Christine le Roux Keur 2. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Keur 2 - Christine le Roux страница 14
“En moenie met vreemde mans praat nie,” sê hy streng. “Ek weet nie hoe laat ons vanaand terug sal wees nie, maar jy kan hier in die hotel eet.”
In die loop van die dag dink hy soms aan haar en hoop sy is veilig. Hy en Peter kom eers elfuur die aand terug by die hotel en toe is hy so moeg dat hy omtrent kan omval. Maar hy maak haar kamerdeur suutjies oop en sien verlig dat sy vas aan die slaap lê, een hand argeloos uitgestrek en haar donker hare uitgesprei oor die kussing.
Die volgende drie dae sien hy haar net soggens as hulle ontbyt eet en soms vir aandete ook. Haar wange gloei altyd van die koue en moontlik ook van opgewondenheid. Sy vertel vir hom en Peter van alles wat sy gesien en gedoen het. Sy beskryf die katedraal, die wonderlike Barokgeboue en die vriendelike mense, en Roland wonder skielik of hy nie ’n tydjie moet afknyp om saam met haar te gaan rondstap nie.
“Luister,” sê hy die oggend van die vierde dag vir haar. “Die mense met wie ons onderhandel, gee vanaand ’n ete. Ek was onder die indruk dat dit net ons mans is, maar dis blykbaar nie. Hulle vrouens kom ook, wat beteken jy is ook genooi. Kan jy sewe-uur reg wees?” Hy kyk haar ondersoekend aan. “As jy nie iets saamgebring het nie, moet jy miskien vir jou ’n rok gaan koop.”
“Ek het ’n rok saamgebring,” sê sy. “Vir die wis en die onwis.” Hy lyk skepties, maar sê niks verder nie.
Toe hy teen die aand terugkom by die hotel, is sy in haar kamer. Hy stort en trek aan en gaan sit saam met Peter in die sitkamer en drink solank ’n drankie. Nie een van hulle is voorbereid op wat hulle sien toe Victoria haar kamerdeur oopmaak nie.
Sy dra ’n ryk, gloeiende wynrooi fluweelrok. Die bostuk is van een of ander rekbare stof gemaak, want dit pas haar soos ’n handskoen. Die hals is laag gesny, die moue lank en noupassend. Die middellyf is effens gesak tot op haar heupe en van daar hang die ryk fluweel in sagte voue tot net bokant haar knieë. Sy dra dun swart kouse en swart hoëhakskoene. Haar hare hang los tot op haar skouers en sy dra lipstiffie en klein pêreloorkrabbertjies. Sy hou haar arms effens weg van haar lyf af en haar gesig is onseker.
“Liewe vader!” sê Roland, en stik in sy whisky.
“Magtag.” Peter trek sy asem hoorbaar in. “Jy lyk fantasties,” sê hy.
Sy hou haar oë op Roland, wat klaar gestik het en nou keel skoonmaak.
“Lyk ek reg?” vra sy weifelend. “Moet ek liewer iets anders aantrek?”
Hy waai met sy hand deur die lug. “Nee, nee, jy lyk … jy lyk absoluut pragtig.”
Sy ontspan en kom nader. “Kan ek ook iets kry om te drink?” Sy gaan sit oorkant hulle, haar lang bene skuins gedraai.
Roland skink vir haar wyn en mors die helfte oor sy hand omdat hy nie kyk wat hy doen nie. Hy kan dit eenvoudig nie glo nie. Dis nie net ’n paar bene wat hy nou vir die eerste keer sien nie; sy het prágtige bene. Sy het die lyf van ’n model, dink hy onsamehangend. Toe sy vorentoe buk om ’n hand vol neute te vat, verstik hy amper weer. Haar vel is melkwit teen die wynrooi fluweel en bokant die halslyn sien hy die rondings van haar borste opkelk. En sy is totaal onbewus van die prentjie wat sy maak. Sy vertel van een of ander katedraal en die blinkswart hare swiep heen en weer oor haar wit skouers.
“Waar kry jy daardie rok?” vra hy, net om iets te sê.
“Ek het dit gemaak,” sê sy eerlik. “Jy het gesê ek sal soms saam met jou moet uitgaan en omdat ek nie eintlik aandklere het nie, het ek gedog ek beter iets kry. Marlise het gesê ek moet asseblief tog nie weer ’n outydse rok maak nie en ek het toe maar deur die modeboeke geblaai en dié patroon gekry.” Sy vat-vat aan die halslyn. “Ek was bang dis miskien ’n bietjie gewaagd, maar ek sal net mooi regop sit.” Sy leun vorentoe om te demonstreer wat sy bedoel en Roland laat byna sy glas val.
“Ja,” sê hy hees. “Sit maar liewer regop.”
“Dis buitendien beter,” sê sy nugter. “As mens met sulke krom skouers sit, kry jy rugpyn.” Roland gaap haar aan. As hy weer Japan toe gaan, moet hy vir haar pêrels koop, dink hy half verdwaas. Daardie lieflike nek moet pêrels kry. Hy is bewus daarvan dat Peter hom geamuseer aankyk, maar hy gee nie om nie. Dis nie sy skuld dat hy eers na ’n maand se getroude lewe vir die eerste keer sien hoe sy vrou eintlik lyk nie.
Sy vat aan haar ore. “Ek het dié pêrels by my ma geërf. Ek het nie eintlik ander juwele nie.”
“Jy het nie juwele nodig nie, Victoria,” sê Peter.
Sy lag. “Jy is baie galant, Peter.”
“Nee, hy’s reg,” sê Roland.
Gelukkig lui die telefoon op daardie oomblik en is dit hulle gasheer wat sê hy wag onder in die portaal vir hulle. Victoria gaan haal haar jas en Roland is bly toe sy weer tot onder haar ken toegewikkel is.
Hy verkyk hom die hele aand aan haar. Hulle sit oorkant mekaar aan tafel en sy gesels vrolik en entoesiasties met die twee mans weerskante van haar. Hy moet homself dwing om aandag te gee aan die mense aan sy kant van die tafel. Dis ’n kontrak wat hulle gesluit het, spreek hy homself aan. Sy is ’n vaardige huisvrou en ’n ongekompliseerde mens. Dis wat hy wou gehad het, en dis al wat sý wil hê.
Hy voel eers weer gerus toe sy die volgende oggend in haar warm langbroek, dik trui en jas verskyn, haar hare vasgebind en ’n wolmus in haar hand.
“Ek het dit gister gekoop,” vertel sy vir hom. “My ore vries af daar langs die rivier.”
Hy kyk haar lank aan, tel dan die telefoon op en bel na Peter se kamer. “Ek vat die oggend af,” sê hy vir sy vriend. “Kan jy sake vanoggend oorneem? Ek sal teen middagete terug wees by die hotel.”
“Hoekom neem jy die oggend af?” vra Victoria toe hy die telefoon neersit.
“Omdat ek saam met jou wil rondloop.”
“Maar jy hoef nie. Ek is nou al gesout. Ek het gister op die trem gery en alles.”
“Maar ek wil,” sê hy ferm. “Jy blameer my dan altyd dat ek niks sien van die stede waarin ek bly nie.”
Haar oë skitter. “Oukei, maar dan moet jy gemaklike skoene aantrek. Dis ’n stywe stap teen die heuwel uit na die kasteel toe.”
“Ek hét gemaklike skoene aan.”
Sy stap deur toe en trek die wolmus oor haar kop sodat omtrent net haar groot oë uitsteek.
Roland het impulsief besluit om die oggend saam met haar deur te bring, maar hy geniet dit geweldig. Sy stryk aan deur die strate en stegies asof sy haar hele lewe lank daar gewoon het. Sy wys hom waar die lekkerste koffieplekke is, sleep hom deur katedrale en museums, en wys vir hom al die stalletjies op die ou Karolusbrug. Hy koop vir haar ’n paar lang, bengelende silweroorbelle wat sy dadelik aansit en wat die res van die oggend in haar serp se voue vashaak, en ’n waterverfskilderytjie van Praag. In die koffieplek groet die kelner haar soos ’n ou bekende en sy oefen haar drie Tsjeggiese woorde op hom – tot sy groot plesier.
“Ken jy al die taal ook?” vra Roland verbaas.
“Net ’n paar woorde. Hy het dit vir my neergeskryf.” Sy kyk hom ernstig aan. “Ek dink dis net hoflik, dink jy nie so nie? Ons