Vet feetjies vlieg nie. Kristel Loots

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vet feetjies vlieg nie - Kristel Loots страница 6

Vet feetjies vlieg nie - Kristel Loots

Скачать книгу

nie die eerste keer wat ek dáárdie uitdrukking op ’n man se gesig sien nie. Ek het my kwota blind dates agter die rug, dankie. Op universiteit al daarmee begin. Van die meisies in die koshuis wat my jammer gekry het en wou weghelp met die een of ander agtertangse familielid wanneer dit nodig was om ’n plus-one vir ’n funksie te hê. Die meeste van die gawe Samaritane het vir my ’n ewe vet boyfriend gesoek. Asof dit al is wat nodig was vir ons om vir ewig en altyd gelukkig te wees. Hoe de hel het hulle gedink sou ons arme kinders dan lyk? Potjierolle wat soos vraatsugtige stofsuiers alles wat nie giftig is nie voor die voet verslind?

      As daar nie ’n vette beskikbaar was nie, is ’n ander loser nader gehark om aan my af te smeer, ouens wat self so laag op die food chain was dat hulle nie sou omgee om saam met ’n vet meisie gesien te word nie.

      “Feetjie?” vra Billy Bruwer dan nou ook, sy stem diep, donker, dik en waardig soos die toga wat ’n advokaat in die hoërhof dra. “Funky Feetjie, is dit jy?”

      Ek kug, probeer ook vernaam klink. “Ja. Dis ek. En … en ek is vet.”

      Dis uit voordat ek kon keer. Onnodig natuurlik. Die man het oë in sy kop.

      “Ekskuus?”

      “Ek … ek sê ek weet ek is nie presies wat jy verwag het nie.”

      “Nee, jy is nie. Jy is soveel meer.”

      Meer? Wat bedoel hy met méér? Meer wát? Meer hare? Meer sproete? Groter boobs? Méér om die lyf as wat enigiemand sou wou hê?

      “Die foto by my blog is gedokter. Ek het Photoshop en ek weet hoe om dit te gebruik.”

      “Ek sien so.” Hy lag. “Dis ’n verrassing om te sien jy is van vlees en bloed. Die profielfoto by die blog lyk alte veel na ’n avatar.”

      “Ek het dit oorweeg om ’n avatar te gebruik, maar ek wou hê Funky Feetjie moet deels fantasie en deels vlees en bloed wees.”

      “Dis presies waarna ek soek.” Billy Bruwer leun vorentoe en sy gesig kom nader aan myne. “Ek het ’n paar van jou blogs gelees. Ek hou van die eerlikheid waarmee jy skryf, jy skiet van die heup af. Ons kan daarmee werk.”

      “Wat … wat bedoel jy?” My hart doen vreemde dinge in my bors. Iets soos gimnastiek of atletiek, iets wat ’n vreeslike gespring en ’n gesnak na asem tot gevolg het.

      “Media Uniek wil ’n nuwe tydskrif launch …”

      “’n Nuwe tydskrif? Ek het dan verstaan tydskrifte se verkope het drasties gedaal. Dat die bedryf in sy geheel in sy … in sy dinges is.”

      Ek moenie praat nie, veral nie oor goed waarvan ek nie genoeg weet nie. En ek moet veral nie per ongeluk vloek nie. Ek moet probeer intelligent lyk, my mond hou en luister, my maag intrek, onthou om só te sit dat my dubbele ken in wording nie wys nie, en my kop elke nou en dan instemmend knik. Maar my senuwees laat dit nie toe nie. Daarvoor is die situasie te bisar, te absurd. Ek! Wat met Billy Bruwer gesels! Geen wonder die woorde borrel onbeheersd oor my lippe, waaraan daar nou nie eens ’n smeerseltjie lipstiffie is nie.

      “A! Ja! Dit raak ietwat van ’n uitdaging om koerante en tydskrifte aan die gang te hou,” erken hy. “Maar ons is nie verniet Media Uniek nie, hoor. Weet jy wat ons leuse is?”

      “ ‘Verwag die onverwagte’. Ek het dit uit jou mond gehoor toe jy die ander dag op ’n televisieprogram was.”

      “Net so.” Hy leun terug in sy stoel sodat sy gesig nie meer die skerm heeltemal opvul nie. Die gordyne agter hom is oopgetrek sodat ek ’n swetterjoel stadsligte daar kan sien skitter. Ek weet nie waar die vermaarde doktor Billy Bruwer hom bevind nie, maar ek wed hy het ’n wonderlike uitsig. Rykmansbuurt as jy my vra.

      “Dis hoekom hierdie een gaan werk,” verduidelik hy. “Om mee te begin, gaan dit ’n uniseks-tydskrif wees, iets anders as die gewone. Die bedryf is nog ver van belly-up, dit vra net na ’n paar kreatiewe aanpassings om te oorleef in ’n omgewing waar die wêreldwye web oorgeneem het.”

      “En hierdie tydskrif gaan dit regkry omdat dit uniseks is?”

      “Dit gaan nie jou gewone glitz and glamour-publikasie met meer advertensies vir lipstiffie en maskara as leesstof wees nie. Ons artikels gaan ook nie net wees oor presies wat die celebs vir ontbyt eet nie.”

      “Met foto’s van gewone mense op die voorblaaie?” raai ek. “Mense wil nie betaal om na ander lelike mense soos hulself te kyk nie. Dis waarvoor Facebook daar is.”

      “Feetjie, Feetjie,” berispe hy my. “Jou siniese onderrok hang uit.”

      Is so. Ek met my groot mond. Sjarrap, Lucy, sjarrap tog net.

      “Dink jy nie ek het deeglik navorsing gedoen voordat ek op Uniseks as ’n tydskrif besluit het nie?” Sy wenkbroue lig, hoeka soos een van daardie Facebook emoticons wat veronderstel is om die angel uit skerp woorde te neem.

      “Die verskil tussen Uniseks en ander tydskrifte gaan vir die oningeligte persoon nie so ooglopend wees nie, maar die connoisseur sal dit gou genoeg agterkom.” Hy frons, kyk my amper kwaai aan. “’n Satiriese styl, hoewel effens getemper, behoort goed te werk. Ons lesers gaan nie net lees hoe awesome die sepiesterre by die … by die Tempo-toekennings en ander groot aande gelyk het nie. Hulle gaan dieper kyk, dieper luister, meer lees, die mens agter die celeb raaksien.”

      “Ook hul voete van klei?”

      “Ja. As dit nodig is. Maar met deernis aangebied. Ons wil die mens agter die celeb wys, nie die monster nie. As mejuffrou Een-of-ander-skoonheid uitermate groot voete het en haar ingevoerde skoene daardie voete van klei blase druk, moet ons lesers daarvan weet.”

      “’n Skindertydskrif?” Ek glimlag om die steek uit my woorde te neem.

      “Ek verkies om dit ’n geselstydskrif te noem.” Hy beduie weer allervreesliks met sy hande. “As daar geskinder gaan word, as jy dit so wil stel, moet dit met finesse gedoen word. Wat die op-die-man-af-geselstrant betref, sluit Uniseks juis aan by die sosiale media soos Facebook en Twitter.”

      Ek gee ’n senuweeagtige laggie. “Het julle baie geld beskikbaar vir lastereise?”

      “Dit sal nie nodig wees nie, nie as dit reg hanteer word nie. Dit kan nie stories wees wat die wind in jou oor gefluister het nie. As jy skryf oor ’n kalf met twee koppe, moet jy eers seker maak dat dit waar is en die ding nie net gesien is deur iemand met ’n hangover wat dubbel kyk nie.”

      “Why spoil a good story with the truth?”

      “Uniseks se lesers moet die tydskrif vertrou, maar nogtans aan die raai gehou word sodat hulle altyd meer wil lees. Dis ’n fyn spel wat bemeester moet word.” Hy lyk ’n bietjie moedeloos. “Ons moet hieroor gesels, ek en jy …”

      Ek en hy? Gesels?

      “Die laaste ding wat ek wil begin, is nóg ’n poniekoerant of geelpers-tydskrif. Daarom sal ons baie subtiel te werk moet gaan. Die aanslag sal tong-in-die-kies moet wees eerder as smerig. En tog sal dit nie net fluff kan wees nie, dan gaan ons nie die gehalte lesers kry wat ons soek nie.”

      My ore tuit behoorlik terwyl Billy Bruwer die rekenaarskerm aan die brand praat. Ek is mal oor ’n passievolle man, ’n man wat laat waai en arms swaai wanneer

Скачать книгу