Elf dae in Parys. Elizabeth Wasserman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Elf dae in Parys - Elizabeth Wasserman страница 9
Half vies vir die amper ongeskikte manier waarop hy haar aanpor, draai sy om en stap in die rigting van die roltrap. Haar gesig brand van skaamte. Hy reken seker sy’s ’n nuuskierige agie om sy skets so te bekyk. Sjoe, maar sy oë … dis omtrent gitswart.
Op die vyfde vlak is ’n restaurant waar toeriste by tafeltjies sit, met kelners wat heen en weer drafstap met vol skinkborde. Dan sien sy die reusehorlosie teen die agterste muur. Die gesig is van glas, sodat die stad en die rivier ver ondertoe duidelik sigbaar is. Sy staan vasgenael. Dis so groot, so mooi!
Eindelik beweeg sy aan, verby die tafels tot in ’n gang. Dit lei na die eerste saal van die Impressioniste. Sy sien die skildery teen die oorkantste muur dadelik raak: Van Gogh se uitbeelding van sterre wat weerkaats in donker water. Dis asof die toneel haar nader trek. Die meesterlike skilder het die misterie van die sterrenag in die verf vasgetower. Ouma Hebs was reg: dis iets wat sy móés sien. Sy staan lank na die skildery en staar.
Dan dwaal sy verder, van een kunswerk na die ander. Sy kom agter haar hartklop is vinnig, haar handpalms sweet. Sy voel effens naar.
“Oppas vir te veel mooi op een slag,” het ouma Hebs gewaarsku. “Parys kan jou oorweldig. Dit word Stendhal se sindroom genoem – jou sintuie raak oorhoeks en jy voel skoon beneweld.”
Emma was seker dis net weer een van haar ouma se wilde stories, maar nou onthou sy dit helder. Is dít hoekom sy so vreemd en duiselig voel? Of is sy net moeg ná die lang vlug? Middagete voel nou baie lank gelede.
Sy soek ’n plek om te sit. Verby die volgende saal vind sy die horlosie se tweeling in ’n feitlik leë vertrek in die verste hoek van die boonste vlak. Hier is min mense, net ’n groepie vriende wat nog ’n laaste foto van hulleself voor die horlosie neem.
Sy stap tot teen die glas en kyk na die uitsig oor die rivier. Sy herken die buitelyn van die katedraal van Montmartre op ’n heuwel aan die rand van die stad. Parys dreun soos ’n reus wat agter die skans van glas en klip sluimer en snork.
Duiseligheid oorweldig haar weer. Sy gaan sit op die naaste bankie en laat sak haar kop op haar rugsak. Sy maak haar oë toe en konsentreer om haar gedagtes leeg te maak.
Iets stamp aan haar rugsak.
Sy skrik toe sy haar oë oopmaak. ’n Nat, bruin neus is besig om aan haar sak te vroetel. Twee blink ogies kyk skelm na haar. ’n Hond hier in die museum? Maar nee, die poot wat aan haar rugsak vat-vat, is te groot, te rond. En wat is daardie reuk? Nat grond en dennenaalde, soos die mosbegroeide vloer van ’n skaduryke bos.
“Bruno!” raas ’n stem agter haar. “Wat het jy in jou rugsak, meisiekind?”
Sy kyk om. Hy kom nader met hoewe wat klik op die marmervloer. Sy knipper haar oë ongelowig. Dit kan tog nie wees nie! Sy het die sater netnou nog onder in die museum gesien, sy ondeunde gesig vasgevang in bleekwit marmer.
“Moenie flou val nie, asseblief tog!” sê die sater. “Vertel eerder: wie’s jy? Wat maak jy hier?”
“Ek is Emma …” Sy kyk op na die horlosie. “Dis kwart voor ses, ek moet gaan.”
Dan besef sy dat die drie en die nege omgeruil is omdat sy deur die agterkant van die glas na die wysers kyk. Kwart oor ses, en nêrens is ’n mens in sig nie! Hoe lank het sy so met haar kop op haar rugsak gelê?
’n Beweging aan die oorkant van die saal trek haar aandag. Daar is geen twyfel nie: dis die ander beertjie wat na haar aangewaggel kom! Twee bruin beertjies helder oordag in die middel van Parys.
“Bruno en Oers,” bevestig die sater. “En my naam is Phillibert. Wel te kenne.”
Hy steek sowaar ’n hand na haar uit om te groet. Sy kan nie haar oë van hom afhou nie.
“Haai, het jy nog nooit ’n sater gesien nie?” lag hy. “Hou op staar!”
Sy neem sy hand. Dit voel warm en droog, met ’n eelterigheid in die palm soos een wat gereeld harde handewerk doen. Sy naels is vuil en gebreek.
“ ’n Besonder oulike vermomming, Phillibert,” mompel sy en kyk na die kort stertjie wat op sy harige sitvlak kwispel, die oorgang van die gladde vel oor sy kaal bolyf na wollerige pels van sy naeltjie af ondertoe. “Maar jy lyk dan eerder soos Pan?”
Die sater ril. “Moenie sy naam hardop sê nie!” fluister hy. “My naam is Phillibert, ek belowe jou. Die een wat jy genoem het, is my oom. Maar ons het nie juis hegte familiebande nie. My oom is …”
Hy rol sy oë en skud sy kop. Tussen sy rooibruin krulhare glim daar twee vlymskerp horinkies, sien Emma. Sy gesig is vol sproete en sy oë is groen soos mos.
“Moenie jou steur aan wat mense van ons familie sê nie,” gaan hy voort. “Daar’s meer as een van ons – ek is die jongste van my broers. Ek is heel ordentlik, soort van, minstens in vergelyking met party van hulle. My berugte oom ingesluit.”
“Waar is P- … jou oom dan?” stamel sy en loer skaapagtig rond.
“Nie hier nie!” lag Phillibert. “Maar hy’t ’n manier om op te duik wanneer jy hom die minste verwag.”
Sy knip haar oë asof sy wil wakker word uit ’n droom. “Jy’s ’n regte sater?”
“Ja, man. Ons is half menserig, half bokkerig. Wat is nou so snaaks daaraan? Mens sou sweer jy’s niks gewoond nie.”
“Ek beter gaan,” sê sy skielik benoud. Hierdie outjie is sweerlik kens, en dalk is hy gevaarlik. Sy gryp haar rugsak. Die beertjies kyk haar verwytend aan.
“Gee eers vir hulle die heuning,” sê Phillibert.
Sy stop in haar spore. Hoe weet hy sy’t ’n pot heuning in haar sak?
“Hulle ruik dit,” verduidelik die sater sonder dat sy vra. “Jy kan nie heuning vir ’n beer wegsteek nie.”
Sy rits haar rugsak oop en haal die heuning uit. Die beertjies staan opgewonde nader. Sy skroef die deksel af en hou die pot na hulle uit. Bruno druk dadelik sy hele poot daarin. Dan sit hy terug op sy hurke en begin die taai gemors skoon lek. Oers staan ook nader vir sy beurt. Hulle is so oulik dat sy giggel voor sy haarself kan keer. Sy plak die pot op die vloer neer. Sy sal maar ’n storie vir Tombi moet opmaak.
“Ek moet gaan!” Sy gryp haar rugsak en draf na die uitgang, kyk nog een keer oor haar skouer. Die sater staan vir haar en lag, sy hande in sy sye, sy oë amper toegeknyp van plesier.
Die fyn lyn tussen droom en werklikheid
Emma vlug verby die sale vol skilderye, verby die restaurant waar die stoele nou op die tafels omgekeer is. Nie ’n mens in sig nie!
Die roltrap is nog aangeskakel, en sy hardloop die treetjies twee-twee af. Haar selfoon biep en sy woel dit uit haar rugsak. Dis meneer Thompson. Waar is jy?
Ek kom! pons sy vinnig met haar duime in.
Daar’s nog