Christine le Roux Keur 2. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux страница 13
“My swaer. Marlise se man.”
“Hoekom is dit belangrik of hy van my hou of nie?”
Sy lag. “My pa is baie erg oor Eric. Hy reken as Eric iemand goedkeur, moet hy meriete hê.”
Roland weet nie hoe hy dit moet opneem nie, maar Peter het intussen wakker geword en by die tou voor die toilette ingeval. “Dan moet jy hierdie Eric een of ander tyd oornooi,” sê hy.
“Hy boer,” vertel sy. “Hy rits nie rond nie, maar Marlise het gesê hulle kom een van die dae weer stad toe as sy die ginekoloog moet kom sien. Sal ek hulle nooi om by ons oor te bly?”
“Ja.” Hy kyk haar ondersoekend aan. Haar oë lyk rooierig, maar andersins lyk sy so vars en fris soos altyd. “Vertel my van jou stiefma. Is ek reg as ek sê julle kom nie goed klaar nie?”
Sy haal haar skouers op. “Ag, dis nie so erg nie. Vandat hulle in die Kaap is en ek op my eie, gaan dit heeltemal goed. Dit was net aan die begin … en dit was seker te verstane.”
“Wat was te verstane?”
“Ek het mos gesê: Na my ma se dood het ek die huis oorgeneem en vanselfsprekend het ek … wel, die vrou van die huis geword. Toe my pa met haar trou, het sy nie daarvan gehou nie. Sy wou baas wees.”
“Ek sien.”
“Dit was gelukkig nie vir lank nie,” voeg sy by. “’n Jaar of twee. Ek het maar padgegee. Dit was die beste.”
“Ja,” stem Roland saam. Hy vertel haar nie hoe kwaai haar pa met hom was nie.
“Jy moet mooi na haar kyk, boet,” het hy gesê. “Sy was nog altyd die een wat vir almal moes regstaan; op wie almal geleun het. Dis tyd dat sy bietjie bederf word.”
Peter kom terug en lyk wakkerder toe hy by hulle verbyskuur en gaan sit. “Liewe aarde,” sê hy. “Daar’s ’n vrou in die tou wat lyk asof sy enige oomblik gaan kraam. Ek weet nie wat maak sy op die vliegtuig nie. Ek is nie lus om daardie advertensie in lewende lywe mee te maak nie. Praat ook geen herkenbare taal nie.”
“Siestog,” sê Victoria belangstellend. “Miskien is sy Tsjeggies en is sy op pad huis toe.”
“Moontlik,” gee Peter toe. “Maar ek is nog steeds nie lus om ’n geboorte mee te maak nie.”
“Ag, dis nie so erg nie,” verseker sy hom.
Albei mans kyk haar geamuseer aan. “Jy het dit natuurlik al dikwels gedoen,” terg Roland haar.
“Nee, net een keer.”
Roland kyk haar vraend aan. “Een keer? Waar was dit?”
“Tydens ’n ete.”
“Ek dog jy maak net die kos!”
“Ja,” sê sy geduldig. “Maar ek het jou mos vertel van die man wat verstik het. As daar een ding is wat ek geleer het, is dit dat mense na ’n paar glase wyn heeltemal hulpeloos raak. Dit was verlede somer en verskriklik warm en ek het net een kelner gehad, sodat ek moes help bedien. Ek het gesien die vrou lyk vir my baie ongemaklik en toe ek die nagereg indra, krul sy skielik op en begin kreun.”
“O, vader,” sê Roland. “Ek sou daar en dan die hasepad gekies het.”
Sy kyk hom vies aan. “Dit was min of meer soos die ander gaste ook gevoel het. Heeltemal paniekbevange. Die vrou se man het gehardloop vir sy motorsleutels en die gasvrou wou die dokter bel, maar ek het sommer dadelik gesien daar gaan nie tyd wees vir enigiets nie. Daardie baba was op pad – en haastig.”
“En toe?” vra Peter.
“Ek het gesê hulle moet liewer ’n ambulans bel en ek kon die vrou darem uit die eetkamer help. Net betyds. Ek het haar nog nie eens op die bed gehad nie, toe is die baba daar.”
“Hoe het jy geweet wat om te doen?” vra Roland beïndruk.
Sy gee hom ’n lang kyk. “Ek het niks gedoen behalwe om almal te kalmeer nie. Babas kom vanself. Gelukkig was die ambulansmense vinnig daar en het hulle oorgeneem.” Haar oë versag. “Lieflike ou babatjie. ’n Dogtertjie. Hulle was baie bly, want hulle het toe al twee seuntjies gehad. Dié dat dit so vinnig gegaan het.”
“Omdat dit ’n dogtertjie was?” vra Roland.
“Nee, omdat dit die derde kind was.” Sy kyk op. “A, hier is ons ontbyt. Ek is vreeslik honger.”
Die twee mans is tjoepstil terwyl hulle eet en eers toe die koffie bedien word, praat Roland weer. “En ek was onder die indruk jy kook net die kos. Ek het glad nie geweet jy moet so dikwels eerstehulp toepas nie.”
“Mens moet net kalm bly,” sê sy redelik. “Dit het ek geleer met my twee sussies. Tussen kneusplekke en skrape en gebreekte enkels deur leer mens nogal baie. O, en daar is nog iets.”
“Wat?” vra Roland onthuts. “’n Hartaanval en jy het die man met mond-tot-mond-asemhaling gered?”
Sy lag. “Nee, my kat. Ek het haar in die woonstel gelos by my vriend wat die woonstel oorgeneem het, maar ek mis haar. Kan ek haar maar huis toe bring as ons weer terug is?”
“Ja, natuurlik,” sê hy. “Jy kon haar van die begin af gebring het. Ek het nog nooit ’n troeteldier gehad nie, maar dis nie omdat ek gewetensbesware daarteen het nie.”
“Gaaf. Omdat ek geweet het ek gaan nou saam oorsee, het ek haar maar daar gelos. Mens wil nie ’n dier te veel ontwrig nie.”
“Ek sou nie weet nie.” Hy kyk op sy horlosie. “Dis seker nou nie meer lank voor ons land nie.”
Haar oë blink. “Ek kan nie wag nie!”
“Ons gaan besig wees,” maan hy. “Sal jy jouself kan besig hou?”
Hy besef later dit was ’n onnodige vraag. Sy vind alles wonderlik en nuut, selfs die koffie ruik vir haar anders. In hulle hotelsuite staan sy vasgenael voor die venster en afkyk op die rivier, of anders op na die kasteel en katedraal wat oor die ou stad toring.
“Is dit die Moldau?” vra sy vir hom.
“Ek dink so.”
“Ek wil langs die rivier gaan stap. Ek wil net daar gaan sit en kyk en nooit ophou kyk nie.”
“Moenie verdwaal nie,” waarsku hy, sy aandag by die papiere voor hom. “Onthou, jy kan nie Tsjeggies praat nie.”
“Het jy al daar gestap?” vra sy en draai om om na hom te kyk. “Is daar plekkies waar ek kan koffie drink en net kyk?”
“Nee, ek het nog nooit daar gestap nie. Ek is altyd te besig.”
Sy gee hom weer een van haar lang kyke. “Wat ’n jammerte,” sê sy.
Hy haal net sy skouers op. “Het Peter gesorg dat jy Tsjeggiese geld het?”
“Ja, dankie.”
“En