Die Poort 1: Bewakers. Nelia Engelbrecht
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Poort 1: Bewakers - Nelia Engelbrecht страница 4
My ma bly die hele middag weg en ek is al amper klaar met my huiswerk toe ek die voordeur hoor oopgaan. My ma en pa praat in die gang. Kristoffel se ore draai in hulle rigting.
“Kali?” roep my pa dan.
“Hier, in my kamer!”
My pa loer om die deur. “Jou ma sê my daar is ’n wond aan jou nek.”
Jisterday, sy kan darem oordryf. “Dis nie ’n wond nie. Iets het my net gesteek of gebyt. Ek het van Ma se gesigroom aangesit. Dit voel al klaar beter.”
“Nogtans. Laat ek net kyk.” Hy lig my hare op en raak saggies aan die bytplek.
My ma kom ook by die kamer in. Sy lyk erg gestress.
“Ek sal vir jou ’n pilletjie gee. Dit sal help,” sê my pa.
“Niks kan hiervoor help nie. Niks nie,” sê my ma terwyl haar lippe styf op mekaar bly.
My hart klop vinniger. “Hoekom sal niks kan help nie? Hoekom kyk julle so vir mekaar?”
Dit lyk of my ma wil antwoord, maar dan draai sy net om en stap uit.
“Wat is dit met Ma?”
My pa probeer glimlag, maar hy kry dit nie heeltemal reg nie. “Sy is net ontsteld oor die vrou wat verdwyn het.”
Hy haal ’n houertjie pille uit sy baadjiesak. “Hier, dis antihistamien. Drink een voor jy gaan slaap. Dit sal help vir die branderigheid.”
Terwyl ek my huiswerk klaarmaak, hoor ek hoe my ma potte en panne in die kombuis rondskuif. Iets ruik lekker; soos tjops wat braai. Kristoffel draf met ’n hoopvolle uitdrukking agter my aan kombuis toe.
“Jou pa is hospitaal toe vir sy rondtes,” sê my ma terwyl ek haar help slaai maak. “Hy sê ons moet maar eet, ons moenie vir hom wag nie.”
Ons sit sommer by die kombuistafel en eet. “Het Ma darem vanoggend geskilder?” My ma verf sulke lelike prente waarvoor mense baie geld betaal in die kunsgalerye in die stad.
“Nee. Daar is nog te veel goed wat my aandag aftrek. Eers die trekkery, toe Oupa en daarna die vrou wat verdwyn het en nou die dinge wat …”
Die res sê sy terwyl sy haar lippe opmekaar druk.
“ … met jou gebeur.”
“Ma, dit was net ’n bysteek of iets. Teen môre is alles weer normaal.”
My ma staan op en begin afdek. “Natuurlik.” Sy draai wasbak toe. “My liewe kind, niks sal ooit weer normaal wees nie.”
Die laaste stukkie sê sy terwyl sy met haar rug na my toe staan en water in die wasbak tap. Shame, sy praat seker van haar kastige muse. Maybe het antie Muse nie saamgetrek Bospoort toe nie.
My ma het ’n ding oor haar muse. Haar inspirasie-godin, noem sy dit. My pa sê die lot muses in die Griekse mitologie was net ’n katterige klomp vroumense wat hulle pa, Zeus, ’n harde tyd gegee het.
Ek gaan staan langs my ma en haal die afdroogvadoek van die hakie af. “Ma moenie worry nie. Ma sal Ma se muse een van die dae terugkry.”
“Mens sê bekommer, Kali, nie worry nie. Praat ordentlike Afrikaans.”
“Já, Ma.” Ek wens sy wil bietjie bykom. Net oumense en taal-snobs praat suiwer Afrikaans.
Vir die res van die skottelgoedwassery bly ek liewer stil. Toe ons klaar is, surprise my ma my totally toe sy my teen haar vasdruk. “Wat ook al gebeur, jy moet onthou ek en jou pa is lief vir jou en sal jou altyd ondersteun.”
Nou kyk, my ma is nie die drukkerige soort nie en al weet ek sy is lief vir my, sê sy dit ook nie heeldag nie. “Nou freak Ma my heeltemal uit,” sê ek toe sy my los.
Sy glimlag skeef. “Ek gaan bad. Jy moet lekker slaap.”
Ek kyk haar agterna. Wow, dis weird. Sy’t nie eens gekla oor die Engelse woord wat al weer uitgeglip het nie. En daar was trane in haar oë voor sy omgedraai het. Ek dink nie ek het haar al ooit gesien huil nie. Behalwe toe haar pa en ma so ’n paar jaar terug in ’n motorongeluk dood is.
Iets is nie lekker nie. En dis scary.
2
Leonardo Contarini moes liewer in Italië gebly het. Hy’t alles kom bederf. Ek en Zak en die twee girls het lekker gejel. Tot hy teruggekom het. Nou voel ek soos gister se oorskietkos wat iemand iewers in die verste hoekie van die yskas vergeet het.
Boonop interfere hy met my en Zak se verhouding. Vat nou maar vandag se atletiekbyeenkoms. Net toe ek vir Zak agter die paviljoen behoorlik wil gelukwens met sy eerste plek in die honderd meter, kom hy om die hoek en bederf die oomblik.
“A, hier’s die twee love birds.”
Dit sê hy toe my lippe twee sentimeter van Zak se mond af is. “Jy’s lastig. Gaan weg,” grom ek.
“Mag mens dan nie vir jou buddy geluk sê met sy oorwinning nie?” vra Leonardo terwyl hy Zak se hand skud.
“Thanks, dude, maar jou timing suck,” sê Zak en sit sy arm om my middel.
“Julle sal nie glo wat ek gehoor het nie,” sê Nomsa skuins agter ons.
Oh my word, nou kan ek rêrig maar vergeet van enige alleentyd met Zak.
“Laat ek raai,” sê Zak, “dis seker weer Nokwazi FM wat uitsaai.”
“Ja, en sy sê haar cousin sê daar het gister nog ’n vrou verdwyn. Ek kan nou nie onthou wat haar naam is nie, maar sy’t by die bank langs die poskantoor gewerk. Of eintlik, sy het nie nou gewerk nie, sy was met maternity leave. Sy sou volgende week teruggegaan het werk toe.”
“Wow, dis weird,” sê Zak. “Daar gebeur amper nooit iets op Bospoort nie en nou verdwyn daar binne twee weke twee mense.”
“Dit het begin,” sê Leonardo sonder om sy mond oop te maak.
“Wat het begin?” vra ek hom.
Die klein beweging van sy kop en oë wys hy skrik. “Wat bedoel jy?”
“Jy het gesê dit het begin – wat het begin?”
“Jou kop raas. Ek het niks gesê nie.”
Zak en Nomsa staar na my asof ek ’n alien is.
“Wát?”
“Ek dink dit is daai gogga wat jou gebyt het,” sê Nomsa fronsend. “Nou’t jy koors of iets.”
“Wie’s lus vir pannekoek?” Tara