Jukstaposisie. T.T. Cloete
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Jukstaposisie - T.T. Cloete страница 3
hier waar jy en jou eerder ontslape
mooi Indoena lank gelede eenmaal was
hier wei nou snotneuslammerskape
’n hele kudde in die kortgras
N.a.v. FvdH WEGL en JFEC
Soggens as die boere
diklywig lande toe ry
met hulle Fords, verby
is die tyd van die toom
en saal vir goed, stroom
die motors in sierlike snoere
na die polsende gasvrye middestad.
Baie lankal genees is tering
en hoes. Die Vrystaatse stoftorings
het my van die lekker boerwees
van W.E.G. Louw wel deeglik genees.
Ons wat aan die wolke vingerpunt vat
en mynend in die ryk kern vroetel is afkerig
van Jan F.E. Celliers se opgeskroefde geseur
en geteem by ’n vroegaandvuurtjie. Die stad gebeur
onverpoos etmalig, die digte dromme daar reageer
op die aarde se trillings en op die hemelse weer
miljoenemenigvuldig eendragtig, vervoerd gevoelig.
Impasse
Ik weet het niet?
Ons staan in die kombuis, ’n vrou en ek.
“Waaroor, Kokkie, wil jy dat ek moet skryf,
Voorsitster van die Reg van Vrou en Wyf,
kom sê so ongeveer in die bestek
van veertien verse, slim Doktor Ciclopia,
kom sê wat wíl jy hê?” “’n Strak sonnet,
metries, vol leestekens, en ek belet
dat jy swaar woorde kies, skryf dom, ek vra
dat jy my nié moet irriteer nie – vir my
ook géén Latyn nie, net wat moeiteloos
kan lees terwyl ek afval voorberei.
Streel my, maak my plesierig, my ou bielie,
en geen erns, net teer emosies soos
’n veer wat prettig oppervlakkig kielie.”
Stories
. . . vangt de fluitketel te fluiten aan
1 001 wintersaande klein voor
die stoof, die ketel sing
bestendig en laag, is daar getoor,
is stories gestoom van Vereeniging
en transportry, van steel
en roof, van konsentrasiekamp
en rebellie, is leuens verbeel.
Dit is verdamp.
Die mond wat ons gevoer
het is nou ongetuit oorgegee
aan die koue klei. Fragmente sloer
in ons ore, draal in ons geheue,
word wit op wit
maar het ’n planeet
in ons gehemelte versit,
maanhelder, sterheet.
Simbiose
die mond die voos plek
– selfs die son is gevlek –
is ’n ploffer vir die taal die gas
van die leeugeraamte se ribbekas
is die by wat verbaas
in stories: die ligte haas
word deur die skilpad geklop
ondanks sy lomp dik dop
die kieskeurige droom vaar
in die gedweë boemelaar
die goedkoop grys mossies
word deur Christus uitverkies
gesigte maak oorstelpend nes
in hulle wat ingedagte gekwes
is – woordelik word hulle wat stom
is deur ’n vaardige tong oorgekom
Huis oordag
ek het om my te vestig in vreugde ’n huis gebou
vir stoeiende seuns vlinderige dogters verwek
in ekstase en ’n geliefde teer gekweste vrou
vir baie vriende om nes te maak
’n plek vir swaels hangplek
vir baie skilderye wat bewaak
moet word boeke rak op rak om huis te hou
vir die groot stilte wat skrikgewek
aardebewend in die dak in die stene en die fondament kraak
Huis snags
snags na middernag
kom daar opstanding in die leë
vertrekke die ekstroverte bediende begin vet lag
deur die huis
die vader maak rusie met die gedweë
teer dogter in die kombuis
word die verjaardag van die gebreklike geliefde seun
voorberei met teensin en neurose