Koors. Deon Meyer
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Koors - Deon Meyer страница 5
Spiere klim uit die Jeep uit. Hy sê iets wat ek nie kan hoor nie. Hy kyk na ons huis, hy kyk reguit na my. Ek sit doodstil, ek weet hy kan my nie deur die kantgordyn sien nie, maar dit voel so.
Langhaar loop al teen die vragmotor se sleepwa af. Hy gaan voel agter aan die deur, probeer dit oopmaak.
“Kan nie kwaad doen om te check nie,” roep Spiere. Hy hou aan staar na die sitkamervenster. Miskien kan hy my sien? Eindelik draai hy weg, na die vasgemaakte vrou toe, en ruk aan haar arms. Hy roep na Langhaar: “Ek kyk in dié huis, kyk jy in dáárdie.” Hy wys na die huise oorkant die pad.
“Okay,” sê die ander een.
Spiere kom na ons voordeur toe. Hy het ’n groot, silwerblink rewolwer op sy heup.
Die vrou in die Jeep ruk skielik hard aan die rolstaaf. Ek kan haar gesig nou sien. Daar is bloed aan haar wang, en aan haar hare, net bokant haar voorkop.
Spiere lag. “Jy sal nie loskom nie.” Hy staan vir haar en kyk tot sy ophou met ruk en net sagte geluide maak, asof sy baie hartseer is. Hy klim op met ons huis se stoeptrappies. Hy ruk aan die veiligheidsdeur. Dit maak ’n harde lawaai wat my laat skrik, maar ek bly baie stil.
Ons pistool lê op ’n plat tafel in die middel van die sitkamer, tussen die stoele voor die TV. Ek vat dit, hou dit in my hand, en gaan sit weer.
Spiere loop na die sitkamervenster toe. Hy druk sy gesig teen die glas, en hou sy hand bak teen die son. Ek gly van die stoel af en lê plat, die rusbank se leuning tussen ons. Hy kan my nie sien nie, hy kan my nie sien nie, dit is te donker hier binne. Ek bly so plat, tot ek hoor hy ruk weer aan die veiligheidsdeur. Ek kom regop. Ek sien hy het die rewolwer, hy mik na die veiligheidsdeur se slot.
Die skoot is baie hard. Ek dink ek maak dié keer ’n geluid.
Die koeël laat die deur se hout splinter. Dit slaan vas teen die sitkamermuur links van my.
Spiere ruk aan die staalhek. Dit gaan nie oop nie.
“Moenie worry nie,” roep hy na Langhaar toe. “Ek skiet net die slotte af.”
Dan skiet hy weer.
Ek vat die pistool vas. Ek skuif terug, sodat my rug teen die sitkamerstoel is. Ek lig die pistool. As hy inkom, sal ek op hom móét skiet. As ek kan.
Hy ruk en pluk die veiligheidshek. Dit skree toe dit oopmaak. Hy vat die voordeur se handvatsel en draai. Die deur is gesluit. Hy lig sy rewolwer na dié slot toe.
Ek probeer my pistool na die deur toe mik. My kop sê nee, ek kan dit nie doen nie.
Ek wil nie ’n mens skiet nie.
Ek laat sak weer die pistool.
Ek maak my oë toe. Hy moet dan maar inkom. Hy moet my ook maar aan die Jeep vasmaak, saam met die vrou. Miskien kyk hy nie verder in die huis nie. Miskien sal my pa my kom haal, as hy nie doodgaan van Die Koors nie.
Ek wag vir die skoot, my oë toe.
Ek voel ’n hand wat oor my mond toemaak. Ek skrik, ek skree, maar die hand is styf oor my mond.
Dit is Pa. Hy vat die pistool uit my hand uit, sit sy mond hier teen my oor, fluister: “Sjuut.”
“Wat?” skree Spiere hier buite die deur, en kyk oorkant die straat. Hy laat sy silwer rewolwer sak.
Langhaar skree iets wat ons nie kan hoor nie.
“Nee, die hele plek is gesluit,” roep Spiere.
Pa lig die pistool asof dit baie swaar is. Hy mik na die voordeur. Ek voel sy hele lyf bewe en brand hier agter my. Ek wonder of Pa ’n man sal kan skiet soos hy die honde geskiet het. Ná Bultfontein het Pa gesê: “Om iemand te skiet …” en toe net sy kop geskud, asof hy dit nie sal kan doen nie.
Die man met die spiere draai weer straatkant toe. “Ja, ja … Nee, ek het nie die … ” sê hy. Hy maak nie die sin klaar nie, hy luister wat Langhaar sê.
“Okay,” sê Spiere en lig sy rewolwer weer op.
Hy skiet ons voordeur se slot. Die geraas, die hout en pleister wat spat.
Pa hou die pistool op die deur, en sy hand oor my mond.
Spiere draai net om en loop weg, af met die trappies, na die Jeep toe. Langhaar kom aan van die ander kant af. Spiere klap die vrou teen haar kop. Hulle klim in die Jeep, skakel die enjin aan en ry weg.
* * *
Ons lê ’n ruk net so, in die sitkamer. Pa se asem is vinnig. “Ek is jammer, Nico, ek het gehoor jy roep my, maar ek het gedink dit is ’n droom.” Hy fluister. Hy het my geleer dat klank altyd verder trek as wat ’n mens dink. Veral nou, ná Die Koors, want daar is nie meer ander geraas nie.
“Jy het baie goed gedoen,” sê hy. “Jy kan trots wees op jouself.”
Later staan ons op. Hy drink baie water uit die kraan uit, ek maak die sop warm op die gasstoof. Baxters Cream of Chicken.
Ons eet. Pa sê: “Ons kan nie lig maak vanaand nie – ons weet nie hoe naby hulle is nie.”
“Ons sal nie môreoggend kan koffie drink nie,” sê ek. Want koffie se reuk is ’n menseverklikker. Dit het Pa my ook geleer.
“Dis reg.” Hy probeer glimlag, maar dit lyk of sy kragte net-net te min is.
Ek eet my sop klaar.
“Ek voel beter,” sê Pa.
Hy jok. Hy kan sien ek glo hom nie.
“Môre gaan ek sommer baie beter wees,” sê hy.
“Okay,” sê ek. “Daai ooms het ’n tannie aan die Jeep vasgemaak.”
“Ek het gesien. Ons gaan môre iets daaraan doen.”
Ek lê die hele nag langs hom. Hy praat baie in sy slaap. Twee keer roep hy my ma se naam uit: Amelia.
6
Die verlede is ’n rivier
Dit is Pa wat gesê het die verlede is soos ’n rivier. (Dit was in die Jaar van die Vark, as ek reg onthou. Ek was sewentien.)
Ons was deel van ’n groter groep mense wat een Sondagaand tot laat gesels het in die Forum en toe ek en hy en Okkie huis toe stap, het ek hom gevra hoekom praat almal nog steeds so baie oor Die Koors, dis tog verby, vyf jaar al.
Toe sê hy: “Die verlede is soos ’n rivier, Nico. Ons kan nie al die water onthou wat verbygevloei het nie. Daarom, as ons terugdink, kyk ons eers na die opdrifsels, daardie stukke detritus wat die storms en die vloede hoog teen die walle agtergelaat het.”
“Ek verstaan nie wat Pa sê nie,” het ek ergerlik geantwoord. My verhouding met my pa was al stukkend, en ek