Kleur kom nooit alleen nie. Antjie Krog
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kleur kom nooit alleen nie - Antjie Krog страница 2
Lala Steyn & Henry Krohne: Land Use in Namaqualand
3. narratief buite die park
Susara Domroch van Kubus
‘nee Oupa Mandela vir hom stem ek
hoekom is om Nama te wees vandag om iets te wees?
omdat ons nou ons eie woord is
onder die ou regerings was ons hulle woord
oor jarre is ons uitgedryf na die bar plekke
Kleurling Reserves
ons was niks
maar vandag is ons iets
en dis hy, daai Ouman Mandela, dis hy
nee Mandela-goed het my stem gekry’
Kubus se kerk staan wit teen die kwartsietlug
en stoot stem teen die rante uit
‘o God blaas en bloei u liefde oor ons,’
sê oom Adam
hand op die hart sing die gemeente
‘ja Jessus is ’n rots
in ’n dorr-stigge land
’n dorr-stigge land
’n dorr-stigge land’
‘U is soos wasem vir my
Hiesus Hie-ie-ie-sus’
Kubus háng aan die rante van Rosyntjieberg
dit vra baie God om hier te hou
Mev Farmer van Eksteenfontein
‘ek’s mos vreeslik vás aan vee
’n huis is vir my niks
maar die ope veld
ek het grootgeraak so in die ope veld
in ’n ronde huisietjie
toe ons hier kom, reën dit
en die gousblom staat so hoog
as ek hurk sit ek onder ’n blommevloer
daarvandaan het ek die plek aangeneem
dat ek hom nou nog liefhet
vir die aard
vir die veld
die park-se-man het ons eendag kom oplaai
om ons die park te wys vroeër waar ons bees geloop het
hy wys ons die halfmens
maar dies ek mos gewoond
my oë bly net steek-steek
vir daai pol wat ons altyd geëet het in die veld
hy’t sulke vingers gehad
en ek en Kowa was so lus vir hom
Kowa het nogals ’n mes gevat om skoon te maak die dorings en so
ons loop en loop terwyl die anders die halfmens kyk
hier kry ek hom, die pol, en breek hom af
toe sê die man jy mag nie goed afbreek nie
en ek sê die man
nou wat moet ek dan maak, ons eet hom hoeka
toe sê hy dit moet bly vir ons kinders
toe sê ek maar ons kinders eet nie polle nie
toe sê hy ek en Kowa kan elk enetjie kry
Kowa kon darem nog so ’n ou ekstra enetjie ingedraai kry
maar nou’s ek tevrede – dit groei nog hier by’
4. narratief van die diamantsorteerder
‘as my oë kyk, kyk my oë klip
die potjie gruis keer ons om
en skraap klipwaaiertjies oop met die skrapertjie
en jy kyk en jy sien hom
en jou hele lyf sê: diamant
ek is Jan Links van Kommagas
ek is 42 jaar oud
ek werk van my sestiende jaar op die myne
myngeld is bloedgeld
hier het ek hom die eerste maal kom sien
’n spoeldiamant – so besonderlik blink blínk hy
sy vorm of iemand hom al beetgehad het
al is hy bruin of groen of pienk
jy voel die blink jou lyf blindmaak
aan die kleintjies twyfel jy
die grotes wéét jy
nooit mag jy ’n diamant met die hand vat nie
jy lig hom met die swiezer uit die ander
sit hom eenkant vir tel en toesluit
smokkel? by anders, maar hier in die Richtersveld, nié’
‘natúúrlik smokkel mens ja,’
sê Kiewiet Cloete van Kubus
‘mens kan lekk-ker smokkel
as die sienewies net hou
want steel, steel jy op die sorteertafel
jy hoes, jy val so effens oor die gruis
die gom aan die rand van jou palm tel die diamant op
en jy en ammil kyk so uit die wit van hulle oogkegels
die sekuriteit, die manne saam met jou, almal weet iets het gebeur
maar jy moet wragtig vinnig wees’
5. narratief van klip
’n landskap soos dié maak my bang
reeds tussen