Ena Murray Keur 15. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 15 - Ena Murray страница 3
“O?” Rhona tel die koerant op. “Dit is nogal jammer. Dit sal vreeslik wees as sy littekens moet oorhou.” Dan gee sy die koerant terug, en toe sy by die deur uitstap, het sy alles al weer vergeet – haar pa se vermanings asook die berig wat sy so pas gelees het. Sy dink oor die spyskaart vir môreaand se ete en watter tafeldoeke sy gaan gebruik.
De Waal is die volgende oggend baie vroeg op pad Kaap toe. Hy het genoeg tyd om aan die verlede te dink …
Toe hy sy verstand gekry het, het hulle in die een deel van die skakelhuisie gebly – hy en sy pa en sy ma. In die ander deel het die Oosthuizens gewoon – oom Daan, tant Miemie en hul babadogtertjie, Karina. Sy pa en oom Daan het albei vir die munisipaliteit gewerk. Soggens het hulle saam werk toe gestap.
Toe is sy ma dood. Hy was maar nog ’n jong seun, maar hy onthou goed. Dit was tant Miemie wat hom saam met haar huis toe geneem en hom die nag daar laat slaap het. Dit was tant Miemie wat twee dae later sy hand styf, styf vasgehou het toe hulle voor die oop graf gestaan het. Dit was sy wat hom, nadat alles verby was, na haar slaapkamer geneem, haar arms om hom gesit en sag gesê het: “Nou kan jy maar huil, boet. Huil so hard en so lank jy wil.”
Hy hét gehuil, hoe lank en hoe hard weet hy nie, maar toe die trane eindelik opgedroog het, was tant Miemie se arms nog om hom, sussend, teer, moederlik.
Die tyd het aangestap en die lewe het weer ’n normale patroon aangeneem. Sy pa het soggens weer sy trommeltjie gevat en saam met oom Daan werk toe geloop. Hy het weer skool toe gegaan. Alles was weer min of meer soos altyd. Net … dit was tant Miemie wat nou toegesien het dat die huishulp hul huisie goed skoonmaak, gesorg het dat daar groente was om te kook, hul klere vir hulle reggemaak het. Dit was by tant Miemie se kombuistafel waar hy nou middae ná rugby of krieket ’n beker koffie en ’n dik sny brood met die tuisgemaakte appelkooskonfyt so dik daaroor gestryk, gesit en eet het.
En Karina was altyd daar. Sy was vyf jaar jonger as hy en vir hom die mooiste klein meisietjie wat hy nog ooit gesien het. Sy het vir hom al mooier geword namate sy groter geword het. Hy het haar as sy persoonlike besitting beskou, totdat hy op ’n dag met ’n skok moes besef dat sy glad niks van hom was nie en ook nooit sou wees nie.
Sy was in standerd vyf en hy in matriek toe hy vir die eerste keer opgemerk het dat ander seuns na haar loer en dat sy dit geniet. Hy het haar goed beskou, die ontluikende vroulikheid raakgesien en vir die eerste keer het hy geweet wat jaloesie is. Soos ’n wafferse grootbaas het hy haar daaroor aangespreek en hom teen ’n muur van vyandigheid vasgeloop.
“Ek is nou moeg vir jou baasspelerigheid, De Waal,” het sy ontstoke gesê. “Jy is niks van my nie.”
“Maar …” Hy wou haar verslae daarop wys dat hulle so te sê in een huis grootgeword het, dat hy die volste reg het om beskermend oor haar te voel, maar sy het hom nie kans gegee nie.
“Van nou af los jy my uit, hoor? En in die toekoms gaan ek saam met wie ek wil, na die debat, die rugby, waar ook al heen. Ek is nou sat daarvoor dat jy my altyd wil oppas.”
Hy het verslae na haar wrede woorde geluister. Al die jare, as hulle na ’n plek toe moes gaan, het hy en Karina saamgegaan. Hy het nooit bedoel om haar op te pas nie. Dit was vir hom die grootste genot en vreugde, en hy was altyd heimlik trots op sy maatjie. En toe moes hy hoor sy vind hom lastig en baasspelerig en dat sy moeg was daarvoor, dat sy verkies om saam met ander seuns na al die plekke toe te gaan.
Sy klein kaartehuis wat hy deur die jare vir hom en Karina opgebou het, het in duie gestort. Hy het nooit na ’n ander meisie gekyk nie, want niemand was so pragtig soos sý Karina nie. Maar dat Karina beslis na ander seuns begin kyk het, was duidelik, en dit het diep, diep seergemaak.
Dit was net tant Miemie wat agtergekom het dat iets met hom aan ’t gebeur was. Sy het hom die beste van almal geken, want het sy hom dan nie amper soos ’n eie kind grootgemaak nie? Sy was al die jare bekommerd dat hierdie ding sou gebeur, en nou het dit gebeur. Sy het nooit daarna verwys nie, maar sy was daarvan bewus dat hy Karina bewonder. Sy het maar gehoop dat hy dit mettertyd sou ontgroei en ook in ander meisies sou begin belangstel, meisies van sy eie ouderdom. Maar dit het nie gebeur nie, en toe het Karina hom seergemaak.
Maar sy was bang om met hom daaroor te praat. De Waal was reeds in matriek ’n besonder volwasse kind vir sy jare. Hy was nog altyd baie spontaan teenoor haar, maar tog was daar sekere dinge, waarvan sy gevoel vir Karina een was, wat sy nie sommer met hom kon bespreek nie. Sy het gewag dat hy eerste daaroor met haar moes praat, maar hy het nie.
Met die beste bedoelings het sy een middag met haar dogter probeer praat, ’n dogter wat skielik oornag grootgeword het, byna te mooi geword het, het sy met beklemming gesien. Waar sou sy en Thys tog aan hierdie besonder mooi kind kom? Hulle was doodeenvoudige mense. Sy was nog altyd so ’n groot vreugde vir hulle, want afgesien van haar uiterlike skoonheid, was sy ook intelligent en baie getrou in haar skoolwerk. Oënskynlik kon sy en Thys maar net trots wees op die dogter wat die Vader hulle redelik laat in hul lewens geskenk het. En tog …
Ouers wil altyd graag mooi kinders hê. Sy het geweet daar was baie mense op die dorp wat haar en Thys hierdie pragtige, slim kind beny het. Maar sal haar kind se skoonheid nie later meer kommer en hartseer baar as wat dit tot dusver vreugde gebring het nie? Daar is so min mense wat uiterlik mooi is wat ook goed is van binne.
“Jy skeep De Waal deesdae darem baie af, Karina. Jy gaan nooit meer êrens saam met hom nie.”
Karina se ken het parmantig gelig. “Hoekom moet ek? Ek is onder geen verpligting teenoor hom nie.”
Tant Miemie het gefrons. “Hoe kan jy so iets sê, Karina? Jy en De Waal is so te sê broer en suster.”
“Ja, as julle dit net daarby sal laat.”
Tant Miemie was hewig ontsteld. “Wat bedoel jy?”
“Mamma, kom ons praat reguit. Al die jare paar julle my en De Waal af. Vergeet dit. Daar sal nooit iets meer as vriendskap tussen ons wees nie en as hy nie kan ophou om lastig en besitlik te wees nie, kan daar nie eens vriendskap wees nie.”
“Karina!”
Sy was egter onwrikbaar. “Ons moet mekaar goed verstaan, asseblief, Mamma. Ek het my hele toekoms voor my, en De Waal pas nie by my planne in nie. Sodra ek klaar is met skool, gaan ek die wêreld in om iets te bereik, iets te word. Ek is nog nie honderd persent seker wat nie, maar ek gaan nie op hierdie dorp bly sit en met De Waal trou en soggens vir hom ’n trommeltjie kos pak soos Mamma dit vir Pappa doen nie. Ek sal nie! Ek sterf liewer!”
Sy het natuurlik nie geweet hoe diep haar woorde haar ma gekwes het nie. Die jeug besef selde wanneer hulle wonde toedien. Wysheid en insig kom eers met die jare, en Karina was maar nog ’n dogter, vol ideale, en sy was van plan om niks en niemand in haar pad te laat staan nie.
Sy het Karina bekommerd aangekyk. Daar is niks mee verkeerd om ideale en drome te hê nie. Trouens, elke mens moet dit hê. Maar Karina se ideale … Was hulle werklik suiwer?
“Wat wil jy eintlik in die lewe hê, my kind?” het sy amper bang gevra.
Haar kind het haar arms half moedeloos uitgestrek asof dit te veel was om op te noem. “Ag, sommer … sommer alles wat …”
Miemie Oosthuizen het begrypend geknik toe haar dogter ongemaklik geswyg het. Ja, sy het geweet. “Alles wat ons jou nie kon gee nie, bedoel jy.”
Karina het skuldig gelyk, maar was nog steeds uitdagend. “Is dit so verkeerd, Mamma? Ek is maar