Elf dae in Parys. Elizabeth Wasserman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman страница 6
Wat om te maak met jou eerste middag in Parys
Ná middagete raak die groep rusteloos.
“Ek wil gaan kyk hoe lyk die Champs-Elysées!”
“Die Eiffeltoring!”
“Wat van koffie by ’n straatkafeetjie?”
“Boring!” skree Clarissa. “Is hier nie ’n groot winkelsentrum iewers naby nie?”
Meneer Thompson kug. “Ek weet julle is almal gretig om iets van die stad te sien. Ons amptelike program begin eers môre, so vanmiddag gaan ons die groep verdeel sodat elkeen kan kies wat jou eerste ervaring in Parys moet wees.”
Juffrou Lategan hou haar pers sambreel omhoog. “Ek sal ’n groep na die Galeries Lafayette vergesel. Dis ’n ongelooflike winkelsentrum, een van die grootstes in die stad, in ’n majestueuse ou gebou wat ontwerp is deur baron Haussmann, die argitek wat Parys so ingrypend laat herbou het in die laat-1800’s. Dit het ’n pragtige glaskoepel en ’n pyporrel.”
Clarissa se gesig val. “Dit klink erg museumerig,” kla sy.
“Wel, as jy nie kans sien om ’n museum te besoek waar al die groot Europese ontwerpers hul reekse verkoop en boonop gereeld uitverkopings hou nie … sal jy seker nooit weet wat jy mis nie!”
“Uitverkopings!” gil Clarissa en Mandy gelyk. “Ons gaan saam!”
“Ek sal ’n groep neem vir ’n wandeling langs die Seine en die belangrikste geboue en bakens uitwys,” sê juffrou Louw.
“Die meeste van die groot toeristeplekke is op julle program,” sê juffrou Danson. “Môre besoek ons die Eiffeltoring en die dag daarna die Louvre – natuurlik nadat die oggend se Franse klasse afgehandel is. Maar hier is heelparty interessante kerke waarby ons nooit gaan uitkom as ons nie sommer vanmiddag al gaan kyk nie, en dis boonop ’n heerlike buurt om in rond te dwaal. Ek beplan ’n draai deur die Rue St Germain, ’n besoek aan St Sulpice en die Luxembourg-tuine. Wie stap saam?”
Meneer Thompson is laaste aan die beurt. “Ek wil graag die Musée d’Orsay besoek. Dit huisves van die heel beste kunsversamelings in Europa en is my persoonlike gunsteling. En dis geleë in ’n lieflike ou gebou reg langs die Seine.”
’n Opgewonde gebabbel klink op soos almal hulle bestemmings kies. Emma kreun innerlik. Sy is moeg vir die groep, sy wens sy kon eerder haar eie rigting kies. Maar daarvoor is daar nie ’n kat se kans nie.
“Kies die Orsay,” fluister Luc naby haar oor toe hy buk om haar leë bord weg te neem. “Daar’s ’n wonderlike uitstalling van bekende Impressionistiese werke.”
Sy glimlag flou. Sy stel belang in kuns, ja, maar wat van meneer Thompson? Wie het nou lus vir sý geselskap?
“Hein, kom jy saam met ons?” vra Clarissa met ’n stroopsoet stemmetjie.
Emma koes net betyds weg agter Kevin se rug toe Hein se oë vlugtig deur die bondel soek.
“En wat sal ek in ’n inkopiesentrum soek?” vra hy stug. “Ek het genoeg sykouse saamgebring.”
Mandy giggel. “Moenie maak of jy nie ook belangstel in die Paryse modes nie. Mooi klere is meisiemagnete, jy weet. En dalk kry ons selfs ’n roomys iewers.”
Dan sien Henk vir Emma raak. “Kom jy saam?” roep hy oor die koppe heen.
“Vir seker!” antwoord sy en glimlag vals.
“Gaan kry waterdigte baadjies, almal,” beveel juffrou Lategan, “dit lyk na reën. Ons ontmoet oor vyftien minute in die voorportaal.”
Toe die groep by die voordeur uitstap, maak Emma ’n vinnige regsomkeer. Sy glip weg saam met die paar kinders wat agter meneer Thompson aan tou.
Musée d’Orsay sal dit wees.
Die Seine vloei reg deur die middel van Parys
Dis ’n entjie se stap na die Musée d’Orsay. Dis net Emma, Tombi en Kevin in meneer Thompson se groep. Kevin het ’n kaart en hy druk dit kort-kort onder hulle neuse om te wys waar hulle is.
“Parys is in twintig arrondissements, oftewel administratiewe buurte, opgedeel,” verduidelik meneer Thompson en druk met sy vinger op die kaart. “Ons bly in die vyfde arrondissement, wat ’n goeie keuse is omdat dit so sentraal is. Dit word ook die Latynse Kwartier genoem. Met die Sorbonne hier is dit ’n lewendige distrik vol studente.”
“Wat is dit daai?” Emma wys na ’n ivoorkleurige koepel wat bo die bome en geboue uittroon.
“Dis die Panthéon,” sê meneer Thompson. “Ons moet tog ’n tydjie afknyp om dit te besoek.”
“Is die Panthéon nie in Griekeland nie?”
“Die ou gebou in Athene waaraan jy seker dink, word die Parthenon genoem. Daar is ook ’n Pantheon in Rome. Die naam kom uit Grieks: ‘pan’ beteken ‘alles’ of ‘almal’, en ‘theon’ verwys breedweg na gode of sleutelfigure van ’n sekere groep. Dit word dus nie aan ’n spesifieke geloof gekoppel nie.”
Emma luister net met ’n halwe oor na sy lesing, daar’s te veel interessante dinge om haar. Die strate is vol lewe. Die hele buurt wemel van toeriste, studente en boekwinkels.
“Die Panthéon hier in Parys is meer modern,” gaan meneer Thompson voort, “dis eers in die agtiende eeu gebou. Daar hang ’n groot pendulum vanuit die koepel wat die aarde se rotasie aantoon. Victor Hugo, madame Curie, Voltaire en ook Jean-Jacques Rousseau is in die kelder begrawe.”
Emma frons. Grafte? Nee dankie!
Sy wil-wil vashaak by ’n sypaadjieuitstalling van spotgoedkoop tweedehandse boeke, maar meneer Thompson protesteer: “Nie nou nie, Emma!”
Dan, skielik, is die Seine voor hulle. Die rivier vloei vol en breed. Verkeer en voetgangers stroom oor die breë brûe wat die oewers verbind. Bote met troppe toeriste vaar op en af, en ’n vragskuit vol skeepshouers blaas sy mishoring voor dit onder ’n brug deur verdwyn.
“Ek het nooit besef alles in Parys is so groot nie,” sê Tombi. “Kyk, daar’s die Notre Dame!”
Die beroemde kerk met sy twee vierkantige torings verrys oorkant die rivier. Hulle stop en kry ’n staanplek langs die besige sypaadjie om eers mooi daarna te kyk.
“Wat ’n manjifieke voorbeeld van Frans-Gotiese argitektuur,” sê meneer Thompson.
Emma sug innerlik. “Ek weet, ek het die fliek gesien.”
“Jy bedoel die Walt Disney-suikerklontjie waarin Esmeralda op die ou end haar prins kry?” sê Tombi verontwaardig. “Dis glad nie soos Victor Hugo die verhaal