Louisa du Toit Omnibus 11. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 11 - Louisa du Toit страница 28
Die huis lyk donker, maar die rede daarvoor blyk toe hy ma en dogter op los stoele net onder die toegerankte stoepie vind, besig om die aandkoelte te geniet terwyl hulle muskiete wegklap. ’n Swaaiende lantern agter die grootvoor getuig daarvan dat Arno iewers water lei. Solank daar water is, is die onuitgesproke voorbehoud. Soms lawe hy net ’n bedding wat hy in die dag te droog bevind het. Maar natuurlik het Arno hom vandag laat verlei deur die algemene gevoel van oplugting wat saam met Reinet uit die dorp gekom het.
“Welkom in muskieteland,” sê Nida uit die skemering.
“Dankie. Het hulle ’n minister van buitelandse betrekkinge, dan onderhandel ek.”
“Ek is bevrees hulle vra nie vrae nie. Dis wyfies, en hulle het bloed nodig vir die nageslag.”
My bloed nodig vir ’n nageslag, dink hy met skielike erns. Reinet … arme, liewe Reinet. Watter mooi kindertjies sou hy en sy kon hê.
“Dis Saterdagaand,” sê-vra Nida.
“Reinet moet aan diens gaan, en ek is van die son gepiets. Skoon pootuit.”
En Boel kom natuurlik nie, dink hy, want hy en Nida het mekaar ’n groot deel van die dag gesien.
Leen ontwaak tot haar pligte. Sy staan op. “Nou ja, ek en die kinders het sommer brood en ’n stukkie koue vleis geëet, maar ek kan nie verwag dat meneer …”
“En hoekom nie? Wanneer sal jy my as een van julle aanvaar … Leen?” Hy voel hy kan haar nie “mevrou” nie, en sy is die on-tannieste mens wat hy ken. Hy berei ’n eie plan: hy sal haar Leen noem, maar nooit jy en jou nie. “Is dit reg so? Ek weet ek is ’n snuiter teen Leen gereken. Maar as Leen nie omgee nie …”
“Dit is reg so,” reageer sy tevrede. “As ek dan maar jou vol voornaam kan gebruik, Cornelius. Dit klink meer respekvol. Ek het nie eers vanaand ’n koue aartappel nie. So, brood en vleis?” Dit klink of sy gloei van plesier.
“Met dik botter, en ’n glas koue melk,” aanvaar hy met dank. “As daar dalk ’n los tamatie is wat Leen saam op die brood kan plak.”
“Met sout en witpeper,” snap sy.
Nida verrys effe onwillig om vir haar ma in die kombuis te gaan instaan, maar Nelis reik oor en druk haar liggies terug. “Sit eers,” beveel hy. “Ek het raad nodig.”
“Wie het nie?” vra sy.
“Eers jy dan,” bied hy aan.
“Ek sal my storie kort maak. As my ma intussen terugkom, moet ons maar …”
“… by die grootvoor verder gaan gesels?” hoop hy.
“Soos ek sê, my storie is kort. My gevoel vir Boel het gegroei. Toe vind ek heel onlangs uit dat sy ma en my pa … jare lank.”
“Dis dan die rede hoekom jy skielik gawer met Leen is?”
“Dit moet wees.”
“En die probleem? Dat jy voel jy moet hom los, om teenoor jou ma te vergoed?”
“Ja, dit klink logies. Maar die onlogiese is dat ek nou meer van hom hou, heeltemal in sy eie reg, nie as deel van sy ma op wie ek tog so versot was nie. Moet ek die nuwe gevoel vir hom uitroei, ter wille van my ma?”
“Dit kom maar net by my op, kan ’n mens iets heelmaak deur iets anders stukkend te maak?”
“Dalk is dit al antwoord genoeg. Dit gee my hoop. Ek sal daaroor dink. En nou, jou probleem?”
“Ek moet ook vergoed vir ’n onreg,” sê hy, “maar dis een wat ek self gepleeg het.”
“Wil jy daaroor praat?”
Hy hoor Leen aankom met die gevraagde brood-vleis-en-tamatie, en druk sy hande ’n paar oomblikke voor sy gesig.
“Nee,” sê hy gesmoord, “ek kan nie. Nog nie. Dis te groot. Dit gaan om lewe en dood, verstaan jy?”
“Hoef ek te verstaan?” wedervra sy.
In stilte, onder die sterryke hemel, nuttig hulle saam die aandbrood.
Dan sê Nelis verbaas: “Die rivier … dis stil.” Het dit dan nie vandag nog geruis toe hulle daar was nie?
“Dis nie goeie nuus nie,” sê Nida somber. “Dit beteken die stroompie wil gaan staan.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.