Die landheer van Koningshof. Schalkie van Wyk
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die landheer van Koningshof - Schalkie van Wyk страница 6
“Gewillig om onbekende mans te soen nie?” vra hy met ’n skewe glimlag. “Ek het simpatie met jou onverantwoordelike optrede, juffrou Strauss, want ek is ook nie gewoonlik so gretig om ’n wildvreemde meisie te soen nie. As ’n glasie sjampanje jou verskoning is, is die warm somerson myne. Sal ons mekaar vergewe en die een die ander ernstig beloof om die eksperiment nie te dikwels te herhaal nie?”
Haar verleentheid wyk voor haar opstuwende verontwaardiging. “Jy skeer die gek met my, jou ongemanierde … e … man! Ek soen vreemde mans nóóit nie! En ek het ’n ewige ertjie aan opdringerige mans wat meisies oorrompel en sonder hul toestemming soen!” vaar sy teen hom uit en evaar terselfdertyd die terugkeer van haar selfvertroue met elke belediging wat sy hom toevoeg.
“Presies hoe ek oor opdringerige meisies voel, juffrou Strauss,” stem hy geredelik saam en sug teleurgesteld. “Maar as jy kon sien met hoeveel onuitgesproke verlange jy in my oë gestaar het, wel …”
“Ek het beslis nie! Jy … jy’s siek, of simpel. Ek sal onmiddellik …” Haar sin breek af toe sy probeer omswaai en onthuts besef sy staan nog in die kreatuur se arms. “Los my, meneer!”
Sy kan onmoontlik na een glasie sjampanje dronk wees, maar iets onverklaarbaars het met haar hart, het inderdaad in haar hele menswees gebeur vandat sy oor die ringmuur gespring het, besef sy met ’n gevoel van desperate onmag. Sy het nie net toegelaat dat ’n wildvreemde man haar soen nie, maar hom ook gretig teruggesoen.
Hoe kon sy so uiters dwaas gewees het? vra sy haarself ontsteld af. Sy sal sorg dat hulle paaie nooit weer kruis nie, want sy sal hom nie in die oë kan kyk nie. En sy sal haarself nooit vergewe dat sy soos ’n ervare flerrie in sy arms geval het nie. Verleentheid skop in ’n seer knop in haar keel vas en laat trane agter haar ooglede brand, want sy besef deeglik as sy werklik wou, kon sy verhoed het dat die man haar soen. Sy kon hom geklap het, hom op sy maermerrie geskop het, hom by een van die sekuriteitswagte aangegee het wat hulle buurt gereeld patrolleer. Maar sy het nie, want sy wou in sy arms wees, wou deur hom gesoen word.
Moos, of wat ook al sy regte naam is, laat haar stadig gaan asof hy bang is sy gaan dalk omval as sy op haar eie bene moet staan.
“Jy klink vreeslik hooghartig vir ’n meisie wat my nou net so lekker gesoen het,” kom dit afgehaal van Moos terwyl hy sy arms laat sak. “Sal jy môre weer by my kom kuier wanneer ek in die tuin werk, juffrou Strauss?”
Sy voel hoe haar wange gloei. “Nee, Moos. Werk jy nog ’n dag hier, gaan ek met vakansie. Ek hoop ek sien jou nooit, nóóit weer nie!” roep sy oor haar skouer, klouter oor die ringmuur en spring terug in hulle erf. Sy kyk nie om nie, maar skarrel deur die voortuin na hulle huis toe, want sy hardloop weg van iets wat sy – kamtig ’n gekwalifiseerde sielkundige – vandag self nie kan verstaan nie.
Lallie en Erika loop saam die eetkamer vir aandete binne, steek vas toe hulle ’n silwerhouer met ys en ’n bottel sjampanje tussen hulle stoele op ’n tafeltjie sien staan, en kyk beskuldigend na mekaar.
“Tannie weet sjampanje maak my roekeloos dronk,” verwyt Erika haar.
“Skaam jou, liefietjie!” blameer Lallie haar met net soveel gevoel. “Nadat ek vanmiddag so ’n yslike gek van myself gemaak het … Haai, ek is tot in my siel droewig … e … verdrietig … Gesiggie, help my soek na die regte woord!”
“Tot in tannie se siel geëmbarrasseerd …”
“Wat ’n gogga van ’n woord! Nee, sussie, ek weet nie hoe om soos daai woord te voel nie, maar ek is bitter verleë en skaam oor my dronkenskap in die goeie Jasper se huis. Ek onthou ons het soontoe gegaan omdat hy iets met my wou bespreek, maar ek het net op die rusbank in sy sitkamer gesit en ewe verspot gegiggel oor die borrels in die sjampanje wat my neus so kielie … en toe ek weer sien, skrik ek wakker op die rusbank, met ’n koppie geurige koffie op die tafeltjie langs my.” Sy sug bewerig. “En daar sit Jasper toe op ’n stoel oorkant my, drink sy koffie en gesels oor sy roostuin asof ek nooit my roes onder sy dak afgeslaap het nie. Ek dink nie die roostuin was die onderwerp wat hy eintlik wou bespreek het nie, hoor! Liefietjie, ek voel soos ’n gevalle vrou.”
“Tannie lyk glad nie gevalle of vervalle nie,” sê Erika opbeurend en betrag haar goedkeurend. “Tannie se oë is blouer as my ma s’n en ek hou van tannie se oulike neusie.”
“En my spierwitte haartjies en tallose plooie.” Lallie kry haarself terstond bitter jammer.
“Tannie kan ’n gesigontrimpeling bekostig,” sê Erika doodluiters.
“Lawwe kind! Het jy gesien hoe lyk van die dames by die liefdadigheidsorganisasies waaraan ek behoort? Altyd ewe verbaas oor alles wat ’n mens sê en alles wat hulle sien. Nee wat, dan liewer plooie as om so verbaas deur my oudag te gaan,” sê Lallie berustend en klik haar tong spytig. “Dis net dat ek soveel ouer as Jasper lyk.”
“Oom Jasper is dol oor tannie. As hy nie ’n stokou man was nie, sou ek gesê het hy is verlief op tannie. Goeiste, nee, ou mense is te waardig om verlief te raak. Ek vermoed oom Jasper het tannie lief.”
“Ja, gesiggie, want ek is sy naaste. Ek is lief vir hom ook, want … e … hy is my naaste.”
“Tannie weet dis nie wat ek bedoel nie. Ek sou nie verbaas gewees het as dít is wat oom Jasper vandag met tannie wou bespreek het nie.”
“Ek glo nie, kind. Maar ons sal nie gou weet presies wat hy wou gesê het nie, want die oproep wat hy vroeër vandag gekry het, was glo van ’n vriend wat vra dat hy dringend moet kom kuier. Hy vlieg vanaand reeds Kaap toe.”
“O!” Erika voel afgehaal, want sy wou oom Jasper nog oor haar pa uitgevra het.
“Maar sê my nou eers,” verander tant Lallie die onderwerp, “was jy toe so meedoënloos om vir ons nog ’n bottel sjampanje te gaan koop, Erika?”
“Jou woordeskat verstom my weer eens, Louise,” kom dit koel van Phoebe wat die eetkamer binnekom, deftig geklee in aanddrag, met ’n handsakkie in haar hand. “Dit was ek wat so meedoënloos was om vir julle ’n bottel sjampanje te koop, aangesien Erika vandag haar studie voltooi het. Hoe sjampanje meedoënloos kan wees, sal net jy weet, maar spaar my ’n omslagtige verduideliking. Vier jou prestasie gerus saam met Louise, Erika, en verskoon my, want ek het ’n belangrike ete-afspraak saam met ’n paar kollegas.”
“Dankie, Ma. Nag, Ma,” reageer Erika ingehoue.
Phoebe knik effentjies met haar kop, draai om en stap sonder meer die eetkamer uit.
Erika blaas haar asem saggies uit en kyk na Lallie wat op haar stoel aan die tafel gaan sit. “Ek moet seker dankbaar wees dat my ma minstens vir ons ’n bottel sjampanje gekoop het, maar nou vier sy my prestasie nie eens saam met my nie. Ek verstaan haar beter nadat tannie vir my van haar verlede vertel het, maar dit maak nog steeds seer dat sy my nie eens behoorlik groet nie. Ek het al gehoor hoe hartlik sy haar vriende en vriendinne groet wanneer hulle kom kuier, of selfs wanneer sy foongesprekke met mense voer, maar ek kry altyd net ’n byna onsigbare knik van haar kop.”
Lallie sug en maak ’n afwerende handgebaar. “Ag, sussie, kom sit en vergeet van jou onmoontlike ma. Ek vind haar optrede ook moeilik om te vergeef, want wie sal jou nou nié oorvloedig liefhê en dit elke dag wil wys nie? Jy is ’n pragtige, intelligente kind, van nature liefdevol en behulpsaam, en gretig om almal om jou gelukkig te maak.”