Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten страница 15

Автор:
Серия:
Издательство:
Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten

Скачать книгу

op Babs se gesig. “Jy bedoel ’n lover? Clara? Kry nog melktert, jy kan dit bekostig. Ons praat omtrent elke dag met mekaar, daar’s g’n geheime tussen ons nie. Van ’n vyand sou ek geweet het, ook van ’n lover. Sy’s nie so nie, haar man en seuns is haar lewe. Sorry … wás haar lewe.”

      Sy begin weer snuif en soek na die Kleenex-boks.

      Ella gee haar kans. Ja, die sitkamer is te vol Brusselse kant en Duitse sis, te veel sentimentele ornamente, te veel plegtige gesigte in toga en baret en met graadrol in die hand. Van drie keramiekeende in vlug kyk sy terug na Babs. “So, as iets haar gepla het, sou jy daarvan geweet het?”

      “Ja, maar natuurlik is daar geheime wat jy nie eens vir jou beste vriendin vertel nie. Slaapkamergoed, jy weet. Maar die res, sy’t met my gepraat, sy’t my vertrou.”

      “Die slaapkamergoed. Watse vibe het jy gekry … as haar boesemvriendin en vertroueling – was die huwelik gelukkig?”

      Babs snuit, veraf blik by die venster uit. “Dit het so gelyk. Maar soos ek sê, wat weet jy rêrig wat agter iemand se toe deur aangaan?”

      “Tom lyk heelwat ouer, hoe goed ken jy hom?”

      “Omtrent tien jaar ouer, ja. Goeie ouderdomsverskil, dink jy nie, tussen ’n man en sy vrou?”

      Jip. Maar ook niks fout met sê agtien jaar nie; sekere vroue verkies ryper mans, mans wat gevestig is in hulle gewoontes en in hulle eie velle, wat nie meer onseker is oor hulle plek in die wêreld nie. Of wag, is sulke ouer mans regtig ontslae van álle jeugdige storms en drange?

      “Maar op die oog af het sy en Tom gelukkig gelyk, nè?”

      “Ek wil nie skinder nie,” sê Babs.

      Ella herken die tekens, die lyftaal wat so baie verklap. “Ons is nie hier besig met ’n geskinder en gekekkel om tee en koekies nie, Babs. Ek ondersoek ’n moord. En ek vra jou hulp om die geweldenaar op te spoor wat jou beste vriendin doodgemaak het.”

      “Aan die begin … Sy’t soms gekla, toe die kinders nog klein was, oor Tom wat in die wintermaande omtrent nooit by die huis was nie. Maar later het sy dit aanvaar. Sy gun hom sy groot liefde, het sy gesê. Buitendien, dis ook sy brood en botter, hy verseg om uit háár hand te leef.”

      “Jy bedoel jag?”

      “Vat buitelanders op jagsafari’s. Nie net daar op die Dreyers se wildplaas nie, ook Namibië toe, Zimbabwe, Tanzanië. ’n Paar jaar terug het hy ook met ’n taksidermis-besigheid begin – jy weet, jagters betaal gróót geld vir die opstop en uitvoer van hulle trofeë.”

      “Is jou man ook ’n jagter?”

      “Genade, nee! Jan skiet homself in die toon. Maar hulle is dik vrinne, van universiteit af. Was eintlik ’n driemanskap, die drie musketiers. Maar arme Arrie is ook intussen al op saliger jagvelde.”

      2

      In die huis in Greenside gaan sit Ella op dieselfde sofa, eerder ’n soort biegstoel as ’n Freudiaanse lêplek. Dieselfde seegroen oortreksel, die ferweel net nog meer verslyt deur al die angstige sitvlakke, die kelim nog meer uitgetrap deur al die rustelose voete. Niks het verander nie. Dieselfde kothuismeubels, daar teen die muur dieselfde twee kuslandskappe: die duin met sy vet groen seeplakkies en mauve laventels, die laagwaterstrand met sy tobie wat pik na ploegslakkies. Dekor van eenselwige, kalmerende huislikheid vir gekneusde siele.

      Sy sit met haar rug na die venster. ’n Pasiënt se aandag mag nie na buite afgelei word nie, Mimi Landsberg vereis oogkontak en onverdeelde aandag. ’n Sagte soet van jasmyn in die lug.

      Die vertrek is asof vasgevang in die tydkapsule van daardie dag ’n paar jaar gelede toe sy die eerste keer hier beland het, toe teen haar sin, toe met ’n verstikkende vrees vir ’n onbekende, vormlose ding. Nee, erger as vrees, die swart hond wat haar hele armsalige bestaan bedreig het. Angst. Die woord wat meermale opgeduik het in daardie eerste siklus van terapie nadat sy op nerf na ontkom het aan die Nagsluiper se vuil skalpel.

      Twee jaar later was sy op die einste sofa terug vir nóg ’n skof ná ’n nat handdoek om haar nek opgewen is.

      Dus, sy het groot simpatie met Clara Heyns, sy weet presies hoe dit voel wanneer iemand jou van jou asem beroof, hoe die paniek groei saam met die drukking agter jou oë, die histeriese gespartel, geroggel, gehuil, hoe jy rasend van angs daardie knellende wurging van jou keel probeer wegbeur en wegskeur.

      Mimi Landsberg het haar gemoedstoestand destyds ’n slag korrek gediagnoseer as die donker nag van die siel waar dit altyd drie-uur in die oggend is. En het haar demone probeer besweer en haar gees probeer reinig van die neerslag van daardie gevegte om lewe en dood, nie net ter wille van die gesonde herstel van haar liggaam nie, maar veral vir die gesonde herstel van haar gees.

      Die liggaam het soort van reggekom; dis die siel wat partykeer nog bekwaald is.

      Mimi kom plaas die skinkbord op die tafel tussen hulle, gaan sit op haar stoel, kruis haar bene, stryk met ’n hand oor haar kuise skoot en wuif na die koffie.

      Sy’t onthou! Of miskien staan dit so in ’n pasiëntnota? LW: Adjudantoffisier Ella Neser drink haar koffie swart en bitter. Is dit aangeleerde smaak, of ’n metafoor?

      Ella vermoed die groen lêer langs die skinkbord bevat min of meer ál haar geheime; Mimi Landsberg het die vermoë om tot die diepste misteries van jou hart en siel deur te dring.

      “Só? Hier’s ons weer. En jy lyk goed, Ella. Maar jou stem, dis dan steeds hees, of het jy verkoue?”

      “Nog ’n letsel, ook permanent, is ek bevrees. Dié een darem onsigbaar, al is dit nie onhoorbaar nie.”

      Die nat handdoek is so styf om haar nek gedraai dat dit fyn breuke in die kraakbeen van die larinks veroorsaak het. Wat toe skeef aangegroei het en nou die vloei van lug oor haar stembande versteur. Die spesialis se advies was: Ek kan opereer en dit probeer herstel, maar wil jy regtig so iets waag, veral as jy nie ’n loopbaan as operasanger oorweeg nie?

      “Ek het jou weer in die koerant gesien, moet al langer as ’n jaar terug wees,” sê Mimi. “Jy kan net nie uit die nuus wegbly nie, nè? Skietery, as ek reg onthou, maar dié slag darem ongeskonde, anders was jy al vroeër hier. Die skurke was nie so gelukkig nie.”

      “Net vleiswondjies, ek het darem nie weer iemand doodgemaak nie. Soos ek gesê het, dié besoek is privaat, niks met my werk te doen nie, ek betaal self. Dis oor, dis oor …”

      “Ja? Sê maar reguit.”

      Haar sitvlak skuur effe oor die seegroen ferweel. “Dis oor ’n man.”

      Oukei, daar’s dit uit, daar hang dit saam met die jasmyn se geur in die lug.

      Maar Mimi lyk besorg, leun met haar bolyf effens vorentoe. “Het hy iets aan jou gedoen?”

      Ja, hy hét! Hy karring aan my gemoed, aan my brein, my hart, my siel, aan my hele dêm wese. Maar hoe sê sy dít, watse woorde gebruik sy om dít uit te druk? Laas nag in haar donker, rustelose bed het sy alles so mooi lê en formuleer, tussen die rekonstruksies van Clara Heyns se dood. Nou, hier op die onrustige sofa, klink niks reg nie, klink alles nietig en bietjie laf.

      “Jy kan maar praat, Ella, jy weet

Скачать книгу