Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartklop Omnibus 4 - Malene Breytenbach страница 17
Met groot waardering loop Rafaella in die pragtige huis rond. Dit is tipies die soort ou Toskaanse villa wat sy in flieks soos My House in Umbria en Under the Tuscan Sun gesien het, net veel minder bouvallig. Eintlik is dit besonder goed in stand gehou. Sy loop deur die tuine op terrasse en gewaar tuiniers aan die werk. Die groot bome verkleur en die wingerde aan die ver hange ook. Oral sien sy mense in boorde werk. ’n Rooi trekker met ’n sleepwa dreun sag op ’n afstand. Laastens loop sy na die nuwe gebou en sien dat daar heelwat werkers besig is. Dit is nie so groot soos die hoofhuis nie, maar Giulio het gesê hy wil nie meer as agt mense op ’n slag huisves nie. Die werkers groet haar en sy stap in, kyk hoe hulle vloerteëls lê en kaste inbou. Alles is wit en skoon.
In ’n vierkant sien sy ’n binnenshuise swembad. Dit is nie baie groot nie en mans is besig om teëls om die kante te lê. Sy wens sy kon elke oggend hier kom swem.
Sy stap deur vertrekke wat reeds voltooi is en waar daar niemand anders is nie. Agter haar hoor sy voetstappe. Sy draai om en versteen. Dit is sowaar Luigi, wat vars en uitgerus lyk en stylvol aangetrek is in ’n beige linnebroek en -hemp. Hy vorm ’n volslae kontras met die werkers in hul vuil klere.
“Buongiorno, Rafaella,” groet hy met ’n wolfagtige grinnik. “Ek het verneem jy kom kyk na ons nuwe gebou, toe kom soek ek jou.”
“Is jy nie vroeër as gewoonlik uit die bed nie?” spot sy. “Ek het gehoor jy slaap gewoonlik die oggend om.”
“Nie vandag nie. Nie terwyl jy hier kuier nie. Jy lyk pragtig vanoggend. Ek dink altyd ’n mens moet ’n vrou in die helder daglig sien waar sy nie haar gebreke en vlekke onder grimering en sagte ligte kan wegsteek nie. Dan sien jy hoe sy werklik lyk. Ek gee jou hoë punte.”
“Vleier. Ek is darem nog jonk. Die plooie het nog nie vatplek gekry nie. Nie dat ek dink dit ontsier ’n vrou nie. Dit gee eerder karakter aan haar gesig.”
Hy grinnik weer soos ’n roofdier. “Jou vel is vlekloos, jou hare blink en jou oë skitter hemelblou. Jy is ’n baie mooi meisie.”
Ongemaklik en verleë oor die stroperige vleitaal wat so uit sy mond stroom, begin Rafaella deur toe stap. Hy haal haar in en vat haar regterarm vas.
“Het jy my gisteraand gehoor? Ek het vir jou kom sing.”
Ag, genade tog, dink Rafaella verskrik. Hier kom dit nou. Hy dink hy verower haar. Sy trek haar arm ferm los.
“Het jy tog nie vir mý gesing nie? Wat het ék gedoen om te verdien dat die wêreldberoemde tenoor my kom serenade?” Sy hou haar stem lig, spottend.
“ ’n Vrou soos jy sal ’n lied uit enige man tower.”
Luigi is ongemaklik naby. So naby dat sy ’n vlekkie in die blou van sy linker-iris sien en sy soeterige naskeermiddel ruik. Hy probeer weer aan haar vat. Sy tree terug, buite sy bereik.
“Ek skat jy moet maar van my vergeet, Luigi. Ek is nie beskikbaar nie. Buitendien kom Maria Vallerta môre aan en ek wil nie hê sy moet my oë uitkrap nie.”
Luigi kry ’n ergerlike en byna sluwe uitdrukking op sy gesig. Natuurlik is hy nie gewoond daaraan om summier afgewys te word nie.
“Maria het geen houvas op my nie,” sê hy. “Vir haar hoef jy nie bang te wees nie. Ek sal jou nog verower. Jy sal sien. Ek hou van ’n uitdaging.”
Ergerlik en baie ongemaklik kyk Rafaella uit die hoogte na hom. “Ek is nie ’n Vanessa nie, Luigi …”
“Vanessa? Wat weet jy van Vanessa af?”
“Giulio het my van haar vertel.”
“Waarom tog? Ek kon nie help dat sy op my verlief raak nie. Sy het agter my aangeloop soos ’n skoothondjie. Maar jy …”
“Ek probeer nie vir jou ’n uitdaging wees nie, Luigi. Ek waarsku jou om nie valse indrukke te kry nie. Ek is nie beskikbaar op die manier wat jy soek nie. Ons kan vriende wees, niks meer nie.”
Hy gee ’n blaflaggie, asof hy dink sy speel net hard to get, en loop by haar verby. Op daardie oomblik, terwyl sy weer ’n vlaag naskeermiddel ruik, hoor sy ’n kreet, iemand in pyn. Sy haas by hom verby, by die deur uit, om te sien wat aangaan. Hy volg op haar hakke. In ’n vertrek waar daar kaste ingebou word, sien sy ’n werker wat sy bloeiende hand versigtig voor hom in die lug hou. Hy het dit skynbaar raak gesaag met ’n elektriese saag. Ander werkers kom aangehaas, praat hard en deurmekaar.
“Hierdie vrou is ’n dokter,” roep Luigi hard bo die rumoer en hulle bly stil. “Sy sal help. Ek gaan iemand stuur met die mediese tassie.”
Hy draf uit. Die werkers kyk Rafaella verbaas, ongelowig aan.
“Kom, laat ek sien wat jy aangevang het,” sê sy paaiend en laat die man, wat krul van die pyn en jammerlik kreun, op die vloer sit. Sy hurk by hom en ondersoek die diep sny aan sy voorvinger. Die bloed stroom daar uit, maar sy sien hy het geensins deur die been gesaag nie.
“Jy kon jou vinger afgesny het, maar gelukkig sit hy nog,” terg-troos sy hom. Sy doen haar bes om die bloeding te keer met ’n skoon lap wat een van die ander mans vir haar gee, en deur drukking toe te pas. Alda kom hygend ingehardloop met die mediese tassie. Rafaella haal watte, ontsmetmiddel en verbande uit en vinnig het sy ’n skaflike verband prakseer. Nou nie wat sy in die hospitaal sou kon doen nie, maar darem.
“Hierdie is net voorlopig. Die vinger sal steke moet kry, en jy verloor bloed. Ons moet jou na ’n plek neem waar dit gedoen kan word.”
“Ek sal met hom jaag na dottore Giulio,” bied ’n man aan wat soos die voorman lyk. “Dis nie so ver nie.”
“Ja, gaan dadelik.”
Die man is nie so ernstig beseer dat sy hoef saam te gaan nie – hoe jammer tog. Sy stap egter saam na die bakkie en kyk hoe hulle wegjaag.
“Neem asseblief die tas weer terug,” sê sy vir die diensmeisie wat verskrik daar rondstaan. “Dankie dat jy dit so gou gebring het, Alda.”
“Is u werklik ’n dokter?” vra een van die mans wat haar nuuskierig staan en bekyk.
“Ja, ek is.”
Sy loop terug na die villa, bewus daarvan dat sy agternagekyk word. Luigi het wel vinnig gereageer, maar toe maak hy hom heeltemal uit die voete en kom nie eens weer kyk wat word van die werker nie. Rafaella vermoed hy is een van daardie mense wat nie bloed wil sien nie. Nie lief vir die werklikheid nie. Hy wil eerder in sy romantiese droomwêreld bly waar seerkry en sterftes net skyn is. Sy besef sy het bloed aan haar hande en ’n spatsel aan haar jeans. Luigi sou daarvoor gril. Sy sal haarself behoorlik gaan skoonkry in haar eie badkamer.
Vir Luigi sal sy beslis moet vermy, dink sy terwyl sy haar hande met geurige seep skrop. Hy het sy kaarte nou duidelik gewys en sy wil nie speel nie. Was dit maar Giulio wat haar vertel het hy wil haar verower! Dat sy vir hóm ’n uitdaging is. Maar hy sal haar nie so benader nie. Hy is vir háár ’n uitdaging.
Toe sy weer bloedvry is, gaan soek sy haar ouers en vind hulle op die terras waar hulle die vorige middag gesit het. Haar pa het ’n Italiaanse koerant beet en haar ma lees ’n boek.
“Hoe lyk die rusoord?” vra haar ma. “Ons moet vanmiddag gaan kyk.”
“Dit