Ena Murray Keur 14. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 14 - Ena Murray страница 2
“Het jy reggekom, juffroutjie?”
“Ja dankie.” Sy kyk in die vriendelike oë op en die drang in haar is byna onkeerbaar om haar kop op hierdie verrimpelde ou man se skouer te lê en alles binne-in haar uit te snik. In plaas daarvan hou sy die vorms omhoog en kry dit selfs reg om te glimlag. “Ek het die vorms gekry. Dis om hier te kom werk … verpleegster.”
Die ou man se gesig klaar op. “Maar dis gaaf, kindjie. Jou oom is baie bly om dit te hoor. Dan sal ons mekaar mos weer sien. En as daar iets is waarmee ek kan help wanneer jy hier is, moet jy net praat, hoor.”
“Dankie, oom. Tot siens.”
“Tot siens, kind. Sien jou môre.”
Sy knik en stap aan. Môre? Nee. Hulle sal mekaar nooit weer sien nie. Sy sal hierdie vorms in die eerste vullisblik gooi wat sy gewaar. Sy kan niks daarmee aanvang nie. Sy durf hulle nie haar identiteitsdokument toon nie. Sy sal hulle nooit ’n toestemmingsbrief van haar ouers of voog kan gee nie.
Sy stap by die hek van die klein parkie langs die hospitaal in. Sy is nêrens op pad nie. Sy gaan sit op die vuil houtbankie, staar voor haar op die gras.
Die son het begin sak in die weste, en in die parkie langs die groot hospitaal word dit nou vinnig skemer.
Terwyl dr. Rudolf van der Merwe ’n verbete stryd langs ’n wit hospitaalbed stry, wonder die meisie op die bank of dit net sy is wat in die groot, swart stilte asemhaal.
Dan gewaar sy die man en sit in afgryse aan die bankie vasgeknel. Sy het hom al dikwels gesien, langs die paaie, in parke, op straat – die verslete, vertoiingde, vuil boemelaar met die stoppelbaard en die oë bloedbelope van goedkoop wyn. Sy sien hom in die flou lig van ’n straatlamp van agter die bome nader stap, reguit op die bankie af.
Dit is sy gaatjie dié, besef sy meteens ontsteld. Bedags loop hy rond, bedel en steel wat hy nodig het – en snags kom hy na hierdie parkie, snags is dit sy tuiste.
Hier hinder niemand hom seker nie. Hy slaap sy roes ongesteurd op die houtbank uit, eet sy droë brood wat toegedraai is in ’n stuk vuil koerantpapier en drink sy bottel goedkoop wyn om te vergeet van gister – wat was en kon gewees het.
Sy skuif stadig van die bank af, beweeg agter ’n boom in. Sy hoor die boemelaar op die bank neersak, die geritsel van papier, hoe hy aan iets kou. Dit stil die knaende hongerpyne en word selfs ’n koningsmaal. Hy neem ’n sluk uit die bottel, snuif hard in die stilte en mompel iets onverstaanbaars. Hy frommel die stuk koerantpapier op en dit waai verby haar voete. Die res van die wyn word hard in die stilte afgesluk. Toe rol die leë bottel ook by haar voete verby. Dit word stil, baie stil. Sy kan hom hoor asemhaal, swaar, diep. Dan kraak die bankie. Hy het gaan lê. Sy kan die flenters wat eens skoene was, uitmaak. ’n Lang, verlate sug klink meteens op in die stilte. Hy slaap.
Versigtig kom die meisie in beweging, haar voetstappe geluidloos oor die sagte kweek. Sy sal ’n ander plek moet soek. Hierdie gaatjie is reeds bespreek.
Op daardie oomblik skuif dr. Rudolf van der Merwe sy handpalms oor die starende oë en buig sy krom rug reguit. Hy haal sy stetoskoop af, druk dit in sy jassak, vee oor sy oë met ’n moeë gebaar. Dis alles verby; hulle het verloor. Hy stap uit en ’n suster neem sy plek in, begin die buisies uit die armholte en neus verwyder. Dis nie meer nodig nie.
Hy stap deur die verligte ingangsportaal van die hospitaal, knik vaag op die nagportier se groet, druk die glasdeur oop en stap in die soel aandlug uit. Hy skuif agter die stuurwiel in, maar skakel nie dadelik die motor se enjin aan nie.
Hy staar nikssiende oor die swart kol van die klein parkie verby na waar die stadsliggies wink.
Êrens hier voor hom tussen die talle liggies is ’n leë bed, ’n leë stoel. Dit sal nooit weer gevul word nie …
Hy buk af, draai die sleutel, skakel die ligte aan. Toe sien hy weer daardie gesiggie voor sy geestesoog soos dit vandag telkens gebeur het – die skraal, maer gelaat met die blou oë, die dooie blik, die slanke hande, die raafswart hare …
Iewers moet sy ook wees, slaap seker al, want dis al laat. Dalk lê die vorms langs die bed op die kassie, klaar ingevul, gereed om môre ingehandig te word. Sou sy al slaap of lê sy en dink oor haar toekoms, oor wat die dag van môre gaan oplewer?
Hy frons toe hy die motor by die hek uitswaai in die straat in. Hy is moeg. Dit was ’n lang dag, maar hy is nie oorgretig om by die woonstel te kom nie. Hy het nog nie vanaand geëet nie, weet ook dat hy nie sal eet as hy nou tuiskom nie. As daar iemand was wat op hom gewag het, sou dit miskien anders gewees het.
Hy en Catherine sal die een of ander tyd tot ’n besluit moet kom. Hy kan nie so voortgaan nie. Tot dusver was hy heeltemal tevrede met sy vrygesellewe, maar dit is of hy deesdae iets mis.
Vanaand is dié gevoel sterker as tevore, amper ’n dringende behoefte dat daar iemand moet wees wanneer hy die voordeur oopstoot ná ’n harde, veeleisende dag; iemand aan wie hy sy vreugdes en teleurstellings kan vertel, iemand wat alles met hom sal deel.
Hy ry stadig asof hy die pad woonstel toe so lank moontlik wil uitrek. Die frons tussen sy oë keep al dieper in. Is Catherine die vrou met wie hy sy lewe wil deel? Sy is ’n intellektuele mens en ’n baie bekwame joernalis. Sy ken die wêreld en, soos sy dink, ook die lewe soos die palm van haar hand. Sy word dikwels deur haar koerant oorsee gestuur. Daar is kwalik ’n land waar sy nog nie was nie en sy praat ses tale vlot.
Haar lys bekwaamhede is indrukwekkend … afskrikwekkend selfs vir iemand soos hy. Al is hy ’n geleerde man, kan Catherine hom soms heeltemal oorweldig met haar lewenswysheid. Wil hy so ’n vrou hê? vra hy homself in die nagtelike uur af. Wil hy ’n vrou hê na wie hy moet sit en luister, of een wat ook soms na hom sal luister?
As sy nou op hom moes gewag het, sou hy haar nie van vandag kon vertel nie … van Jan le Roux, en ’n vrou en drie klein dogtertjies wat vannag alleen en sonder sorg agterbly. Hy sou haar nie kon vertel van daardie oomblik toe hy saam met ’n ander man trane van vreugde in sy oë gekry het omdat ’n kindjie, na wie soveel jare uitgesien is, eindelik gebore is nie.
Dit is juis hierdie dingetjies – volgens haar van soveel minder belang as dít waarmee sy te doen kry – wat hy graag met sy vrou wil deel. Tog is Catherine die vrou met wie hy seker die een of ander tyd sal trou. So is die verstandhouding … eendag. Maar hy begin nou ongeduldig raak. Die verlange groei in hom na ’n eie huis, na ’n vrou en kinders … na liefde. Hy is amper dertig. Dis tyd dat hy ook bestendigheid in sy private lewe kry.
Miskien het tant Kitty se gekarring aan hom ook baie hiermee te doen. Hy glimlag nou effens. Liewe tant Kitty wat tydig en ontydig by hom neul dat hy moet trou en kinders hê, maar “tog nie by daardie rooikat Katrien nie!” Sy dink baie beslis nie Catherine is die regte vrou vir hom nie!
Hy lag maar altyd haar giftige stekies na Catherine se kant toe weg, maar dit begin hom deesdae bekommer. Tant Kitty is sy tweede ma. Sy het hom feitlik grootgemaak en lê hom baie na aan die hart. Maar sy kan Catherine nie voor haar oë verdra nie – en die gevoel is wederkerig.
Hy ry om die hoek waar sy woonstelblok geleë is. Meteens lig hy sy voet van die petrolpedaal. Dis sowaar sy! Die motor kom byna heeltemal tot stilstand. Dis ís sy! En dis byna middernag! Wat soek sy hierdie tyd van die nag nog op straat? En verbeel