Periandros van Korinthe. D.J. Opperman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Periandros van Korinthe - D.J. Opperman страница 5
die man wat skaars aan eie vrou en kinders aandag skenk
maar net belang stel in die hoë en die helder denk.
En as Kuupselos miskien die kamer binnestap
met sy ou kou en kwarteltjie is jy klaar omgekrap,
maar met die grootste stommerik van ander mense
ken jou bedagsaamheid en jou geduld geen grense.
En elke keer wanneer jy daardie seun afjak,
voel ek dat jy so onderlangs na my as moeder kap.
PERIANDROS
Melissa, ek het van jou tog meer begrip verwag
as die uitvaar oor foefies en betoë om aandag.
Maar al sou ek sondig, hoef jy nog nie met rokke
en reukwaters losbandig op die feeste ander mans te lok.
MELISSA
Nee, ek moet altyd vir my heer en meester leef,
en praat ’n ander man met my, dan kyk jy skeef.
Ek herhaal, soos dikwels: ek lok geen ander mans,
dis jy wat altyd eis dat ek moet geur en glans,
en kom bewondering, dan kom ook jou verwyt.
Jy en jou stad vertroetel die losbandigheid.
Jy versamel in Korinthe professionele boemelaars
wat hulself wysgere noem en groot kunstenaars;
wat strewe om gewone dinge altyd slim te sê –
dit smul en suip en skimp om langs mekaar te lê.
Jy rig ’n standbeeld en ’n silwertempel op ter ere
van die huwelik en die jaloerse, trotse Hera,
maar andersyds het jy die grofste slet beveilig,
selfs haar bestaan deur Aphroditee gewettig en geheilig.
PERIANDROS
Melissa, die heerser van ’n vrye en volwasse staat
moet die bestaan van elke soort daarin toelaat.
Ek het matrose en soldate, ander manne wat hard werk,
en raak die beloning in hul eie huis miskien beperk,
of ontbreek ’n eie huis, moet hulle nog die brame van geluk
by die gasvrye vroue van Korinthe kan gaan pluk.
MELISSA
Dis presies net wat ek sê! Jy troetel die losbandigheid,
maar my wil jy met Ganguloon en de joos weet wie verwyt.
Jy vereis van my: ek moet altyd kuis en keurig wees,
maar jy flankeer met ander vrouens op elke fees,
en sonder dat jy juis ag slaan op die fatsoen
vind jy regverdiging vir alles wat jy sê en doen.
PERIANDROS
Ek het vermoed waarna jou baie woorde stadig voer
en sien alreeds die skerpioene onder klippe loer.
MELISSA
Maar hoe sal ek ooit die vernedering en al die leed
wat jy met die klein Sappho my aangedoen het, kan vergeet?
Omdat sy ook gedigte skryf, kon julle vrylik praat
oor hoër dinge en was kamma net geestelike maats!
PERIANDROS
Ek het jou gesmeek: vergewe en vergeet. Probeer!
Ek kon die liefde toe, soos nou vir jou, nie keer.
MELISSA
Mens kan die skerwe van die gebreekte kruik vaslym,
maar die vertakte bars sal nooit daaruit verdwyn.
PERIANDROS
Moet jy my altyd weer aan dié geval herinner?
Selfs die straf van ’n misdadiger word daeliks minder.
MELISSA
Alles het om my verander, niks is soos dit hoort;
die dae sleep hul in verbittering en pyn net voort.
PERIANDROS
En nou wil jy jou op my wreek: met al die rokke
en skerp reukwaters ander mans na jou toe lok.
MELISSA
Al doen ek selfs ook dit, die polsing van die pyn
kan onder so ’n rok nie uit die hart verdwyn.
PERIANDROS
Asseblief, Melissa, laat ons wedersyds mekaar vergeef
en weer opreg probeer, soos vroeër, as bemindes leef.
MELISSA
Jy my vergeef? Jy is jaloers al bly ek my gedra
dat jy geen rede het om ooit te kla.
PERIANDROS
Ag, dit kom maar altyd, altyd terug op die verwyt,
waarop ek altyd net kan sê: Melissa, ek het spyt.
MELISSA
Jy vergeet: deur jou mag as heerser, krag as kunstenaar
word die bose van die mens in jou ’n dubbele gevaar.
Jy steur jou nie daaraan dat jy ook geen gedig meer skryf,
maar gee jou nou vrylik oor aan die leë, vuil bedryf
al óm die kuns: die klets oor kuns en brassery …
PERIANDROS
Ek wil en kan nie met jou oor dié sake stry,
want ek is radeloos gevange in ’n soek na prikkels
dat ek as digter en as heerser verder kan ontwikkel;