk van brandende vleis op die brandofferaltaar in Jerusalem het besoekers dadelik opgeval; so ook die wierook wat elke oggend en aand op ’n spesiale wierookaltaar reg langs die Allerheiligste gebrand is. Hul geloof was ruikbaar en proebaar. Toe kom die tempel tot ’n val en toe raak mense se geloofsneuse verstop. Van toe af het baie van ons vergeet om ons geloof te ruik … en om sommer self ook die regte geloofsgeure af te gee.
Genadiglik het Pierre du Plessis weer die fyn geloofskuns van ruik ontdek. Hy leer ons in hierdie aangrypende boek hoe om ons geloofsreuksintuig reg in te oefen. Jesus se geure van genade, liefde en omgee word op soveel maniere op die volgende bladsye vertel dat jy Hom behoorlik kan inasem. Parfuum, mirre, hout en klip, ’n kruis, stof, sweet, skape – jy noem dit en hierdie geure kleef aan Jesus vas. Pierre leer ons ook tussen die lyne om self die regte geure af te gee. In dieselfde asem leer hy hoe om vriende en vreemdelinge se reuke uit te ken en hulle raak te leef – al daardie mense wat vir Jesus so ontsettend kosbaar is.
Jy het nou een van daardie skaars boeke in jou hand wat regtig ’n vars, kreatiewe perspektief op Jesus en op die lewe self bied. Dit huisves ’n skatkamer vol nuwe geloofsgeure en vars persepsies. Dit gaan jou leer hoe om ’n nuwe geloofsneus te hê en hoe om agter die regte reuke van geloof aan te leef!
Stephan Joubert
INLEIDING
Ouma se beskuit en Orcas Eiland
Kan jy onthou hoe jou ouma se beskuit ruik of hoe dit geruik het as jou pa die gras gesny het? Dit het altyd vir my soos waatlemoen geruik. Ek is versot op reuke, dit fassineer my totaal en al. Ek is mal daaroor as ek by die huis kom na ’n naweek in die bos, my tas oopmaak en die reuk van die bosveldvuur sit nog so in die klere.
Pretoria ruik soos blomme en kruie, die Kaap soos fynbos, daar is iemand in ’n nartjie, in kaneel en iemand in anys, soos Stephan Joubert vir Opperman aanhaal. Ons wêreld is vol reuke en reuke lok ’n herinnering uit soos niks anders nie. Nog voor jy kan keer, is jy terug in die laerskool met die reuk van potloodskerpmaaksels en bordkryt, of in jou ma se huis, in jou pa se arms. Dit het blykbaar iets te doen met jou brein se limbiese stelsel wat direk gekoppel is aan jou reuksintuig, met ander woorde, daar is geen filter nie. Nog voor jou kop kan sê: “Nee wag”, is jy reeds daar.
Dit was Leonard Sweet, die teoloog, kerkhistorikus en skrywer, wat die eerste keer iewers in ’n werksessie tien jaar of so terug die vraag gevra het: “Soos wat ruik Jesus?”. Sedertdien het ek ’n hele paar keer saam met Stephan Joubert na Len se huis op Orcas Eiland in Washington in die VSA gereis. Dit is vir my een van die mees spesiale plekke in die wêreld en om ’n paar dae daar te spandeer voed my siel. Dis heerlik om op Len se dek te sit en oor die Stille Oseaan te kyk, en om sy huis vol oudhede en sy wonderlike stories te geniet. Ons praat Jesus en kerk so tussen die gerookte salm, berge kos, sigare en rooiwyn deur.
Len is my leermeester as dit kom by reuke. Hy brand kerse in sy studeerkamer – Len’s lair – wat soos die Notre Dame ruik. Hy moedig my aan om elke keer in sy huis ’n ander geur uit sy versameling aan te spuit.
Vandag nog brand ons wierook en kerse in 3rdplace op Sondae, grotendeels Len se invloed. ’n Kerk moet darem soos iets ruik, na iets anders as vloerwasmiddel.
Die vraag “Soos wat ruik Jesus?” het Jesus vir my nader gebring, mens gemaak. Jesus is baie keer so ver en “geestelik” dat dit moeilik is om met Hom te assosieer, om Hom te ken. Ek het besef dat Jesus ook soos ek na sweet geruik het of na stof na ’n dag se stap op ’n grondpad. Die reuke in Jesus se lewe maak Hom mens. Sy menswees is tog die wonder van die evangelie, ’n wonder wat ons nie altyd raaksien nie: God wat mens geword het en by ons kom bly het. ’n Vlees-en-bloed mens. Hoe fantasties.
So hier is dit nou, my eerste boek. Baie mense het die stories in die boek beïnvloed en ek het probeer erkenning gee waar ek onthou het. Vergewe maar as ek nagelaat het.
Stephan Joubert, dankie vir jou insae in my lewe, vir al die toere oor die wêreld oor, jou ewige gasvryheid en vrygewigheid. Ek is jou ewig dankbaar. Len, jy wat nie Afrikaans kan lees nie, jy is my held en my inspirasie. Aan al ons vriende wat by ons staan deur die mal ding van kerkplanting en kerkgroei. Julle is my lewe. Tom Smith, wat my altyd uitdaag en moeilike vrae vra. Nicholas wat saam met my by 3rdplace preek. Dinda, jy is ’n legende, ek dink nie ek kan ooit iets doen om jou teleur te stel nie. Tiaan, vir lekker drukkies en mooi musiek. Janet vir saamstap, saambid en saam mal goed doen vir so ’n lang tyd al. Corné vir vriendskap, baie, baie raad en die baie whisky saam. Linda en JP vir oop harte en fyn luister na die Gees. Ons bure, die Buhre, julle is beste bure, dankie vir die invalle en julle oop hande en harte! Angus en Rina, die kunstenaars wie se werk ek in die boek beskryf, dankie vir die etes en die laatnag kuiers – julle inspireer my om mooier te leef en meer te skep. My ma, wat ook ’n skrywer is, en my op die pad gehou en vasgebid het. Dan ’n spesiale “shout out” aan elke Facebookvriend wat oor die laaste jaar kommentaar oor die boek gelewer het: Baie dankie, ek hoop dit werk vir julle. #jesusruiksoos!
Daar is so baie in hierdie boek oor ons kerk 3rdplace en ons vriende wat deel vorm van die gemeenskap. Hierdie boek is die opsomming van ons gemeenskap se teologie wat oor die laaste tien jaar ontwikkel het. Dankie vir elkeen wat oor die jare deel was, bygedra het, stories vertel het en saam koffie gedrink het.